Die voormalige model en kok se kookgerei is van verskeie Amerikaanse kleinhandelaars se rakke verwyder nadat ’n rits twiets wat sy jare gelede gedeel het kop uitgesteek het. 

Kopers het die afgelope naweek opgemerk Chrissy (35) se Cravings-kookgerei is as “onbeskikbaar” gemerk op die kleinhandelaar Macy’s se webtuiste. Dis ook verwyder van Target se webtuiste, maar hulle het volgehou dit was ’n wedersydse besluit wat voor die twiet-drama geneem is.

View this post on Instagram

A post shared by Cravings (@cravingsbychrissyteigen)

Target het deurgeloop nadat die Amerikaanse model Courtney Stodden onlangs skokkende twiets gedeel het wat Chrissy in 2011 vir haar gestuur het, en talle aanhangers het gesê hulle gaan Target boikot as hulle nie ophou om Chrissy se produkte te verkoop nie. 

Courtney was net 16 en het deurgeloop in die openbaar vir haar huwelik met die toe 50-jarige akteur Doug Hutchison.

Chrissy het in ’n twiet aan Courtney geskryf: “My Vrydag-fantasie is: Jy. Dirt nap. Mmm.” ’n Dirt nap verwys na ’n gestorwe persoon se begrafnis. In nog ’n twiet skryf Chrissy: “Gaan slaap. Vir altyd.”

Die model Courtney Stodden het onlangs vir Chrissy
Die model Courtney Stodden het onlangs vir Chrissy uitgelig oor afknouery op Twitter toe sy net 16 jaar oud was. Foto: Gallo Images/Getty Images

Courtney (nou 26) het intussen vertel Chrissy het haar nie net met openbare twiets geteiken nie, maar ook met privaat boodskappe.

“Chrissy het nie net in die openbaar gesê sy wil hê ek moet ’n ‘dirt nap’ vat nie, sy het ook vir my privaat boodskappe gestuur en gesê ek moet myself doodmaak. Goed soos: ‘Ek kan nie wag vir jou om dood te gaan nie’.”

“Sy het my geteister. Sy het my geboelie, en hou in gedagte ek was minderjarig. Sy het my ’n h*** en slet genoem en gesê sy haat my. Ek is elke naam in die boek genoem.”

Chrissy, wat twee kinders, Luna (5) en Miles (3) by die sanger John Legend (42) het, het intussen innig verskoning gevra. “Ek was onseker van myself en ’n aandagsoekerige boelie. Ek is skaam en verleë oor my gedrag, maar dis niks teenoor hoe ek Courtney laat voel het nie. 

“Ek het probeer om privaat met Courtney in verbinding te tree, maar aangesien ek dit in die openbaar begin het, wil ek ook in die openbaar jammer sê. Ek is so jammer, Courtney. Ek hoop jy kan genees met die wete van hoe opreg jammer ek is.”

Maar dit lyk of die skade aan die voormalige model se reputasie gedaan is. 

Internetgebruikers het in Chrissy se verlede gedelf op die sosialemediaplatform waar sy byna 14 miljoen volgelinge het. En dit lyk asof Courtney nie die enigste bekende is vir wie Chrissy met gemene twiets geteiken het nie.

Quvenzhané Wallis

Quvenzhané Wallis
Quvenzhané Wallis Foto: Gallo Images/Getty Images

Die kinderster was net nege jaar oud toe sy in 2013 vir ’n Oscar vir beste aktrise benoem is vir haar rol in die fliek Beasts of the Southern Wild.

Op haar groot aand het aanhangers gekoer oor hoe skattig die kleinding was toe sy die glansgeleentheid bygewoon het. Nie Chrissy nie. Sy het gesê sy “word gedwing om te hou van” Quvenzhané en het haar “verwaand” genoem.

Mariah Carey

Mariah Carey
Mariah Carey Foto: Gallo Images/Getty Images

Toe daar in 2010 aangekondig is Mariah is swanger met haar tweeling, Monroe en Moroccan, het Chrissy reageer met ’n wrede opmerking oor Mariah se gewig. 

“Hoekom is enigeen verbaas dat Mariah ’n tweeling verwag? Ek was altyd doodseker daar groei twee tot 15 babas in haar,” het Chrissy destyds getwiet.

Lindsay Lohan

Lindsay Lohan
Lindsay Lohan Foto: Gallo Images/Getty Images

Chrissy het in ’n aantal twiets gespot met Lindsay se geestesprobleme en regskwessies.

Sy het in 2011 getwiet: “Ek kan nie wag om saam met John hof toe te gaan om teen hierdie k** te baklei nie. @lindsaylohan wat moet ek aantrek, jy ken mos jou storie. Help.”

Sy het dieselfde jaar ook geskryf: “Lindsay maak nog ’n paar snye in haar polse wanneer sy vir Emma Stone sien.”

Avril Lavigne

Avril Lavigne
Avril Lavigne Foto: Gallo Images/Getty Images

Chrissy – wat openlik praat oor hoe moeilik dit was om swanger te raak – het in 2011 getwiet sy sou eerder onvrugbaar wees as om kinders soos die sangeres te hê.

“As jy vir my sou sê ek kan een kind kry, maar hulle sou presies wees soos Avril, sou ek ’n steriele bestaan kies wat eindig wanneer ek sterf.”

Sarah Palin

Sarah Palin
Sarah Palin. Foto: Gallo Images/Getty Images

Chrissy het nie doekies omgedraai toe sy die voormalige goewerneur van Alaska en adjunkpresidentskandidaat gevra het om haar eie lewe te neem nie. 

“Luister. Ek vra nie baie van Sarah Palin nie. Ek wil net hê sy met haar foute erken voor sy haarself in die gesig skiet. Is dit verkeerd?”

Farrah Abraham

Farrah Abraham
Farrah Abraham. Foto: Gallo Images/Getty Images

Farrah van Teen Mom-faam het ook deurgeloop. Farrah het in 2013 ’n seksvideo met die porno-ster James Deen gemaak en is later afgeneem toe sy ’n swangerskapstoets koop. 

“Farrah Abraham dink nou sy is swanger van haar seksvideo,” het Chrissy getwiet. “In ander nuus, jy’s ’n h*** en almal haat jou. Oeps, dis niks nuut nie. Jammer.”

BRONNE: THESUN.CO.UK, DAILYMAIL.CO.UK, NEWS.COM.AU, VARIETY.COM, SLATE.COM, MIRROR.CO.UK