Sy huil haarself nog soms aan die slaap. Ook wanneer sy haar tweejarige tweeling langs haar in die bed neerlê om die eensaamheid te verdryf. 

’n Mens kan dit skaars glo as jy kyk na die prag­foto’s op Claudia Henkel (36) se Instagramblad, want dié voormalige Mej. Suid-Afrika lyk dan soos die toonbeeld van elegansie en selfbeheersing.

Maar die einde van haar huwelik het haar broos gelaat, vertel die beeldskone blondine. “Dis eensaam,” sê sy. En dit is so anders as die lewe waarvan sy gedroom het. 

“My ouers is al 41 jaar getroud en ek wou – wil – dit vir my kinders hê, maar hulle verdien ook ’n ma en pa wat gelukkig saam is.”

Haar huwelik met die sakeman Orin Roesstorff het in Februarie vanjaar verbrokkel, maar Claudia praat nou vir die eerste keer openlik daaroor. Vroeër was sy nog net te hartseer, sê sy.

“My ouers is al 41 jaar getroud en ek wou – wil – dit vir my kinders hê, maar hulle verdien ook ’n ma en pa wat gelukkig saam is.”

Ja, sy mis die gevoel van saamwees as gesin en “Sondagoggende met die kinders saam in die bed”. Maar sy glo dit was die regte besluit om uit haar huwelik te stap. 

“As jou huis nie vir jou kinders ’n gelukkige omgewing is nie, moet jy dit verander. Dit was die vreesaanjaendste ding wat ek al in my lewe gedoen het, maar die omgewing was net nie meer gesond nie,” sê sy.

Aan die einde van 2019 kyk sy terug op ’n moeilike jaar, erken Claudia.

Sy het ook bedank uit haar pos as die hoof van media­skakeling by die hotelgroep Sun International, wat tot vanjaar die Mej. Suid-Afrika-kompetisie gereël het. 

Sy sê sy het dit gedoen om voltyds ma te wees vir haar tweelingdogter en -seun en hulle moes tydelik by haar ouers intrek. Sy moes aanvaar haar huwelik is verby. 

claudia henkel,orin roesstorff
Haar eksman, Orin Roesstorff, met die geboorte van hul babas. Foto: Instagram/@claudiahenkelza

“Ek weet ek is nie tegnies ’n enkelma nie, want Orin is in die kinders se lewe. Hy is oneindig lief vir hulle, maar ek is die een wat hulle die meeste van die tyd bad, voer en in die bed sit, en dan is ek alleen,” sê sy. 

“Ek is gek daaroor om hul ma te wees, maar dis soms taai. Regtig taai.”  

Claudia strek haar ellelange bene voor haar uit waar sy op haar grys rusbank in die tweeslaapkamerdupleks in Bryanston, Johannesburg, sit. 

Die woonstel waar sy en die tweeling nou woon, is modern ­gemeubileer met foto’s van haar en die twee woelwaters teen die mure. 

Dis ’n heerlike warm somerdag, en die tweeling geniet hul laatoggendslapie op die boonste verdieping. 

“Ek weet ek is nie tegnies ’n enkelma nie, want Orin is in die kinders se lewe. Hy is oneindig lief vir hulle, maar ek is die een wat hulle die meeste van die tyd bad, voer en in die bed sit, en dan is ek alleen,” sê sy.

“Roetine is so belangrik vir kinders. Veral as daar twee is. ’n Mens moet bontstaan, hoor,” sê sy en beduie na buite waar stoele onderstebo lê. Dié stoele was vroeër vanoggend die kinders se klimrame, verduidelik sy. 

Dit is 15 jaar sedert Claudia in 2004 as Mej. Suid-Afrika gekroon is en sy is nog net so beeldskoon soos destyds. 

Die foto’s op haar Instagramblad wys sy lyk ook nog net so goed in ’n bikini. Die 54 kg wat sy tydens haar swangerskap aangesit het, het die afgelope jaar en ’n half “weens stres” weggesmelt, vertel sy. 

Ja, sy oefen twee keer per week, maar as sy gespanne is, verdwyn haar eetlus. Haar blou oë raak troebel toe sy oor die afgelope tyd praat, en sy vee-vee daaroor. Sy en Orin was vier jaar saam voor hul troue in 2015. 

“Wanneer kinders gebore word, fokus die vrou op hulle. Ek kan nie sê presies wanneer dit vir ons gebeur het nie, maar ons het uitmekaar begin dryf.”

Dit was ’n moeilike jaar vir Claudia Henkel ná haar egskeiding. Foto: ER Lombard

“Ek het probeer om my man ’n prioriteit te maak,” sê sy en trek haar skouers op.” Wat presies veroorsaak het dat die kloof tussen hulle ál breër geword het, weet sy nie.

“Ek het myself maande lank daardie vraag gevra. Ek het maande lank gehuil, maar ek het nou vrede gemaak daarmee. Dinge gebeur, en eindelik werk dit tog uit soos dit moet.”

