Die voormalige Survivor South Africa-deelnemer Annalize Sainsbury se man, Paul, is deur die verwikkelinge geraak omdat hy in ’n hotel in dieselfde area in Abu Dhabi as die fietsrygroep tuisgegaan het.

Annalize het in 2018 aan Survivor South Africa: Phillipines deelgeneem en die topdrie gehaal. 

Paul (48), ’n geleentheidsvervaardiger, vertel aan Huisgenoot dat hy op 23 Februarie vir 'n internasionale geleentheid na Abu Dhabi gereis het.

Sy vrou, Annalize, het op haar Instagram-profiel bekend gemaak dat Paul in sy hotelkamer vasgekeer was. 

"Ouens, dis regtig ’n stryd . . . Paul is in Abu Dhabi vir werk en twee Italianers wat by sy hotel tuisgaan het die coronavirus! Hy is al vir 18 ure onder kwarantyn en mag nie sy hotelkamer verlaat nie. Hy het geen idee vir hoe lank nie. Toe bel hy maar 0 . . . #coronavirusisreal," het Annalize Saterdag geskryf by ’n foto van Paul waar hy ’n masker dra. 

Paul vertel aan Huisgenoot dat die kwarantyn Maandagoggend opgehef is.

"Twee internasionale lede van die ondersteuningspan van ’n Italiaanse fietsryspan wat aan die VAE toer deelneem het positief getoets vir die coronavirus, en hulle het in die area van ons hotel tuisgegaan. Die kwarantyn was vir drie dae in plek. Ons moes in ons hotelkamer bly. Alle buiteareas van die hotel was afgebaken," vertel Paul vanuit Abu Dhabi. 

Paul sê hoewel hy sy daaglikse aktiwiteite kon hervat, is daar nog protokol in plek by die hotel. 

"Niemand mag die hotel binnegaan nie. Dit word nog eers afgeteken as skoon en veilig."

Volgens CNN het Italië se burgerlike beskermingsowerheid bevestig dat die land teen Sondag 1 694 bevestigde gevalle van coronavirus gehad het. In dié land het 34 mense al weens die virus gesterf. 

Verskeie van die wêreld se topfietsryers was in Abu Dhabi vir die fietstoer. Volgens The Guardian moes sowat 600 fietsryers, personeel, amptenare en lede van die media getoets word nadat die twee Italianers positief vir die coronavirus getoets het.

Hieronder was die Britse fietsryer en viermalige Tour de France-kampioen Chris Froome, asook lede van die Suid-Afrika-gebaseerde wêreldtoer-span, NTT Pro Cycling (coorheen Dimension Data).

Dié span het op hul amptelike Twitter-blad bevestig dat hul fietsryers getoets is en oppad huistoe is nadat die toer se laaste twee skofte afgestel is.

Die Australiese fietsryer Adam Yates, wat die voorloper was toe die wedren afgelas is, is as die wenner aangewys. 

Volgens The Guardian is daar nog tans onduidelikheid oor of Italiaanse fietsrywedrenne wat vir Maart geskeduleer is, sal kan voortgaan of nie.

Hierdie wedrenne sluit in die enkeldag wedrenne van Milan na San Remo op 21 Maart en die Strade Bianche in Siena op 7 Maart, asook die meerdaagse Tirreno-Adriatico-wedren tussen die Tirrheense Kus en Adriatiese Kus van 11 tot 17 Maart. ’n Finale besluit word vandag verwag. 

Ekstra bronne: The GuardianCNN

Kom neem deel aan die gesprek
Volg Huisgenoot op Instagram, Twitter en Facebook, en teken gerus in op ons nuusbriewe