Op die oog af is dit ’n doodgewone toneel van ’n ma wat haar kind in die oggend by die skool aflaai. Die vrou soen haar dogtertjie op die voorkop terwyl die kleinding gereed staan met ’n kossakkie in een hand en viooltassie in die ander.

Maar kyk jy fyner, besef jy iets hier is anders: Die ma op die foto’s is wêreldberoemd, en haar kind leef op die jong ouderdom van sewe reeds voorkeure uit wat die wêreld laat gons.

Charlize Theron het nog altyd haar aangenome kind toegelaat om soos ’n meisie aan te trek, hoewel sy as seuntjie gebore is. Niks was verbode nie – nie tutu’s of valletjiesrokke, balletskoene of blonde pruike nie.

Wat Jackson wou dra, het Jackson gedra – maak nie saak wat sosialisering, tradisie en vooroordele voorskryf nie. Daar was vanuit sommige geledere kritiek elke keer dat die kind in meisieklere in die openbaar verskyn.

Hoe kan Charlize haar seun so laat aantrek? het sommige mense gevra. Kritici het laat hoor sy swig voor Jackson se voorkeure nog voor haar kind groot genoeg is om self besluite te neem.

Charlize het die kritiek en bespiegeling altyd met ’n waardige swye verduur – maar nie meer nie.

Die Oscarbekroonde aktrise het onlangs vir die eerste keer haar hart oopgemaak oor hoekom sy haar aangenome seun toelaat om klere te dra wat tradisioneel vir meisies bedoel is.

“Ja, ek het ook gedink sy is ’n seuntjie. Tot sy drie jaar oud was en vir my kyk en sê: ‘Ek is nie ’n seuntjie nie!’ ” het die 43-jarige aktrise onlangs aan die Britse koerant Daily Mail gesê.

Sy het ’n paar dae later weer oor haar gesin gepraat, dié keer in The Graham Norton Show, waar sy voorbrand vir haar nuwe fliek, Long Shot, gemaak het.

“Ek maak twee pragtige, trotse swart meisies groot,” het sy gesê met verwysing na Jackson en die driejarige meisie August wat sy in 2015 aangeneem het. Charlize sê al wat sy wil hê, is dat haar kinders moet wees wie hulle wil wees, en sy sal hulle ten volle ondersteun.

“Hulle is gebore soos hulle is, en presies waar in die wêreld hulle hulle in die grootwordproses gaan bevind en wie hulle wil wees, is nie my besluit nie.”

Sy het ook oor herkoms gepraat. “Ek wil nie noodwendig my herkoms op hulle afdwing nie, maar ek het vir hulle twee baie oulike Afrikaanse liedjies oor beleefdheid geleer. Ek het vir hulle ’n bietjie Afrikaans geleer, maar dis ’n taal met ’n besonder ingewikkelde geskiedenis,” het sy gesê.

Charlize Theron het nog altyd haar aangenome kind toegelaat om soos ’n meisie aan te trek, hoewel sy as seuntjie gebore is. Foto: Gallo Images/Getty Images

Sy sê eindelik is haar werk as ouer om “my kinders te vier en lief te hê en seker te maak hulle het alles wat hulle nodig het terwyl hulle hul plek in die wêreld vind.

“Ek sal alles in my vermoë doen sodat my kinders dié reg kan hê, en ek sal dit beskerm.”

Daar was gemengde reaksies op Charlize se opmerkings. Aanlyn boelies het haar vinnig vir ’n “duiwel”, “onbevoegde ouer” en ’n “monster” uit- gekryt – maar daar was ook talle wat haar gesteun het.

Charlize se woorde het haar ontroer, sê Juno Dawson, ’n 37-jarige Britse skrywer wat fiksie vir jong volwassenes en niefiksie oor lesbiese, gay, biseksuele en trans (LGBT)-kwessies skryf.

“Dit het my in trane gehad. My lewe sou soveel anders gewees het as my ouers my net as kind toegelaat het om myself te wees. Neem my aan, Charlize,” het sy geskryf.

