Met haar pofferige gesig, pap boarms en boepie herken ’n mens haar skaars in die lokprent van twee minute. Kan dit wees? Is dit regtig . . . ?

Maar ja, dit is Charlize Theron. En die Oscar-wenner (42) moes kliphard werk om haar lieflike lyf prys te gee vir haar jongste fliek, Tully.

In dié komediedrama – wat van 11 Mei af in Suid-Afrikaanse flieks te sien is – speel dié boorling van Benoni Marlo, ’n ma van drie wat haar hande vol het met ’n onbevoegde lewensmaat, beroerde geldsake en gewigsprobleme.

Alles verander toe Marlo se ryk broer vir haar ’n nagoppasser, Tully, laat kry met wie sy mettertyd ’n hegte band vorm.

In haar jongste fliek speel Charlize die vermoeide ma Marlo.

Dit klink na die lekkerste opdrag op aarde: Eet net wat voorkom sodat jy binne drie en ’n half maande 22 kg aansit. Sy het haar bes gedoen om die kilo’s te laat aanpak deur weg te lê aan kitskos en gaskoeldrank en ver weg te bly van die gim.

“Dit was heerlik om te gaan ontbyt eet by (die kitskosplek) In-N-Out Burger en dan sommer twee melkskommels ook weg te slaan,” het sy in ’n onderhoud met Entertainment Tonight vertel. Maar kort voor lank het dit moeilik begin raak om met die etery vol te hou.

“Ná drie weke is dit glad nie meer snaaks nie; toe’t dit net harde werk geword. Ek moes selfs die wekker stel om die koue macaroni-en-kaas langs my bed te eet, want dit was swaar om die gewig te handhaaf.

“Ek het wakker geword en net geëet, die kos eenvoudig in my keel afgedruk.”

Die eetpatroon het nie net haar lyf beïnvloed nie; haar gees het ook daaronder gely.

“Dit was ’n groot verrassing. Depressie het my hard geslaan. Vir die eerste keer in my lewe het ek so baie fabriekskos geëet en so baie suiker gedrink.”

Boonop het haar nuwe lyf haar twee kinders, Jackson (6) en August (2), verwar. Albei het blykbaar in ’n stadium gedink hul ma is swanger.

Veral haar kleintjie was daarvan oortuig daar was “ ’n baba in my maag”, het Charlize vertel.

Vir haar bekroonde spel as Aileen Wuornos in Monster (2003) moes sy ook ’n paar groottes uitsit.

Sy erken om die gewig weer ná die verfilming van die fliek af te skud was “hel” en het haar 18 maande gevat. Charlize vertel sy was bekommerd dit sou dié keer lank duur om weer haar normale gewig te bereik.

Vir haar Oscarbekroonde vertolking van die reeksmoordenaar Aileen Wuornos in Monster (2003) moes sy ook gewig aansit, maar agterna het sy net peuselhappies gelos en sommer vinnig die vet afgeskud.

“’n Mens se lyf is natuurlik op 27 effens anders as op 43,” verduidelik sy.

“My dokter het my ook baie bewus gemaak daarvan: ‘Jy’s ouer; kalmeer, alles sal regkom.’ ”

Nes met Monster moes Charlize weer meer doen as net gewig aansit. Sy het kunstande gedra en onherkenbaar gelyk.

Vir Monster is die aktrise se hare uitgedun, haar wenkbroue halfpad afgeskeer en gebleik, haar spierwit tande onder kunstande weggesteek en haar vel behandel om haar verslons te laat lyk.

Maar Charlize se toewyding aan die rol van Marlo werp ook vrugte af: Resensente loof haar “dapper, glanslose” spel.

“Theron se vertolking is vreesloos, emosioneel rou en fisiek intens,” skryf die tydskrif Vanity Fair se Owen Gleiberman.

“Sy laat ons sien hoe ’n vrou voel: dat om die lewe te skenk en dit te onderhou die lewe uit haar laat wegdreineer.”

