Die paartjie wat al 18 jaar saam is, koer gereeld in die sosiale media oor hul liefde vir mekaar, maar dié boodskap was veral spesiaal.

“Ons het al vir 18 jaar die wêreld saam aangevat en vandag is ons 12de huweliksherdenking (ja, ons is so oud)!” skryf Christi op Instagram.

“Ons droom om byvoorbeeld saam oud te word, is stadig maar seker besig om waar te word. Jy is ’n seëning in God se koninkryk, ’n ware heer, ’n (agter geslote deure) komediant, ’n oorvloed van kennis en wysheid, ’n filantroop, talentvolle kunstenaar, gebore vermaaklikheidster, fenomenale voorsiener, verspotte, spelerige, maar baie gerespekteerde super-pa, en meerendeels ’n man van eer. Dankie dat jy my gekies het @nicopanagio,” skryf sy by ’n foto van hulle twee saam.

Die paartjie het in hul huwelik van 12 jaar die trotste ouers geword van twee aangenome dogters, Evah (7) en Shay (5).

Een van die belangrikste bestanddele van hul verhouding is om saam te lag, het Nico (44) vroeër in ’n onderhoud met Huisgenoot vertel. 

#Adoption is not a gift you GIVE it’s a gift you RECEIVE

A post shared by Nico Panagio (@nicopanagio) on

“Dis ’n seëning om nog so verlief te wees,” het hy al vir ons vertel. “Ek dink wanneer ek 90 is, sal ek nog haar McSteamy wees en sy my honey. Sy raak net mooier met tyd,” het hy al vertel oor sy vrou.

Hulle het “movie love”, het Christi al aan ons vertel. “Nico is net ’n droomman.”

Hul geloof is die gom van hul huwelik, vertel sy.

“Ons is baie gelukkig dat ons presies saamstem oor hoe ons ons kinders grootmaak, hoe ons die lewe beskou, waarin ons glo . . . As jy dit van die begin af reg doen, bou jy daardie fondament.” 

Die twee koer ook gereeld oor en weer in die sosiale media.

Christi (40) het in 2017 op Vadersdag ’n boodskap aan haar man op Instagram gedeel en daarby geskryf: “Beste pa ooit”. 

Nico is ook nie skaam om te wys hoe baie hy sy vrou waardeer nie.

Hy het in November verlede jaar op Christi se 40ste verjaardag ook ’n spesiale boodskap aan haar gedeel.

“Dié een is spesiaal. Om vir ewig gekoester te word. ’n Houer vir die lig van ons Vader. Sy is sonskyn. Sy is ’n see van trane en berge van gelag. Sy is lig. Sy is ’n ‘ma van God’ en die ongelooflikste vrou…Gelukkige 40ste verjaardag ons wêreld. Sonder jou is ons verlore,” het Nico by die foto van sy vrou op Instagram gedeel. 

Die twee bewys dat daar steeds ware liefde bestaan. Baie geluk julle twee!