Chrissy Teigen en John Legend het hul babaseuntjie
Chrissy Teigen en John Legend het hul ongebore babaseuntjie verloor. Foto: Gallo Images/Getty Images/Instagram (@chrissyteigen)

Chrissy het vyf hartroerende swart-wit foto’s gedeel, waaronder een waar sy en John hul seuntjie vashou. Daarby het sy ’n roerende boodskap gedeel: 

“Ons is geskok en in die soort pyn waarvan jy net hoor, ’n pyn wat ons nog nooit ervaar het nie. Ons kon nie die bloeding keer en vir ons baba die vloeistowwe gee wat hy nodig het nie, ten spyte van sakke en sakke bloedoortappings. Dit was net nie genoeg nie,” skryf Chrissy in 'n inskrywing aan haar 31,5 miljoen Instagram-volgelinge. 

“Ons besluit nooit op ons babas se name tot die laaste oomblik ná hul geboorte nie, net voor ons die hospitaal verlaat. Maar, om die een of ander rede, het ons die klein mannetjie in my maag Jack begin noem. So hy sal altyd Jack wees vir ons. Jack het so hard gewerk om deel van ons gesin te wees, en hy sal vir ewig deel wees van ons," skryf sy.

“Aan ons Jack – ek is so jammer dat die eerste paar oomblikke van jou lewe gevul was met so baie komplikasies, dat ons nie vir jou ’n huis kon gee om te oorleef nie. Ons sal altyd lief wees vir jou.

“Dankie aan almal wat vir ons positiewe energie, gedagtes en gebede gestuur het. Ons voel jul liefde en waardeer julle opreg," skryf sy verder.

“Ons is so dankbaar vir die lewe wat ons het, vir ons wonderlike babas Luna en Miles, vir al die ongelooflike dinge wat ons kon ervaar. Maar elke dag kan nie gevul wees met sonskyn nie. Op hierdie donkerste van dae, sal ons rou, sal ons ons oë uithuil. Maar ons sal mekaar vasdruk en nog meer liefhê en daardeur kom," eindig sy die inskrywing. 

Chrissy en John, wat in 2013 getroud is, het in Augustus in die musiekvideo vir John se enkelsnit “Wild” onthul sy is swanger met hul derde kind.

Chrissy is Sondagaand in die Cedars-Sinai-hospitaal in Los Angeles opgeneem nadat sy ’n maand lank ernstige bloeding ervaar het. Sy het Maandag aan haar volgelinge in die sosiale media vertel dat sy op voorgeskrewe bedrus geplaas is. Sy het ook genoem dat sy ongeveer halfpad deur haar swangerskap is, berig Daily Mail. 

Die verlies van ’n baba ná 24 weke word as stilgeboorte beskou, maar as dit voor 24 weke gebeur word dit as ’n miskraam hanteer.  

Kort nadat sy die nuus op Instagram gedeel het, het Chrissy in ’n twiet geskryf: “Ry nou huis toe van die hospitaal af met geen baba. Hoe kan dit werklik wees.”

Chrissy en John het voor hul eersteling, Luna, se geboorte in 2016 openlik gepraat oor hul pad met in vitro-bevrugting en vrugbaarheidsprobleme. Sy het vele rondes van in vitro-bevrugting ondergaan voor sy met Luna swanger geraak het.  

View this post on Instagram

no day is ever the same!

A post shared by chrissy teigen (@chrissyteigen) on

John het later sy vrou se Instagram-plasing op sy eie Twitter-profiel gedeel. Daarby het hy geskryf: "Ons is lief vir jou, Jack", en vyf swart hartjies geplaas. 

Vele van John en Chrissy se Hollywood-vriende het hul medelye betoon. 

Die aktrise Gabrielle Union, wat in die verlede self gepraat het oor die miskrame wat sy beleef het, het geskryf: “Ons is so lief vir julle en ons sal altyd hier wees vir wat julle ook al nodig het. Altyd.”

Die model Hailey Bieber, wat met die sanger Justin Bieber getroud is, het gesê: “Ek is so, so jammer. Ons dink aan jou en John, ons bid vir julle en stuur ons liefde aan julle.”

Bronne: Daily Mail, E! Online, Hello!