Christina Storm en haar man Pal met hul jongste, Vincent, toe hy in 2016 gebore is. Foto: Martin de Kock

Die huis was jare lank ’n gastehuis wat Christina (44) en haar man, Paul Nel (47), nou vir hul gesin van vyf opknap. Dis langs een van die kanale gebou waarvoor die dorpie so bekend is. “Dis lekker om daaroor uit te kyk en met ons boot op sunset cruises te gaan," vertel die ma van drie. Die huis, wat aan Paul behoort, het sy ouers, Hennie (75) en Eve (71), as gastehuis vir hom bestuur. 

Paul het al voor die geboorte van hul jongste spruit, Vincent, in 2016 aan Huisgenoot vertel hulle wil moontlik St. Francisbaai toe trek om eerder daar die kinders meer onbevange groot te maak.

Die uitsig oor St. Francisbaai se kanale vanuit Christina Storm en haar ma Paul Nel se huis.

Die misdaad in Johannesburg het vir haar en haar gesin net te veel geword, vertel Christina. “Die hijackings, rooftogte en taxi’s wat op mekaar skiet,” sê sy. En toe kry hulle die geleentheid om na die familiehuis by die see te trek. “Dis rustiger en mooier hier,” voeg sy by. “Die kinders kan nou buite speel en see toe hardloop,” vertel Christina.

Christina Storm saam met haar dogters, Ruby (heel links) en Evie en haar man se dogter, Erin (heel regs). Foto: Martin de Kock

Haar eersteling, Ruby, (14), uit haar vorige verhouding met die oud-Bok James Small, pas ook nou aan by die lewe op St. Francisbaai. “Sy en haar pa is baie geheg aan mekaar. Sy is nie baie happy oor die trek nie,” erken Christina. Sy was aan die St. Stithians College in Johannesburg en sal binne die volgende paar maande by die Global Leadership Academy op Jeffreysbaai inval. “Ek is so dankbaar sy het daar plek gekry."

Christina en Paul het sowat vyf jaar gelede op Hogsback in die Oos-Kaap afgehaak. Hulle het ook ’n vierjarige dogter, Evie (4). “Dit was ’n geskree asof sy met ’n warm yster gebrand is,” vertel Christina oor haar eerste dag by die voorskooltjie van St. Francis Kollege. “Later het sy dit darem baie geniet,” voeg sy by.

First day of school in St. Francis ??

A post shared by Christina Storm Nel (@christinastormnel) on

En sy kan nie glo hoe groot Vincent is nie. Hy word in Desember twee. “Hy was nou die dag nog aan my tietie.” Sy en Paul het die verrassing in 2016 gekry toe Paul in Mauritius was as lid van ’n produksiespan wat TV-uitsendings van geleenthede soos prysuitdelings behartig.

Paul was bly oor die manlike toevoeging tot die huishouding. Hy het ook ’n dogter, Erin (14), uit ’n vorige huwelik. Dis hoe Christina en Paul mekaar ontmoet het, want sy was ’n skoolmaat van Ruby.

“Vincent het nou ’n mensie geword,” vertel sy. “’n Seuntjie is ’n ander spesie. ’n Wilde apie,” meen sy. “Hy is rowwer en growwer – selfs sy hare en handjies – as sy sussies. Jy moet sien hoe hardloop hy soos ’n bobbejaantjie op die strand rond,” sê Christina en lag.

????????

A post shared by Christina Storm Nel (@christinastormnel) on

Haar ma, Kitty (75), het al ’n paar jaar gelede van Louis Trichardt na Astonbaai, net om die draai van St. Francisbaai, verhuis en is baie bly dat sy nou meer van haar kleinkinders gaan sien.