“Ons is dankbaar vir God. Elke dag is daar verbetering op alle vlakke. Om van covid-19 te herstel, verg geestelik en fisiek baie werk, maar my pa geniet eintlik die proses om homself uit te daag en om elke dag meer te doen,” vertel Clare aan Huisgenoot. 

Christo en sy vrou Caro (71) het albei alreeds die inenting ontvang. Hy het reeds op 16 Junie positief getoets vir die coronavirus en is op 28 Junie gehospitaliseer. “My ma het ook covid-19 op dieselfde tyd gehad, maar sy het vinnig herstel. My suster het ook positief getoets, maar ek het dit gelukkig nie opgedoen nie,” sê Clare. 

Tydens haar pa se hospitalisasie het hulle as gesin positief gebly deur hul geloof en die krag van gebed. “Ek is geseënd om ’n groep goeie vriende te hê wat ek kon vra om saam met ons vir my pa te bid en ons gebede is verhoor,” sê Clare.

Clare Wiese-Wentzel en haar pa, Christo Wiese
Clare Wiese-Wentzel en haar pa, Christo Wiese. Foto: Verskaf

“Ek het altyd vir my pa gesê: 'Daar is ’n leër van God se soldate wat elke dag vir jou bid.' My pa is so geliefd, gerespekteerd en kosbaar – soveel mense het vir hom gebid,” voeg sy by. 

Volgens Clare is die moeilike ding van die coronavirus dat die pasiënt die een dag oukei lyk en die volgende dag gaan dit sleg. “Dit is ’n baie onvoorspelbare siekte en daarom het ons op ons knieë gebly.”

Dis in moeilike tye soos hierdie dat ’n mens weer eens besef dat alles moontlik is by God en dat alles in Sy hande is, sê Clare. “Elke keer as iemand my sou vra: ‘Hoe gaan dit met jou pa?’, het ek gesê: ‘Beter en beter,’ want dit is waarvoor ek gebid het.”

Clare is dankbaar om haar pa weer by die huis te h
Clare is dankbaar om haar pa weer by die huis te hê. Foto: Verskaf

Toe sy hoor haar pa word Saterdag ontslaan, was dit ’n groot verligting en sy het dankbaarheid in oorvloed ervaar. 

“Ons kan nie genoeg dankie sê vir die gesondheidswerkers van Mediclinic Panorama nie. Ons pa kon nie in beter hande gewees het nie. Ons as ’n gesin salueer die nooddienswerkers wat hul lewens in gevaar stel om ons geliefdes te beskerm,” sê Clare. 

“Covid-pasiënte moet weer leer hoe om behoorlik asem te haal en te rus. Dit is nogal ’n uitdaging ná een maand se siekte, maar dit is net my pa se persoonlikheid. Hy word gedryf deur doelwitte en is uiters selfgemotiveerd,” vertel Clare oor haar pa. 

Die sakemagnaat Christo Wiese en sy gesin
Die sakemagnaat Christo Wiese en sy gesin. Foto: Verskaf

Dit is vir sy gesin wonderlik om Christo weer in aksie te sien. “Ons is almal baie trots op sy geestelike veerkragtigheid. Sy ingebore kalmte onder druk het hom goed gedien.” 

Haar pa het ook nie sy sin vir humor verloor nie. Toe hy hoor Clare doen ’n onderhoud met Huisgenoot oor sy gesondheid het hy ewe gespot en gesê ons moenie sy ouderdom verkeerd kry nie, vertel Clare. “Hulle almal wil my graag 80 maak,” het Christo laggend aan sy dogter gesê. 

Kom neem deel aan die gesprek
Volg Huisgenoot op FacebookTwitterInstagram en TikTok, en teken gerus in op ons nuusbriewe.