Die twee hondelywe is bedrywig. Hulle kies elke af en toe koers êrens heen om te gaan rondsnuffel – en wanneer hulle ’n geluid hoor, spits die ore voor hulle in ’n ander rigting laat spaander.

Clare Wiese-Wentzel
Clare Wiese-­Wentzel is weer op die kassie te sien in die derde seisoen van haar reeks. Foto: SJ van Zyl

Die Wiese-Wentzel-hondekinders gee duidelik nie ’n duit om oor die fotosessie wat hulle vandag bywoon nie. Maar hul “ma”, die pragtige aanbieder Clare Wiese-Wentzel (37), weet presies hoe om met die kamera te flankeer.

Sy kén immers die mode- en skoonheidswêreld en het pas klaar verfilm aan die derde seisoen van die gewilde kykNET-mooimaakreeks Mooimaak met Clare Wiese-Wentzel.

“Charlie, sit,” maan sy die op-en-wakker rifrug.

Maar dié skiet weer ’n rigting in. Clare se man, die oudrugbyspeler en sakeman Marco Wentzel (41), is vinnig by – en ’n mens kan sien hy weet hoe om Charlie onder beheer te kry.

Clare Wiese-Wentzel
Clare en haar man, Marco, saam met hul geliefde honde, die rifrug Charlie en die cockapoo Mila (LINKS). Foto: SJ van Zyl

Hier by Kaap Mooi, die boetiekhotel van hul “tante”, Clare se jonger suster, Christina Wiese, in die Kaapse middestad kan die egpaar se hondekinders vrylik rondbeweeg.

Die hotel is genoem na hul oorlede ouma en oupa Clare en Japie Basson se huis in Clifton. Klein Milatjie, soos Clare haar cockapoo – ’n spanjoel-poedel-kruis – noem, is ’n bietjie rustiger, en toe Clare haar opraap, sit die hondjie dolgelukkig in die holte van haar ma se arms, kameragereed.

Dis saam met hulle waar Clare op haar gelukkigste voel – Marco en hul twee honde. Maar toe sy begin gesels oor die nuwe seisoen van Mooimaak, wat sedert begin Oktober uitgesaai word, raak sy éérs kinderlik opgewonde.

‘Ons honde is die twee mees bedorwe brokkies ooit’

“Die seisoen is baie opwindend,” vertel Clare. “ ’n Paar lekker verrassings wag op die kykers.”

Dié kykNET-program neem kykers 26 weke lank op die mooimaakreis van gewone deelnemers terwyl hulle van die nuutste en beste skoonheidsprosedures en -behandelings ondergaan. Vanjaar gaan mans vir die eerste keer ook van dié reis deel wees.

“Die program het deur die jare baie gegroei en verander,” vertel Clare oor haar TV-baba, waarvan die eerste seisoen in 2017 uitgesaai is.

Clare Wiese-Wentzel
Weens die coronavirus moes die span van Mooimaak streng regulasies nakom. Foto: SJ van Zyl
Clare Wiese-Wentzel
Foto: SJ van Zyl

“Ons probeer om aan die voorpunt van skoonheidsprosedures te bly, maar ook bewus te wees van tendense in die gesondheidswêreld. In Mooimaak gaan dit nie net oor die uiterlike nie; dit gaan ook oor jou fisieke en geestesgesondheid, en ons probeer mense van alle kante af mooimaak.”

Met Mooimaak sien hy vir die eerste keer werklik hoe sy vrou blom in wat sy doen, vertel Marco.

“Ek kon sien hoe sy die afgelope paar jaar probeer om haar voete te vind in wat sy wil doen,” sê hy. “Nadat sy as ’n prokureur gewerk het, was sy ’n ruk lank besig met haar juwelierswarereeks, maar nou doen sy régtig wat sy love. Die deelnemers het werklik hartseer stories,” vertel hy.

“Dit is ongelooflik om te sien hoe hulle verander en selfvertoue kry – sy geniet dit.” En dis nie net in die reeks waar dié middelkind van die miljardêrsakeman Christo Wiese mense deesdae uit eie reg inspireer nie.

