Sy het hope talent, sy is ’n suksesvolle en skatryk Hollywood-ster en daarby is sy beeldskoon. Al wat Charlize Theron bly ontwyk, is liefde. Maar waarom?

Dit is nie asof die blonde skoonheid uit Benoni besluit het om ’n enkelloper te bly nie. Net mooi die teenoorgestelde is waar.

“Ek is al 10 jaar lank enkellopend; dis nie moeilik om my in die visier te kry nie,” het Charlize (43) in ’n onlangse onderhoud met Entertainment Tonight gesê.

“Iemand moet net sy sokkies optrek. Ek is skokkend beskikbaar.”

Die Oscarwenner is dalk beter met flieks as somme maak, want sy en Sean Penn (58), aan wie sy kortliks verloof was, se paaie het in 2015 geskei, net vier jaar gelede.

Of dalk het sy hom heeltemal buite rekening gelaat toe sy van daardie 10 jaar gepraat het. Maar selfs vier jaar is lank om alleen te wees volgens Hollywoodstandaarde.

Voor haar romanse met Sean was Charlize en die aantreklike Ierse akteur Stuart Townsend (46) agt jaar saam nadat hulle mekaar op die stel van die 2002-fliek Trapped ontmoet het.

Charlize Theron en haar eks
Charlize en Stuart Town­send was agt jaar saam. Foto: Gallo Images/Getty Images

Maar al is sy alleen, beteken dit nie sy is eensaam nie. Sy het immers haar hande vol met haar aangenome kinders, Jackson (7) en August (3).

Daar is ook nog die rits flieks waarin sy die afgelope ruk gespeel het, soos die draaiboekskrywer Diablo Cody se Tully en Long Shot, wat binnekort uitgereik word.

Daarin speel sy teenoor Seth Rogen as die vrou op wie hy as jong seun stilletjies verlief was, maar haar nou as president verkiesbaar gestel het.

Tog is daar in die langbeenster se hart ’n leemte wat geen trefferfliek of selfs twee oulike kinders kan vul nie, veral noudat Jackson en Auggie ouer word.

Charlize het ’n ruk lank romanse opsygeskuif om op haar kleingoed te fokus, maar nou is sy weer reg vir ’n man in haar lewe.

“Ek het met albei my kinders vir die eerste twee jaar glad nie in romanse belanggestel nie. Dit was nie eens ’n kwessie nie; dit was ’n geval waar my liggaamschemie en kop net op ’n plek wou wees waar ek 100% tevrede is met ma-wees. En toe . . . wel, verander dit nogal. Ek begin voel: ‘Goed, my dae van doeke en afveelappies is verby, en weet jy, ek is nou werklik gelukkig.’ ”

Charlize Theron en haar kinders
Met haar seun, Jackson, en haar ma, Gerda Maritz, agter haar. Foto: Gallo Images/Getty Images

Sy wou altyd graag ma word, met of sonder ’n man aan haar sy. Charlize het met Sean begin uitgaan ’n jaar nadat sy Jacks in 2012 aangeneem het, en volgens gerugte wou ook hy die seuntjie aanneem.

Maar nadat hulle in 2015 uitmekaar is, het Charlize gesê dit was nooit hul plan nie. “Ons verhouding was baie, baie nuut. Die stories dat Sean Jackson sou aanneem, was nie waar nie,” het sy in ’n openhartige onderhoud met WSJ. Magazine gesê.

“Dis nie iets wat binne 18 maande gebeur nie. Jy kan dit nie aan ’n kind doen nie.”

Sy het dit ook duidelik gestel dat sy ’n streep trek tussen haar liefdeslewe en haar kind se lewe.

“Daar was ’n verstandhouding dat ek ’n enkelma is met ’n klein seuntjie vir wie ek moes laat verstaan mamma gaan op afsprake uit, maar hy het nie ’n pa nie. Jy moet versigtig en eerlik wees oor daardie dinge. En Sean was wonderlik daarmee.”

Sean, die pa van twee kinders, Dylan (27) en Hopper (25), by sy eksvrou Robin Wright (53), het ook geweet Charlize het tydens hul romanse die bal aan die rol gesit om ’n tweede baba aan te neem.