In die regte lewe laat Charlize ma-wees dikwels maklik lyk. Die ster is versot op haar twee aangenome kinders, en op hul gesinsuitstappies lyk die drie dolgelukkig.

Sy vertel nadat haar verhouding van nege jaar met die akteur Stuart Townsend (45) in 2011 geëindig het, het sy ’n allesoorheersende drang na kinders begin voel.

In 2012 het sy Jackson aangeneem, en August drie jaar later. Nes Marlo het Charlize ná Jackson se koms geweier om ’n oppasser te kry.

“Ek wou alles self doen, want ek het gedink as ek dit nie self kan doen nie, is ek ’n slegte ouer.”

Maar met August se koms het sy nie net ’n oppasser in diens geneem nie; sy het ook gevra dat familie en vriende hand bysit.

“Ek het besef ek én my kinders is gelukkiger wanneer ek meer hulp vra.”

Hoewel sy ’n enkelma is, beskou sy haar ma, Gerda Maritz, as die medeouer.

“Dit sou oneerlik wees om haar nie as my kinders se medeouer te erken nie,” het sy al gesê. “Ek sou sielsalleen gevoel het sonder ’n makker aan my sy.”

Haar gesin is onkonvensioneel; haar lewensbeskouing ook. Charlize was nog nooit skaam om haar kinders op haar manier groot te maak nie.

Jacks – haar troetelnaam vir haar seun – word dikwels in die openbaar in balletrokkies en blink skoentjies gesien, en by sy nuwe skool dra hy die meisies se uniform.

Daar is ook foto’s van hom met ’n pienk rokkie aan en pienk linte deur sy hare gevleg.

“Baie ma’s het my al vertel ek maak droog,” sê sy reguit.

“Gelukkig het ek nog nooit ’n duit omgegee wat mense van my dink nie. Dis al kenmerk wat ek het wat my dalk gehelp het om ’n ma te wees.”

Die ster is vasbeslote om haar kinders groot te maak met ’n bewustheid van belangrike sake, veral oor die tydsgees en omstredenheid van die Trump-era.

“Omdat ek in Suid-Afrika se apartheidsera grootgeword het, is ek hiperbewus van gelykheid en menseregte,” vertel sy.

“Ek het twee swart kinders; (gelykheid en menseregte) is iets waaroor ek nog altyd passievol was.

Soos ons haar ken: slank en glansryk.

“Ek weet nie eens hoe om te praat oor die afgelope jaar onder (Amerika se) nuwe regering nie.

“Maar rassisme is meer lewend as wat mense ooit gedink het. Ons moet dit erken en ons daaroor uitspreek.

“Toe ek hulle huis toe bring, het ek my voorgeneem om my kinders selfvertroue te leer. Hulle moet weet waar hulle vandaan kom en trots wees daarop.”

Nadat sy en die akteur Sean Penn (57) drie jaar gelede uitmekaar is, het Charlize taamlik laaggelê wat die liefde betref.

Maar verlede Julie het die skoonheid in ’n onderhoud met die Amerikaanse radio- en TV-persoonlikheid Howard Stern vreeslik aangegaan oor ’n baie “cool dude” met wie sy ’n afspraak gehad het – ’n romantiese stappie van 14,5 km in die maanlig.

Tog het daar nie veel van gekom nie, want net ’n paar maande later het sy ’n ander deuntjie gesing.

Tydens ’n onderhoud met Ellen DeGeneres het Charlize vertel hoe ’n vriendin, die komediant Chelsea Handler, haar aangepor het om ’n maatsoek-app vir sterre te kry.

Sy het gesê sy is eenvoudig te ongemaklik om so aanlyn met iemand te flankeer.

“Dis hoekom ek nog enkellopend is: Ek verkies dat ’n goeie ou vriend of vriendin ’n mens aan iemand voorstel.

“Ek is maar outyds.”

Bronne: Daily Mail, Elle.Com, Us Weekly, Entertainment Tonight, Variety.Com, Indiewire.Com; Foto's: Gallo Images/Getty Images. Elite Photo Agency, Gallo Images/AFP, Focus Features