Die model Chrissy Teigen het onder kritiek deurgel
Die model Chrissy Teigen het onder kritiek deurgeloop nadat sy haar miskraam openlik in die sosiale media gedeel het. Foto: Instagram (@chrissyteigen)
Die model Chrissy Teigen het onder kritiek deurgel
Die model Chrissy Teigen het onder kritiek deurgeloop nadat sy haar miskraam openlik in die sosiale media gedeel het. Foto: Instagram (@chrissyteigen)

Woordeloos beeld dié hartverskeurende foto’s die smart uit oor ’n jong lewetjie wat nog voor sy eerste asemteug kortgeknip is.

Op 20 weke is die Amerikaanse model Chrissy Teigen (34) en haar sanger-man, John Legend (41), se “wonderwerkbaba” doodgebore.

Chrissy Teigen kap terug nadat sy gekritiseer is o
Chrissy Teigen kap terug nadat sy gekritiseer is oor haar keuse om haar mis­kraam te dokumenteer. Foto: Gallo Images/Getty Images

Ná jare van vrugbaarheidsprobleme is hy natuurlik verwek, terwyl sy ousus, Luna (4), en ouboet, Miles (2), albei proefbuisbabas was.

Maar toe moes die blye afwagting plek maak vir bitter teleurstelling en ’n hartseer so diep en vir ander soms onbegryplik dat talle vroue in dieselfde posisie dit liewer in stilte verduur.

Maar nie Chrissy nie.

Sy het die roerende foto’s in die sosiale media gedeel – ook een van haar Thais gebore ma, Vilailuck, wat ’n Thaise gebed opsê terwyl sy huil oor die kleinseun wat sy nooit sal sien grootword nie.

Dit het sosialemediagebruikers aangegryp, maar ook ontstel. En terwyl party haar bemoedig en ondersteun het, het ander hul gifpenne uitgehaal.

“ ’n Hospitaalfoto nadat jy jou baba verloor het, is omtrent so narsisties soos kan kom,” reken ’n Twittergebruiker.

“Wie neem ’n foto van hul diepste pyn en deel dit dan met vreemdelinge?” vra ’n ander. “Wil ander vroue/ouers so aan die verlies van ’n kind herinner word?” wil nog een weet.

Chrissy het ’n ruk lank oor die kritiek geswyg terwyl sy en John hulle afgesonder het om oor hul babaseun te rou.

View this post on Instagram

We are quiet but we are okay. Love you all so much.

A post shared by chrissy teigen (@chrissyteigen) on

Maar kort voor ons druktyd het sy daaroor teruggekap en haar besluit in ’n blogplasing verduidelik – en daarmee het sy ’n seer onderwerp waaroor baie vroue swyg weer aangrypend aangeroer.

“Ek het nie die woorde om te sê hoe min dit my skeel dat julle die foto’s haat nie,” skryf sy in haar onlangse blog. “Hoe min dit my skeel dat dit iets is wat julle nie sou gedoen het nie.

“Hierdie foto’s is nie vir enigeen nie; dis vir die mense wat dit deurleef het of wat weetgierig genoeg is om te wonder hoe dit is om so iets te ervaar.”

Sy deel so te sê alles oor haar lewe in die sosiale media – en die blye nuus dat sy en John hul derde kind verwag het, was geen uitsondering nie.


Chrissy en haar sanger-man, John Legend, by hul ki
Chrissy en haar sanger-man, John Legend, by hul kinders, Luna en Miles. Foto: Instagram (@chrissyteigen)

Maar probleme met die swangerskap het gou hul vreugde gedemp. Uit die staanspoor het sy bloeding ervaar en haar kommer met haar 32,9 miljoen Instagramvolgelinge gedeel. Toe dit vererger, is sy in die hospitaal opgeneem vir bedrus en bloedoortappings.

“My dokters het gedeeltelike plasenta-abrupsie by my gediagnoseer,” vertel Chrissy in haar inskrywing. ’n Abrupsie beteken die plasenta kom van die binnewand van die baarmoeder los, waardeur bloeding veroorsaak word.

“Ek het altyd plasentaprobleme gehad. Ek moes ’n maand vroeg aan Miles die lewe skenk, want sy maag het nie genoeg kos van my plasenta gekry nie. Maar dit was my eerste abrupsie.

“My bloeding het swaarder en swaarder geword. Die vog om Jack het baie min geraak – hy kon skaars daarin ronddryf. Soms het ek gesweer dit was so min dat ek op my rug kon lê en sy arms en bene van buite my maag voel.”

Chrissy kyk toe terwyl ’n sonar gedoen word. Foto:
Chrissy kyk toe terwyl ’n sonar gedoen word. Foto: Instagram (@chrissyteigen)

Eindelik het haar dokter vir haar die onvermydelike nuus gebring: Dit is tyd om afskeid te neem. As die swangerskap langer sou voortduur, kon dit haar lewe in gevaar stel.

“Ek sou ’n epiduraal kry en geïnduseer word om aan ons 20 weke oue seun die lewe te skenk, ’n seun wat nooit in my maag sou oorleef het nie,” vertel sy verder.

