Die Pretoriase sanger vertel hoe die meedoënlose siekte nou ook sy familie kom ontwrig het, en waarom niemand nou hul waaksaamheid moet verslap nie.

Sy oom Faan Stander, aan wie hy baie geheg was, is Maandag in die Polokwane-hospitaal dood nadat covid verlede maand by hom gediagnoseer is. Sy tannie Dalene het omtrent dieselfde tyd siek geraak. 

“Hulle was aanvanklik saam in die waakeenheid van die hospitaal op Modimolle. Die verpleegsters het hulle nog daar elke dag in rolstoele na mekaar toe gestoot sodat hulle kon gesels. Ongelukkig het my oom, wat 19 jaar gelede ’n pasaangeër moes kry, hartprobleme ontwikkel en moes hy na Polokwane se harteenheid oorgeplaas word.

“En Maandagnamiddag, toevallig net toe ons ook tuis getoets is – nádat Christel en my dogter Sondagaand hul smaak- en reuksintuig verloor het – moes ons verneem my oom is oorlede. Hy het ’n hartaanval gehad weens die min suurstof in sy liggaam en ook maar omdat sy hart reeds swak was.

“Ons dank die Here dat my tannie Dinsdag uit die hospitaal ontslaan kon word. Sy is nou 75, my oom sou vanjaar 79 word en dit sou hul 55ste huweliksherdenking wees. So, ja, ons harte is baie seer, veral vir haar en hul kinders en kleinkinders.

“Ek onthou nog ons familievakansies op sy plaas op Vaalwater . . . vyfuur soggens opstaan, met ’n lekker koppie koffie en dan beeste aanjaag en melk . . . hoe ons op die koue wintersoggend met ons voete in die warm beesmis gestaan het. My oom was nog tot voor hy vanjaar siek geraak het doenig met boorgate, windpome en sonpanele. Hy was ’n baie goeie man.

“Ons het hulle nog laas jaar ná die inperking gesien toe hulle, op pad na familie op Postmasburg en Kimberley, by ons oorgeslaap het. As ’n mens nou terugdink, was dit amper asof hy gaan koebaai sê het. Ons is ’n groot en hegte familie.”

Foto: Luba Lesolle/Gallo Images
Foto: Luba Lesolle/Gallo Images

Manie se stem is skor, en hy sê hy voel hy ’n bietjie kortasem.

Christel, wat baarmoederkanker te bowe gekom het, het laas week al ’n effense lugweginfeksie gehad, “maar sy kry maar gereeld sulke goed omdat haar gestel kwesbaar is weens (die immuunsiekte) sistemiese lupus”.

Dis maar twee van vele gesondheidsuitdagings wat sy dapper blondekop al trotseer het. “En my dogter het ook verlede week ’n grieperigheid gehad.”

Maar hulle het werklik onraad vermoed toe Christel hom Sondagaand sê “sy kan niks proe of ruik nie. En toe’t my dogter, reeds terug by haar ma op Vanderbijlpark, ook laat weet sy ervaar presies dieselfde”.

Hulle is toe almal Maandag vir die virus getoets en Dinsdag het hulle die uitslag gekry – Christel en Illoné helaas positief.

“My uitslag was wel negatief, maar ek het nou ook covid-simptome en my vrou se uroloog, dr Johan Venter, het gesê die kans is 99% dat ek ook positief is, maar dat die toets dit nog nie opgetel het nie.”

Hy sal weer Vrydag getoets word.

Hy het uiteraard simptome met Christel en Illoné vergelyk, en daar’s heelparty ooreenkomste: kwaai hoofpyn, naarheid, duiseligheid, moegheid, “en ook so ’n pyn op die krop van jou maag, amper soos ’n hol kol, maar dit brand verskriklik”.

En terwyl Christel Dinsdagaand kwaai koors gehad het, het hy blykbaar iets soos ’n “hallusinasie in my slaap gehad – dat Rina Hugo in ons kamer vir ons sit en kyk het. Ek het vir my vrou gesê: ‘Kyk, sy sit daar in die hoek . . . ’”

Sy het vir hom gesê dit kan nie wees nie; hul kamer is dan rond, maar hy het aanhou stry, grinnik Manie. Hy kan in dié stadium nog proe en ruik, “waaroor ek baie bly is, want ek hou mos nog altyd van lekker eet”.