“Ons het ’n duidelike verstandhouding gehad. Hy het geweet ek dink daaraan om nog ’n kind aan te neem, maar dat ons dit nie saam sou doen nie,” sê sy.

Dit was ook maar goed, want teen die tyd dat Charlize die Amerikaans gebore Auggie in 2015 aangeneem het, was Sean reeds uit die prentjie.

Charlize Theron en Sean Penn
Sy en Sean Penn het in 2015 uitgemaak ná twee jaar saam. Foto: Gallo Images/Getty Images

Gerugte het toe die ronde gedoen dat sy bloot uit sy lewe verdwyn het. Daar is ook gegis oor mishandeling van sy kant af, maar die verbrokkeling van hul verhouding was nie naastenby so dramaties soos mense dit laat klink het nie, sê sy.

“Dis nie nodig om sensasie daarvan te maak nie,” het sy aan WSJ gesê. “Wanneer jy ’n verhouding verlaat, moet daar alewig die een of ander f***** mal storie of drama wees. Ons was in ’n verhouding en toe werk dit net nie uit nie. Ons het albei besluit om uitmekaar te gaan. Dis al.”

Charlize het sedertdien nie met mans uitgegaan nie en ook nie met Brad Pitt (55) soos die skindertonge vroeër vanjaar beweer het nie.

Haar ma, Gerda Maritz (66), sit gelukkig hand by as “mede-ouer” van die kleingoed, iets waaroor Charlize baie dankbaar is. Haar ma woon “10 minute verder” in Los Angeles.

“Ek het geweet ek sou my ma se hulp nodig hê as ek ’n enkelouer sou wees,” het Charlize verlede jaar gesê.

“Dit sou ’n leuen wees om nie aan haar erkenning te gee as mede-ouer nie. En daar is wonderlike ooms en tannies in my kinders se lewe wat my en hulle steun.”

Selfs al het Charlize die ideale man ontmoet saam met wie sy ’n gesin kon begin, sou aanneming steeds haar eerste keuse gewees het. Sy het as jong kind selfs haar ma probeer oortuig om vir haar ’n boetie of sussie aan te neem.

“Toe ek die eerste keer aansoek doen om ’n kind aan te neem, het my ma my ’n brief gewys wat ek geskryf het toe ek klein was. Daarin vra ek of ons na die kinderhuis kan gaan,” het sy aan Elle vertel.

“Daar was oral kinderhuise in Suid-Afrika en ek wou ’n broer of suster hê. Ek was altyd daarvan bewus dat daar soveel kinders is wat nie gesinne het nie.”

Aanneming is “’n persoonlike ding”, sê sy, en al verstaan sy nie almal is daarvoor te vinde nie, weet sy dit was die regte besluit vir haar.

“Ek het nooit ’n verskil gesien tussen ’n aangenome kind grootmaak en my eie biologiese kind nie. Ek voel nie ek loop iets mis nie. Dit was altyd my eerste keuse, selfs toe ek in ’n verhouding was. Ek was eerlik met my lewensmaats dat ek bereid was om my eie kinders te hê, maar dat aanneming deel van my lewe moet wees. Ek het sterk daaroor gevoel.”

Natuurlik is daar uitdagings, veral in veelrassige gesinne. Sy en haar kinders bevind hulle dikwels in ’n ongemaklike situasie wanneer vreemdelinge hulle aanstaar, en Charlize vermoed dit het niks met haar roem te doen nie.

“Iemand het in die supermark aan my kind se hare gevat,” vertel sy onthuts.

“Stop net daar! Jy kan dit nie doen nie. Hoe sou jy voel as ek na jou stap en dit doen? Mense het goeie bedoelings, maar hulle sê die aakligste goed. Dis onkunde, ’n gebrek aan kennis. Ons moet behoorlik hieroor begin praat.”

Kommer oor rassespanning het haar al laat wonder of Amerika die beste plek is om Jacks en Auggie groot te maak.

“Daar is dele van Amerika waarheen ek nie saam met my kinders sal reis nie. Dikwels kyk ek na hulle en dink: As dit so aangaan, sal ek dalk (uit Amerika) moet padgee. Die laaste ding wat ek wil hê, is dat my kinders onveilig moet voel.” 

Bronne: ET Online, Daily Mail, Elle, Us Weekly, WSJ, People, SMH