In ’n nuwe onderhoud met Mirror verklaar die Oscar-wenner sy “weet nie of ek ooit weer saam met iemand sal kan bly nie”. 

Die 45-jarige aktrise het ’n dekade gelede met haar vorige saamwoonkêrel, die Ierse akteur Stuart Townsend (47), uitgemaak. En haar laaste hoëprofielromanse, met die akteur Sean Penn (59), het in 2015 ná twee jaar geëindig. 

“In alle eerlikheid, (as ek wel iemand vind) sal hulle dalk die huis langs myne moet koop. Ek weet nie of ek dit ooit weer sal kan f***** hanteer nie. Ek is te oud vir daardie k**," vertel Charlize.

View this post on Instagram

Lazy mornings feat. Johnny Utah ??

A post shared by Charlize Theron (@charlizeafrica) on

Die uitgesproke aktrise, wat nou in die Netflix-treffer The Old Guard te sien is, sê sy “voel nooit alleen nie”, maar is nie ongeneë om iemand te ontmoet nie. 

“Ek geniet dit as daar vir my afsprake gereël word. Ek doen wat ek skat almal anders daar buite doen. Ek is oop, ek het pret. Ek kan ’n prettige teksgesprek met iemand voer. Maar ek weet nie of ons sal (bed toe gaan) nie. Ek weet nie wat sal gebeur nie.”

Sy gee toe haar bedrywige lewe, wat ook insluit om haar dogters, Jackson (8) en August (4), alleen groot te maak, maak dit nie makliker nie.

“My lewe nou laat net nie baie ruimte toe vir iets soos (romanse) om te gebeur nie – iets wat reeds ongelooflik moeilik is om te bereik as jy nie ’n enkelma is nie. Maar bygesê, daar’s nie hierdie behoefte wat my aandryf nie.” 

Sy het ook die beste antwoord gehad toe haar jongste dogter onlangs vir haar sê sy “het ’n kêrel nodig”. 

“Ek was in die motor saam met my twee dogters en my kleintjie het iets gesê soos: ‘Jy het ’n kêrel nodig!’ En ek het gesê: ‘Eintlik het ek nie. Ek voel op die oomblik baie goed,’ en sy het geantwoord: ‘Maar weet jy wat, ma? Ek dink net jy het ’n kêrel nodig, jy het ’n verhouding nodig.’ En ek het geantwoord: ‘Ek is in ’n verhouding. Ek is nou in ’n verhouding met myself',” het sy tydens ’n onderhoud op die modeontwerper Diane von Furstenberg se podsending InCharge gesê.

Terwyl sy haar dogter se reaksie beskryf het, het Charlize gesê: “Sy het hierdie kyk in haar oë gehad asof sy nog nooit eintlik oorweeg het dat dit eens ’n moontlikheid is nie en ek het gesê: ‘Dit is ’n baie belangrike ding vir julle ouens om te weet’.”

Bronne: dailymail.co.uk, eonline.com, InCharge, The Mirror