Sy vermoed die miskraam wat sy ’n paar maande ná hul troue gehad het, het ’n rol gespeel. 

“Ek was getraumatiseer. Op 12 weke het ek krampe gekry, en toe ek by die dokter kom, het hulle ’n sonar gedoen. Die baba het op nege weke ophou groei. Ek kan onthou die armpies en beentjies het doodstil gelê,” sê sy en vee trane weg. 

Toe sy kort daarna met die tweeling swanger raak, was dit byna asof sy tot stilstand gekom het. 

“Ek het probeer om my man ’n prioriteit te maak,” sê sy en trek haar skouers op.” Wat presies veroorsaak het dat die kloof tussen hulle ál breër geword het, weet sy nie.

“Ek was so bang iets gebeur met die babas. Ek dink alle ma’s is, maar ná my miskraam was ek nog meer gespanne daaroor,” vertel sy. 

Maar haar tweeling is gesond ge­bore en kon ná ’n kort rukkie in die baba­sorgeenheid by die hospitaal huis toe gaan. 

“Ek dink iets fundamenteels verander in ’n vrou wanneer jy ’n ma word. Dis asof jou wêreld verskuif,” sê Claudia. 

Die paartjie het uitmekaar begin dryf tot daar ’n keerpunt was wat haar laat besluit het om uit te trek. 

Sy wil nie uitbrei oor wat tot dié besluit op daardie dag in Februarie gelei het nie. As ’n vrou nie meer geliefd voel nie, moet sy loop, sê sy. 

Claudia is in 2004 as Mej. Suid-­Afrika gekroon. Foto: Gallo Images/Getty Images
claudia henkel,mej.sa,skakelbeampte
Claudia het ’n suksesvolle loopbaan as ska­kel­beampte gehad. Sy het onder meer by Sun International gewerk. Foto: Oupa Bopape

Sy en die tweeling het sewe maande lank by haar ma en pa in Pretoria-Oos gewoon – op die kleinhoewe waar Claudia self grootgeword het – voor hulle in Augustus na die dupleks getrek het. 

“Ek kon seker daar gebly het en nog ’n bietjie in sak en as gesit het. My ma en pa het my soveel gehelp met die kinders, maar vir my ook. Party aande het ek so hard gehuil dat my ma langs my in die bed kom inkruip het. My pa het op sy logiese manier gehelp om dinge in perspektief te stel. Maar ek wil sterk wees ook.” 

Al was die aanpassing aanvanklik moeilik, bly Johannesburg haar huis, sê Claudia, en is dit ook lekker om weer haar eie ruimte te hê. 

Sy sien haar ouers steeds gereeld, en haar suster, Nicola, woon om die draai. “Ek kan haar enige tyd, dag of nag, bel.”

Nog ’n belangrike lid van haar steunnetwerk is die oppasser Bongi Moyo (52). “Ek is haar ewig dankbaar. Sy is hier van Maandag tot Donderdag, nege tot vier, en sy is ’n engel. Sy help my so mooi om na die kinders te kyk.” 

Bongi Moyo, Claudia se kinderoppasser, help om die kinders te voer. Foto: ER Lombard

Claudia behartig nou op kontrakgrondslag digitalemedia- en skakelwerk vir maatskappye om die pot aan die kook te hou. Orin help haar en die kinders finansieel.

Telkens kom die gesprek weer terug na die twee kleuters, en dis duidelik dat hulle haar eerste prioriteit bly. 

“My kinders het Orin nodig. Ek wens vir hulle ’n omgewing toe waar hulle heeltemal geliefd voel, van albei kante af. ’n Nederige kinderlewe, een waar hulle net kinders kan wees,” sê sy. 

En hoe voel sy oor die moontlikheid van nuwe liefde in haar toekoms? “Ek weet nou nie of dit so aanloklik klink nie: ‘Haai, ek’s ’n geskeide beauty queen van ses voet twee, en hier is my babas!’ ” sê sy en lag.

“Ek is nie op soek na liefde nie, maar ek glo regtig as dit oor my pad kom, sal ek weet en dat ek weer in ’n verhouding gelukkig sal wees. Vir eers fokus ek op die kinders en my kontrakwerk.” 

Een van die kinders begin huil en Claudia gaan boontoe. Toe sy en Bongi ’n ruk later afkom met die tweetjies, is dit ’n gekeer vir breekgoed en ’n gekoes soos hulle, tipies kleuter, morsig raak met hul eetgoed. Maar die twee vroue kry die kinders gevoer en ons kry ook ons foto’s geneem. 

En al trek ’n kind soms aan haar hare, glimlag Claudia moedig en breed, reg vir die flits van die kamera. 

Kom neem deel aan die gesprek
Volg Huisgenoot op InstagramTwitterFacebookWhatsApp en teken gerus in op ons nuusbriewe.