“Laat een nag is vir my gesê die oggend sou dit tyd word om hom te laat gaan. Ek het eers ’n bietjie gehuil en toe volskaalse stuiptrekkings gekry. My asem kon nie by my eie ongelooflike diep smart byhou nie.”

Sy het John gevra om foto’s te neem, al kon sy sien hy haat dit.

“Dit het nie toe vir hom sin gemaak nie, maar ek het geweet ek moet vir altyd van hierdie oomblik weet, op dieselfde manier dat ek ons soen in die paadjie kansel toe onthou of ons trane van vreugde ná Luna en Miles se geboortes.”

Sy sê sy wou wag tot sy geweet het daar was glad geen hoop meer dat Jack sou oorleef nie, en later daardie nag het sy besef sy moet alle hoop laat vaar. “Ek het badkamer toe gegaan, in die toilet afgekyk en weer begin huiI. Die hoeveelheid bloed en klonte het presies vir my gewys waarvoor ek gewag het. Dit was tyd.”

Die geboorte self op 30 September was taamlik gou verby – ’n epiduraal, dokters wat vir haar sê sy moet druk en toe is hy uit.

Chrissy het die verpleegster gevra om die baba vir haar te bring. Sy het sy piepklein handjies en voetjies “oor en oor” gesoen.

“Ek weet nie hoe lank hy gewag het om verlos te word nie. Dit sal waarskynlik altyd by my spook. Net om dit te skryf laat my neus en oë van trane prikkel. Al wat ek weet, is sy as is in ’n klein boksie en wag om in die grond van ’n boom by ons nuwe huis gesit te word, die een wat ons gekoop het met sy kamer in gedagte.

“Mense sê ’n ervaring soos dié laat ’n gat in jou hart. Daar is beslis ’n gat, maar dit is gevul met die liefde van iets wat ek baie liefgehad het. Hierdie ruimte voel nie leeg nie. Dit voel vol.”

Sy sê haar kinders weet hulle het ’n broer, Jack,
Sy sê haar kinders weet hulle het ’n broer, Jack, gehad. Foto: Instagram (@chrissyteigen)

Chrissy sê sy sal nooit spyt wees dat sy ’n gesprek oor voorgeboortelike verlies op tou gesit het nie. Deur haar eie verhaal te deel veg sy teen die stigma wat dikwels aan ’n miskraam of doodgeboorte geheg word.

Sy hoop om daardeur talle ouers in rou te help om deel van die wêreld te voel in ’n tyd waarin hulle maklik ’n gevoel van afsondering kan ervaar. Sy voel dikwels oorweldig deur die goedheid van vreemdelinge, vertel sy. Party sit in die supermark blomme in haar waentjie of stop haar stilweg ’n briefie van meegevoel in die hand.

“Die ergste deel is die wete dat daar soveel vroue is wat nie hierdie stil oomblikke met vreemdelinge sal beleef nie. Ek pleit by julle om asseblief jul stories te deel en goedhartig te wees teenoor dié wat hul hart uitstort.”

Dan sluit sy af: “Wees oor die algemeen goedhartig, want party sal glad nie hul hart uitpraat nie.”


WAAROM DIE STILSWYE?

Tot 20% van swangerskappe eindig in ’n miskraam; tog word dit steeds in geheimhouding gehul. Vroue voel baiekeer ongemaklik om daaroor te praat, sê Michelle Groenewald, medestigter van Empty Wombs Pregnancy Loss and Baby Loss Support. “Daar’s ’n gebrek aan aanvaarding van die rouproses, want ’n vrou kry die gevoel dat sy nie ‘toegelaat’ word om te rou oor ’n kind wat sy dalk nooit vasgehou het nie en wat sy nooit sal leer ken nie.”

Maar hul verlies is steeds groot. “Daar’s nie ’n regte manier om te rou nie,” voeg sy by. “Die regte manier is jou eie manier, op jou eie tyd.” Vroue word dikwels aangeraai om die nuus van hul swangerskap eers ná 12 weke met geliefdes te deel omdat die risiko vir ’n miskraam die grootste in die eerste trimester is.

“Maar daardie geheimhouding beteken dat vroue wat wel in daardie 12 weke ’n miskraam het dalk nie die nodige steun van die mense die naaste aan hulle sal kry nie,” sê Michelle.

Hoe reik jy uit na iemand wat ’n miskraam gehad het? Erken haar verlies sonder om jou toevlug te neem tot clichés soos “ten minste weet jy nou jy kan swanger raak”, sê Michelle. “Erken haar pyn opreg en vra of daar enigiets is wat jy kan doen om te help.”

En gee dit tyd – dis dikwels ’n groot verlies om te verwerk, en vroue moet die ruimte gegun word om op hul eie manier daaroor te rou.


BRONNE: chrissyteigen.medium.com, mailonline.com, eonline.com, independent.co.uk

Kom neem deel aan die gesprek

Volg Huisgenoot op Facebook, Twitter, Instagram en TikTok, en teken gerus in op ons nuusbriewe