Dis hoe die lewe deesdae vir die voormalige model en aktrise Christina Storm-Nel en haar gesin lyk nadat hulle ses maande gelede van Johannesburg na St. Francisbaai in die Oos-Kaap verhuis het. 

Dis presies wat sy en manlief, Paul Nel, vir hul kinders, Evie (4) en Vincent (2), asook vir Ruby (14), Christina se dogter uit haar verhouding met die voormalige Springbok James Small, wou hê. Paul se dogter, Erin (15), woon steeds in Johannesburg, maar kom kuier gedurende die skoolvakansies. 

Christina Storm
Pa Paul en sy twee jongste spruite, Evie en Vincent, baljaar alte lekker in die vlak water op St. Francisbaai. Foto: Verskaf.
Christina Storm
Christina en haar man, Paul Nel, het besluit om van Johannesburg na St. Francisbaai te verhuis om hul twee jongste spruite weg van die stad se gedruis groot te maak.Die gesin het rustigheid op St. Francisbaai gevind. Foto: Verskaf.

“Ons woon in ’n B&B-oord met 10 slaapkamers, wat Paul 18 jaar gelede gekoop het en wat ons nou opknap. Dit was altyd die plan om ná Ruby en Erin se skooljare hierheen te trek, maar ons was desperaat om uit Johannesburg te kom om vir Evie en Vincent ’n beter leefstyl te gee,” vertel Christina.

Die beste deel van hul lewe aan die kus is dat hulle ver weg is van die groot winkelsentrums en stadsgewoel. 

Christina Storm
Vincent en Ruby, Christina se dogter uit haar verhouding met die voormalige Springbokrugbyspeler James Small, in die swembad. Foto: Verskaf.
Christina Storm
Evie en Vincent is gek oor hul nuwe lewe. Foto: Verskaf.

“Ek mis nie Johannesburg nie. Die kleintjies is gek oor die strand en ry heeltyd die dorp plat op hul fietse. Ek ken almal op die dorp; inwoners ondersteun mekaar en ek geniet die rustiger leefstyl.” 

Die gesin is lief vir die buitelewe en het onlangs hul kampeerwa opgeknap. Hulle bring gereeld naweke in die Tsitsikammawoud deur, waar Paul aan fietswedrenne en verskillende uithou-aktiwiteite deelneem.

Christina Storm
Paul probeer ’n uiltjie knip saam met Vincent. Foto: Verskaf.
Christina Storm
Evie en Vincent. Foto: Verskaf.

Evie is in ’n preprimêre skool waar koeie, hoenders en ander plaasdiere vrylik op die skoolterrein rondloop. Ruby kry aanlyn onderrig, wat haar toelaat om haar tyd tussen St. Francisbaai en Johannesburg, waar sy by haar pa kuier, te verdeel.

“Sy is vasbeslote om teen Mei haar gr. 9-jaar te voltooi. Sy het in haar gr. 8-jaar as ’n leerling by St. Stithians College in Johannesburg altesaam agt onderskeidings behaal,” sê Christina trots.