Maar nou, terwyl die coronakrisis en die inperking die vermaakbedryf ’n knou gegee het, het Armand iets heeltemal nuuts aangepak.

Met sy nuwe virtuele konsert, Inbly-konsert: kaggels, kerse en kinderstories, lees Armand en sy ma, Petra (67), sewe kinderstories voor uit Leon Rousseau se boek My Storiekis.

“Ja, dit is persoonlik. Ek betrek my ma by iets wat wêreldwyd beskikbaar is,” vertel Armand aan Huisgenoot. “Ek is nou al 14 jaar in die bedryf; vir my is hierdie projek dus tweede natuur, maar vir haar is dit iets heeltemal nuuts,” voeg hy by.

Armand Aucamp
Armand en sy ma toe hy nog 'n kleuter was. Foto: Verskaf.

Armand is tans besig om ’n oudioboek deur Jan Vermeulen, Asem, vir ’n maatskappy op te neem. Hy het dit goedgedink om sy ma se stem ook te laat opneem sodat sy op die databasis van stemkunstenaars ingesluit kan word.

“My ma het drama ge-swot en het ’n beautiful stem. Sy is ook betrokke by die Stellenbosse poësiekring en lees baie voor,” vertel Armand.

Sy het toe ’n opname gemaak van W.O. Kühne se geliefde kinderboek Huppelkind. “Ek het onmiddellik hoendervleis gekry en is dadelik teruggeplaas na my eie kinderdae toe,” sê Armand.

As kind was hy mal oor Huppelkind en het hy dit al talle kere gelees.

Armand Aucamp
Foto: Verskaf.

Oorstelp met die nostalgie van sy ma se stem wat een van sy gunstelingkinderstories lees, het die idee om kinderstories op te neem vinnig vlam gevat. Hoewel Armand aanvanklik Huppelkind wou opneem, bestaan daar reeds ’n oudioweergawe van dié boek. Dus is daar op Storiekis besluit.

Om sy ma by ’n aanlyn konsert betrokke te kry was “kardinaal”.

“Die hele aanslag tot hierdie projek is my ma se stem; die nostalgie wat ek ervaar het toe ek dit weer hoor,” vertel Armand.

“Dit was óf my ma doen dit saam met my óf ek pak dit glad nie aan nie,” voeg hy beslis by.

Armand is deel van ’n baie hegte gesin en deel baie oor sy ervarings as akteur met hulle.

Armand Aucamp
Armand, sy ma, en sy pa, Chris. Foto: Verskaf.

Pa Chris is ’n historikus en oudlektor in geskiedenis en sy ma was voorheen ’n dosent in Afrikaans. “Albei my ouers is dus baie lief daarvoor om stories te vertel,” vertel Armand.

Armand verskil van sy ouer broer, Christoff, sowel as sy jonger suster, Marcelle, met vyf jaar. Hy kan onthou hoe sy ma destyds ’n plan moes kweek om by almal op hul verskillende ouderdomme ’n liefde vir lees te kweek en met boeke te stimuleer. 

“Ek dink sy het op ’n kol besef sy gaan ons op ’n manier moet oorreed om dit self te doen,” sê Armand.

Petra het ’n plakkaat gemaak waarop die kinders met ronde plakkers ’n wurm kon vorm. Vir elke hoofstuk wat hulle klaar gelees het, kon die wurm se lyf met ’n ekstra kol groei en is die betrokke boekwurm met ’n R2 beloon.

Armand Aucamp
Foto: Verskaf.

“Ek dink nie my broer of suster het daardie inisiatief so aangegryp soos ek nie,” lag Armand. Hy was immers van kleins af ’n geesdriftige sakeman wat dikwels met ’n sakrekenaar in die hand te sien was.

Armand se liefde vir die kunste is beslis van ’n jong ouderdom deur sy ma gekoester, vertel hy. Toe sy broer en pa tydens die 1995-Rugbywêreldbeker in Port Elizabeth vir die Springbokke teen Kanada gaan kyk, was Armand en sy ma na die stadsaal toe om ’n vertoning van Nataniël by te woon.

Hulle het toe in Fort Beaufort in die Oos-Kaap gewoon en elke jaar het hulle die Nasionale Kunstefees in Grahamstad bygewoon.

“My ma het maande vooruit haar program beplan. Ek het saamgegaan en dan het ons teater gaan kyk en na musiek geluister,” onthou Armand.

Armand Aucamp
Foto: Verskaf.

Nou kon hulle weer opnuut hul liefde vir die kunste, nes destyds, saam in ’n projek uitleef. Hoewel Petra aan die begin ’n bietjie op haar senuwees was, het sy dadelik ingestem toe Armand haar vir die virtuele konsert nader. “Sy het vir my gesê: ‘Jy weet wat jy doen en ek vertrou jou,’” sê hy.

Armand het vier stories gekies om voor te lees en Petra drie, en Armand het ook die die regie behartig. 

“Dit is vir my lekker om my ma se gawe van storielees en talent wat sy het, te kan deel,” vertel Armand.