Pieter-Dirk Uys
Die pandemie het talle veranderings vir Pieter-Dirk Uys ingehou. Foto: Peet Mocke

Hy het nog altyd gevoel hy kan enigiets hanteer wat na sy kant toe kom. “’n Ewige optimis” is hoe die veteraankomediant Pieter-Dirk Uys homself gereeld beskryf het. Sy leuse: “Berei jou voor op die ergste en hoop op die beste.” En dit was ’n leuse wat baie goed gewerk het . . . tot die covid-19-pandemie die wêreld getref het.

Skielik het alles verander. Evita se Perron, sy geliefde teater en restaurant op die Weskusdorpie Darling, het maande lank onheilspellend leeg gestaan. Boonop moes die 220 optredes wat vir verlede jaar beplan was almal afgestel word.

Dit kon hy nog aanvaar, maar wat werklik sy hart gebreek het, was toe die rekenings aanhou ophoop en hy geen ander keuse gehad het as om die Perron se 10 personeellede af te lê nie.

“Dit was ’n aaklige, aaklige ervaring,” vertel Pieter (75) telefonies uit Darling, waar hy woon. “Ek bedoel – van hulle was al jare saam met my.”

Hy het ál meer desperaat begin voel. Maar toe kom daar ’n oplossing uit ’n onverwagte oord. Hy het eendag twee vriende raakgeloop wat aan die stuur is van die plaaslike toffieonderneming, Darling Sweet.

“Ek het hulle in Mei in die winkel raakgeloop toe ek toiletpapier gaan koop het en toe sê hulle vir my: ‘Luister, as jy dit ooit oorweeg om die Perron te verkoop, praat met ons.’

“En ek het gesê: ‘Kom ons praat.’ ” Binne ’n week het hy die sleutels oorhandig. “Dit was asof ’n groot las van my skouers afgeval het,” erken hy nou.

Die Perron
Pieter-Dirk moes verlede jaar sy ikoniese Evita se Perron verkoop. Foto: Verskaf

Al is Pieter nie meer die eienaar nie, leef die Perron voort. Die teenwoordigheid van sy geliefde alter ego, Evita Bezuidenhout, is steeds tasbaar in die plek wat hy 24 jaar gelede van die grond af opgebou het waar daar toe net ’n vervalle stasie was.

Tot sy groot vreugde behou die nuwe eienaars die ikoniese naam, en die museum, kunsgalery en teater, waar hy en Evita altyd op die verhoog welkom sal wees. Met die Perron in goeie hande kon Pieter ontspan en ’n welverdiende ruskans neem.

“Dis ongelooflik om na my dagboek te kyk,” sê hy. “Ek loer nou daarna. Februarie 2021 – leeg. Maart – leeg. April – leeg.” Tien maande later is dit steeds vir hom ’n luukse om soveel vrye tyd te hê.

“Ek het vir die eerste keer kans gekry om my tuin regtig te waardeer, om elke plant te waardeer, en verlief te word op elke voël; ons het 49 spesies.”

En met Evita wat in ’n boks weggepak is, kon hy ook eindelik iets doen waarna hy al jare smag – ’n baard kweek. “Dis spierwit. Ek lyk soos Kersvader!” grinnik hy.

Die inperking het ook vir nog ’n nuutjie gesorg: om sy lewensmaat elke dag te sien. Hy en Brent Meersman is al 15 jaar ’n paartjie, maar dis die meeste gekonsentreerde tyd wat hulle al ooit saam deurgebring het. En Pieter sê dis wonderlik.

Bedags gee hulle mekaar ruimte.

Brent (53), ’n skrywer en joernalis, verdwyn na sy hoekie van hul ou Victoriaanse huis om te werk terwyl Pieter skryf of lees of in die tuin werskaf. Hul drie katte en twee honde is mal daaroor om hulle voltyds tuis te hê.

“Ons sit smiddae vieruur met ons katjies en gesels en speel Scrabble – daar is niks soos Scrabble om jou verstand op- en-wakker te hou nie.”

Ter wille van sy eie geestesgesondheid het hy ophou koerant lees – hy het voorheen vier per dag gelees om vir sy vertonings voor te berei. Hy het ook die tyd wat hy in die sosiale media deurbring aansienlik ingekort. Pieter het ook nie die afgelope 10 maande ’n druppel drank gedrink nie.

Pieter-Dirk Uys as Evita
Evita Bezuidenhout moes ook by die uitdagings aanpas en spog nou met ’n praktiese en moderne haarsnit. Foto: Verskaf

Hy sê hy het dié besluit aan die begin van die inperking geneem omdat hy geweet het daar gaan tye wees wanneer hy gefrustreerd gaan voel en hy besef het alkohol kan dalk sy woede aanblaas en alles net erger maak.