Prinses Charlene van Monaco het Clare onlangs genader om as raadslid vir haar stigting te dien. Dié stigting fokus hoofsaaklik daarop om verdrinking oor die wêreld te bekamp en klem te plaas op die voordele van sport.

Clare Wiese-Wentzel
Clare se oumas, Clare Basson en Kotie Wiese, het haar grootste skoonheidsles vir haar geleer: om met grasie ouer te word. Foto: SJ van Zyl

“Sy is ’n uitsonderlike mens en ek is seker sy gaan in die toekoms nog baie waarde by die stigting voeg,” het prinses Charlene vroeër oor dié aanstelling gesê.

Hoewel Clare Charlene nie persoonlik ken nie, het sy en Marco ’n paar jaar gelede gaan eet saam met die prinses se broer, Gareth, ’n vriend van Marco, toe hulle Monaco besoek het.

Clare en haar Planet, Marco se bynaam uit sy rugbydae wat sy steeds gebruik, het tydens die inperking hul vierde huweliksherdenking gevier.

Hulle het mekaar in 2012 ontmoet op die model en aanbieder Minki van der Westhuizen en haar man, Ernst Joubert, se troue. Vier jaar later het hulle afgehaak. Die diens was in die NG kerk Stellenbosch en die weelderige onthaal op Lourensford, haar ouers, pa Christo en ma Caro, se wynplaas buite Somerset-Wes.

Marco, ’n voormalige rugbykaptein van die Haaie en deesdae die uitvoerende hoof van ’n maatskappy in die diamantbedryf, het haar met hul herdenking verras met 12 origamiblomme wat hy self uit papier gevou het. “Dit was so spesiaal,” sê Clare.

Clare Wiese-Wentzel
Sy en Marco sorg dat die honde gereeld oefening inkry. Foto: SJ van Zyl

“Blomme was skaars en hy het YouTubevideo’s gekyk om dit te maak. Dit het hom omtrent ’n halfuur per blommetjie geneem.”

Baie het in die afgelope vier jaar gebeur, sê Marco.

“Ons het getrek, ons is besig met aanbouings en ons het ’n hondjie verloor.” Hy raak stil toe hy aan hul geliefde Maltese poedel, Kimbey, dink wat in 2018 uitgesit moes word.

“Sy het ’n wonderlike lewe gehad, maar dit was haar tyd. Ek het haar vasgehou toe hulle haar inspuit. Dit was baie traumaties vir my en Clare.

“Toe kry ons later daardie jaar twee puppies, en ek weet nie of dit so ’n goeie idee was nie,” sê hy met ’n skalkse glimlag.

Mila is aanvanklik vir Clare se pa aangeskaf, maar Clare en Mila was onmiddellik verknog aan mekaar en hulle het haar gehou.

“Twee hondjies gelyk in ’n huis waarin daar aangebou word, is net chaos.”

Maar toe hulle oor die vordering aan hul sesslaapkamerhuis in die spogbuurt Clifton praat, raak albei opgewonde. Clare het dié huis in 2016 vir R90 miljoen gekoop en hulle het ’n paar maande daarna in 2017 ingetrek.

“Die aanbouings was maar ’n lang en stadige proses,” sê sy.

“Ons wou veranderings aanbring wat nie altyd moontlik was nie; ons moes dus baie buite die boks dink.” Marko meen Clare se persoonlikheid is nog ’n rede waarom dit tyd geneem het.

“Sy wil alles perfek hê en dit maak dinge moeilik. Die huis het interessante ruimtes en nie net enige meubels kan sommer daar ingesit word nie.”

Clare Wiese-Wentzel
Clare wil als perfek hê in hul huis. Foto: SJ van Zyl

Maar nou, byna twee jaar later, is die bouwerk amper klaar en sal al haar drome vir die huis eindelik waar word. Die egpaar kan nie wag om dan behoorlik saam met familie en vriende daar te kan kuier en leef nie.

“Kyk,” sê Clare en kyk liefdevol na haar man. “As jou verhouding twee jaar lank aanbouings kan deurstaan, weet jy jy het ’n wenresep!”