Maar, raak hy weer ernstig, die Jacksons kan nou soos soveel ander daarvan getuig dat covid geen grap is nie.

“Dis maar nie lekker nie. My vrou sukkel baie om haar medikasie in te hou. Ek het Maandag, toe dit meer as 30 grade hier was, onder ’n kombers met kouekoors gelê en reeds Sondag ’n vinnige bibber-aanval gehad. Hoewel ek nog weer getoets moet word, word ek ook reeds vir covid behandel.”

Maar hy is in dié stadium natuurlik veral oor Christel se kwesbaarheid bekommerd.

“Die virus is baie gevaarlik vir haar. Die dokter het gesê ons moet sover moontlik wegbly van hospitale af, maar die oomblik wanneer sy asemhalingsprobleme ontwikkel, moet ons ’n nuwe plan maak, en sal sy waarskynlik moet ingaan.”

Intussen is hulle dankbaar hulle is in goeie hande. Dr Venter is al 10 jaar Christel se dokter en was ook 11 jaar ’n traumadokter. Sy kan hom enige tyd bel om haar toestand te monitor, vertel sy waarderend.

Foto: Luba Lesolle/Gallo Images
Foto: Luba Lesolle/Gallo Images

“Hierdie ding was sekerlik een van ons grootste vrese. Twee van my vriende is reeds vroeër vanjaar weens covid oorlede,” vertel Manie. “Laasjaar het ek en my gesin net gehoor van mense wat covid het, hierdie jaar het ons die impak self beleef toe dit mense tref wat ons ken, familie, en nou het ons dit self in ons huis.”

En hy en gesin was tot nou versigtig, voeg Manie by.

“Ons het omtrent nêrens heen gegaan nie. Ons sien nie mense nie omdat ons so veilig moontlik probeer bly. Al wanneer ek uitgegaan het, was vir optredes.” En waar hy voor covid gewoond was aan drie, vier optredes per week, is dit boonop nou baie minder.

“Ek moes natuurlik ook nou die res van my optredes vir Maart – sewe – kanselleer. Van April se optredes kan ook afhangend van die toetsuitslae gekanselleer word.”

Hy is juis lank reeds agterstallig met sy skuld, maar dit kan nie anders nie. As hy weer die groenlig kry wat covid betref, gaan hy reëls vasstel vir sy konserte, sê Manie.

“Ek sal met liefde en graagte vir mense sing, maar daar kan ongelukkig geen foto’s, geselsies of drukkies agterna wees nie. Terwyl covid met ons is, en ons wag vir inentings, is dit net te gevaarlik.” 

“Ek dink nie net aan myself en my gesin nie; ek dink natuurlik ook aan daardie mense.”

Foto: Luba Lesolle/Gallo Images
Foto: Luba Lesolle/Gallo Images

Hy en Christel was van die eerstes in die vermaakwêreld wat op Facebook gevra het dat mense maskers moet dra, voeg Manie by.

“Maar ek het vriende wat vir my kwaad raak daaroor. En hulle is kort-kort by ander vriende en dan word daar gebraai en gekuier. En dan word ons ook genooi, en as ek vriendelik weier, sê hulle, ja, maar die lewe kan ook nie stilstaan nie.

“Maar met hierdie ding staan óns lewe nou stil . . .

“Ek dink nie dis nodig om tussen vriende te gaan sit en braai en kuier om te voel jy lewe nie. Vir my gaan die lewe daaroor om saam met my vrou en kind te kan oud word en eendag saam met my kind my kleinkinders te kan sien.”

In dié stadium sal hy en Christel “die dae maar vat soos hulle kom”. Sy voeg in die agtergrond by hulle is ook “’n bietjie emosioneel leeggetap, want hierdie was baie onverwags”. 

Manie sluit af: “Ek wil net die mense daar buite herinner hierdie is allesbehalwe ’n mite, dis ’n werklikheid wat enigeen kan tref. En die enigste manier hoe ons dit kan bestuur, is deur saam te werk en steeds sover moontlik veilig op te tree.

Gaan uit as jy moet gaan werk of kos koop, maar hou daardie afstand. Jy’t nie nodig om saam met ’n klomp ander te partytjie om te ‘lewe’ nie. Geniet eerder die lewe saam met jou gesin.”

Kom neem deel aan die gesprek

Volg Huisgenoot op Facebook, Twitter, Instagram en TikTok, en teken gerus in op ons nuusbriewe