Hy mis aandetekuiers saam met vriende, maar weet omdat hy al in die 70 is, kan hy dit nie bekostig om ’n kans te waag nie. Benewens ’n uitstappie of twee Kaapstad toe vir dokters- en tandartsbesoeke het hy hom meestal by sy huis op Darling afgesonder.

“Elke dag voel soos Dinsdag,” vertel hy en lag. Dan word hy ernstig en erken daar is wel tye dat hy terneergedruk voel. “Party dae is my knoppies afgedraai. Maar wanneer dit gebeur, sit ek net ’n David Attenborough-DVD in.”

Daar is geen beter medisyne vir ’n gevoel van hopeloosheid as om agteroor te sit en kyk hoe miere net aanhou om hul ding te doen of hoe leeus na hul welpies omsien nie, sê Pieter.

Pieter-Dirk Uys
Foto: Shakespeare

Sy interaksie met die mense van Darling bring ook troos. Dit was nog altyd ’n hegte gemeenskap, maar die pandemie het die inwoners nog nader aan mekaar gebring.

Hy en sy bure bel mekaar gereeld om te hoor hoe dit gaan. Dan is daar ook sy weeklikse oproepe na Sophia Loren om na uit te sien. Hy en die legendariese Italiaanse aktrise is al dekades lank vriende.

“Dit is baie interessant om dwarsdeur die inperking met Sophia te gesels,” sê hy. Op 86 kan sy dit ook nie waag om aan die virus blootgestel te word nie en sonder sy haar in haar woonstel in Genève, Switserland, af. “Sophia is baie bang. Sy het dit nodig om te praat, en ons het al ’n paar wonderlike gesprekke gehad.”

Hy stuur ook vir haar kat-memes om haar te help moed skep.

Pieter-Dirk Uys in 2015 saam met Sophia Loren in Genève, Switserland. Hy en die Italiaanse silwer­doekgodin is al dekades lank goeie vriende.

Is dit nie dalk al tyd dat hy weer aan die werk spring nie? Hy het verlede jaar drie aanlyn vertonings gedoen wat goed ontvang is – hoekom nie nog nie? Ja, dit was lekker om die vertonings te doen, sê Pieter, maar dit het vreemd gevoel om alleen in ’n klein ateljee te wees.

Hy het dit gemis om sy gehoor te sien. Buitendien is daar deesdae nie veel om oor te lag nie, met covid-19 wat steeds verwoesting saai.

“Niks hieraan is snaaks nie,” sê hy. Daarom kies hy om stil te bly eerder as om tot die geraas en verwarring by te dra.

Pieter-Dirk Uys
Hy mis die teateroptredes, maar die inperking het hom ook kans gegee om ’n baard te kweek en baie te lees. Foto: Verskaf

Hy gebruik liewer die tyd om ’n satiriese geskiedenisboek en ’n nuwe Evita-vertoning te skryf. En tussen alles deur het hy ’n hele nuwe voorkoms vir die 85-jarige ikoon opgetower, geïnspireer deur vroue soos Helen Mirren en Judi Dench.

Hy het ontslae geraak van Evita se donker lokke en dit met ’n sjiek kort grys kapsel vervang. Hy hoop hy sal binnekort Evita se nuwe pruik kan opsit en haar weer op die verhoog lewe gee, maar hy het aanvaar dit gaan nie gebeur tot die entstof wyd beskikbaar is nie.

“Ek maak op die entstof staat om ’n gehoor in my teater te laat sit sonder dat hulle bang word as iemand poep of hoes of nies.”

‘Ek sal my arm ontbloot en aan my kat dink terwyl hulle die naald insit’

Hy het self geen voorbehoude oor die inenting nie. “Ek sal met liefde my arm ontbloot, anderpad kyk en aan my kat dink terwyl hulle die naald insit.” Dan sal dit eindelik veilig wees om weer op die verhoog te verskyn.

“Dit sal so lekker wees om ’n regte gehoor te hê en my ná die vertoning na die voorportaal te haas vir selfies saam met fans,” sê Pieter. En hy kan nie wag om weer te reis nie – na Londen, Berlyn en Parys om sy vriende te sien.

“Na Genève ook,” voeg hy by. “Om Sophia te sien en haar ’n groot druk te gaan gee.” 

Kom neem deel aan die gesprek

Volg Huisgenoot op Facebook, Twitter, Instagram en TikTok, en teken gerus in op ons nuusbriewe