Die sleutel tot so ’n “wenresep”-huwelik is om voortdurend daaraan te werk, glo sy.

“Eintlik het alle verhoudings werk nodig. Of dit nou met jou ma, kollega, kind of wie ook al is.”

Jy moet ook leer om jou gevoelens aan iemand oor te dra sonder dat dit voel jy kritiseer hulle, voeg sy by.

“Dit is hoe julle mekaar beter leer ken en meelewing vir mekaar kweek.”

Marco sê op sy beurt hulle het ook gou geleer om mekaar in konfliksituasies ’n kans te gee om van die emosie ontslae te raak voor hulle iets uitpraat.

Dis ook ’n bonus dat die boorling van George uitstekend met Clare se mense oor die weg kom. Dit is alombekend dat sy en haar pa veral ’n besonder hegte band het; dit is dus vanselfsprekend vir haar belangrik dat die twee mans in haar lewe oor die weg kom.

“Ek en my skoonpa is baie goeie vriende,” sê Marco oor dié verhouding.

“Hy is ’n ongelooflike leermeester; hy mentor sonder dat hy weet hy doen dit. Hy is ’n baie gemaklike mens, baie goed met mense en hy is kalm. Ek dink dit is oor al die storms wat hy al moes trotseer.

“Beheer dié dinge wat beheerbaar is,” herhaal hy die les wat hy by die gesoute sakeman geleer het.

Charlie kom druk haar snoet teen Marco se been. “Ek dink hulle is die twee mees bedorwe brokkies wat al ooit bestaan het,” sê Clare oor hul lieflinghonde.

“Hulle kraai koning en slaap nét waar hulle wil. Meestal in ons bed!

“Milatjie hou daarvan om op Planet se kop te slaap, wat hom baie irriteer, want hy is baie sensitief vir enigiets wat hom saans steur. Hy skuif haar heeltyd na my kant toe, maar dan kruip sy net weer terug.”

Sy glimlag. Charlie het al geleer om aan Clare se kant in te kruip, want sy weet haar pa gaan haar op haar eie bedjie laat slaap.

Clare Wiese-Wentzel
‘Ons honde is die twee mees bedorwe brokkies ooit’ Foto: SJ van Zyl

“Dis eintlik so ’n bietjie van ’n sirkus saans,” sê sy. Maar toe Marco weer liefderik oor Charlie se kop streel, is dit duidelik niemand in die Wiese-Wentzel-huishouding sou dinge enigsins anders wou hê nie.

Wanneer die paar tuis ontspan, oefen hulle saam in die tuisgimnasium, onthaal hulle vriende en maak hulle seker hulle eet saans saam. En elke Donderdagaand maak die gesin hulle voor die televisie tuis om saam na die nuutste episode van Mooimaak te kyk.

“Hy is my grootste ondersteuner en hy kyk elke episode saam met my,” vertel Clare.

“Hy hou nie eintlik daarvan om vooraf te weet wat gebeur nie. Hy wil dit graag soos die kykers by die huis kyk sodat hy vir my eerlike terugvoering kan gee. Ek dink hy kan sien hoe gelukkig dit my maak. Dit is wonderlik om die pad saam met hom te kan stap.”

Mooimaak is ’n droom wat waar geword het, sê Clare.

“Ek wou kleintyd ’n veearts word, maar toe ek besef ek gaan dan net met siek diere werk, het daardie droom verdwyn. Ek wou ook ’n aktrise word, want ek dink ek wou mense vermaak en stories vertel. Maar ek het geen talent as aktrise nie. Toe word ’n heel ander droom waar: om my eie televisiereeks te hê.

“Ek het nooit gedink dit sou gebeur nie. Dit wys jou net!”

  • Mooimaak met Clare Wiese-Wentzel word Donderdae om 21:00 op kykNET (DStv-kanaal 144) uitgesaai.
Kom neem deel aan die gesprek

Volg Huisgenoot op Facebook, Twitter, Instagram en TikTok, en teken gerus in op ons nuusbriewe