Sedert pres. Cyril Ramaphosa op Sondag 15 Maart aangekondig het dat byeenkomste van meer as 100 mense verbied word, is kunstenaars soos Leah, Elvis Blue en Ruhan du Toit se konserte en die kunstefeeste waar hulle moet optree in gedrang.


“Ek het nog nooit in 20 jaar optredes misgeloop of gekanselleer nie, so om ’n hele maand nie op te tree nie is beslis ’n nuwe ervaring vir my,” vertel Francois Henning, oftewel Snotkop, aan Huisgenoot.

“Dit het eerlikwaar baie skielik gebeur. Ek het nog die nuus gelees en gehoor van die impak van die virussiekte op Europa en China, maar nou word ons direk geaffekteer,” sê hy. Enige Snotkop-vertoning vir die volgende maand is voorlopig afgestel en Francois en sy span is hard aan die werk om dit vir later vanjaar te herskeduleer. 

View this post on Instagram

Al my shows vir die volgende maand is uitgestel tot verdere kennis... hou my socials dop vir meer info... but first... lekker dip in die see! Pas julle self mooi op! ???????? #staypositive #moeniepanicnie

A post shared by Snotkop (@snotkop) on

Francois voel sleg dat dié situasie sy aanhangers gaan teleurstel, maar glo dat almal se gesondheid belangrik is en alles gedoen moet word om die verspreiding van die virus te bekamp.

Hy vertel dat die impak groot is omdat plaaslike kunstenaars se inkomste grootliks van optredes afhanklik is.

Snotkop span tans by sy huis op Southbroom in KwaZulu-Natal uit. Hoewel hy nie te lank op sy louere kan rus nie, meen hy die “ruskans” kon nie op ’n beter tyd gekom het nie.

“Ek moet sê, my liggaam en stem het beslis rus nodig. Ek het my die afgelope 12 maande  ’n bietjie gedruk met baie harde werk en baie konserte,” vertel Francois. “Hierdie maand sal ek fokus om te rus, maar ek kan ook net vir so lank stilsit.” 

View this post on Instagram

Ja, dis in SA ??! Goeie more!!! ?????

A post shared by Snotkop (@snotkop) on

Boaan sy lysie van dinge om te doen is om te skilder en sy huis op Southbroom te geniet. “Ek is so min by die huis en sien uit daarna om die dinge te doen waarvoor ek nie gewoonlik tyd kry nie,” sê hy.

“Ek het ’n spul skilderdoeke, kwaste en olieverf aangeskaf vir nuwe kunswerke en daar sal ook beslis ’n paar nuwe liedjies in hierdie tyd gebore word. Ek rus en herlaai gewoonlik as ek kreatief is,” voeg hy by. 

snotkop,sanger,strandhuis,skildery
“Ek wou ’n tipiese tropiese kunswerk in die leefvertrek hang en het besluit om self een te skilder,” vertel die sanger. Foto: Darren Stewart
snotkop,sanger,strandhuis,skildery
Francois het self dié skildery geskilder en sê jou gunstelinge moet in die gastebadkamer hang. Foto: Darren Stewart

Hy het ook ’n kamer in sy huis omskep waar hy aan sy dokumentêre film, Skrik vir Niks, kan werk.

Die dokumentêr bestaan uit onderhoude met mense wat Francois inspireer en sal ook vir kykers ’n blik gee op waar Snotkop vandaan kom.

“My redigeerder is hier vir dié tydperk en werk hard sodat ons dit hopelik oor sowat twee maande kan uitreik,” verduidelik Francois oor dié projek waaraan hy al twee jaar werk.

Hy wil ook nie gou dié plekkie verlaat nie. Hy bestel kruideniersware aanlyn en verlaat net sy huis as dit absoluut noodsaaklik is.

“Ek dink dis belangrik om positief te bly en nie opgesweep te raak in die histerie nie, maar bly gefokus, bly gesond en hou jou eenkant,” gee Francois raad.

“Ek hoop ons leer uit hierdie ondervinding om ons medemense, diere en die planeet met meer respek en liefde te behandel,” sê hy.