Amanda Jetté Knox, ma van ’n transgender kind, het die aktrise in ’n artikel in O Magazine geloof. “Hierdie openlikheid is ’n helder baken in donker tye.

“As meer gesinne trots staan by hul kinders wat trans-, niebinêre of niekonformerende gender is, sal dit ’n alledaagser ervaring word.” 

Susie Green van die Britse organisasie Mermaids, wat met genderdiverse jong mense werk, het haar ook geprys.

“Ouers word gedurig gekritiseer oor hulle hul gender-onkonvensionele kinders glo en hulle ondersteun om opreg te leef. Ons loof Charlize Theron dat sy na haar dogter luister.

Charlize en Jackson
Charlize sê al wat sy wil hê, is dat haar kinders moet wees wie hulle wil wees. Foto: Gallo Images/Getty Images

Kinders word alte dikwels geïgnoreer en hul gevoelens as irrelevant beskou.” En Charlize het duidelik nog nooit haar kinders se gevoelens afgemaak nie, selfs toe hulle baie klein was.

Sy het in haar onderhoud met Daily Mail gesê haar ma, Gerda Maritz (66), het haar gehelp om dinge hul gang te laat gaan. Haar ma, wat sy haar “mede-ouer” noem, het haar grootgemaak om altyd die waarheid te praat.

“Ek het grootgeword in ’n land waar mense met halwe waarhede en leuens en ’n gefluister geleef het. Niemand het reguit gepraat nie, maar ek is grootgemaak om nie so te wees nie.

“My ma het my geleer jy moet jou sê sê; wanneer hierdie lewe verby is, moet jy kan weet jy het geleef met die waarheid waarmee jy gemaklik is. En dat so ’n lewe tot niks negatiefs kan lei nie.”

Nog kinders wat self kan kies

Megan Fox het deurgeloop omdat sy haar seuns, Noah (6) en Bodhi (5), laat rokke dra het. Sy sê sy is in ’n streng godsdienstige huis grootgemaak waar die kerk alles voorgeskryf het, en sy gaan dit nie toelaat nie. “In my huis kan jy wees wat jy wil wees.” 

Meghan Fox
Megan Fox en haar seuns, Noah (6) en Bodhi (5). Foto: Greatstock/Backgrid

In 2017 is die Kanadese premier, Justin Trudeau, geloof toe sy seun, Hadrien, op Halloween ’n pienk rok dra. Hadrien, toe drie jaar oud, was soos Skye van Paw Patrol aangetrek. “Hy het daarop aangedring, en dit was in die haak met ons,” het Trudeau gesê.

 Justin Trudeau
Die Kanadese premier, Justin Trudeau. Foto: Gallo Images/Getty Images

Toe die sangeres Adele in 2016 saam met haar seun, Angelo (6), in Disneyland kuier, was dié soos prinses Anna van Frozen aangetrek. “Wat my kind ook al wil doen of wees, ek sal hom altyd ondersteun,” het sy aan Time gesê.

Adele
Adele in 2016 saam met haar seun, Angelo (6). Foto: Greatstock/AKM-GSI

Die aktrise Kate Hudson het onlangs onthul sy maak haar drie maande oue dogter, Rani, en haar seuns, Ryder (15) en Bingham (7), op ’n “genderlose” manier groot. “Ons weet nog nie as wat hulle hulle eendag gaan identifiseer nie.”

Die voormalige glanspaar Brad Pitt en Angelina Jolie ondersteun lank reeds hul 12-jarige Shiloh se besluit om soos ’n seun aan te trek. Shiloh was net vier jaar oud toe sy sê sy wil ’n seun wees, en Angie het die keuse as “fassinerend” beskryf. “Dis swak ouerskap om jou kinders te dwing om aan stereotipes te voldoen,” het sy gesê. 

Angeline Jolie en Shiloh
Angeline Jolie en haar dogter, Shiloh. Foto: Gallo Images/Getty Images

Bronne: Oprahmag.com, DailyMail.co.uk, Gaystarnews.com, Atlantablackstar.com, Self.com, Harpers Bazaar