Craig Lucas was reg.

Danksy die prysgeld van R250 000 kon hy uit sy nege-tot-vyf-werk in die staatsdiens bedank en voltyds op sy sangloopbaan fokus.

Sy liedjies het boaan die trefferlyste geboer en ’n swetterjoel aanhangers het elke beweging van hom getrou in die sosiale media gevolg. 

Terwyl hy oënskynlik op die kruin van die suksesgolf gery het, het niemand van die stille stryd in sy binneste geweet nie.

Vir sy roem het hy ’n duur prys betaal, want ter wille van sy loopbaan het hy besluit om dit vir die wêreld weg te steek dat hy gay is.

Hy onthou hoe ’n vraag oor sy liedjie Smother, wat oor verhoudings gaan, gereeld in radio-onderhoude opgeduik het.

“Ek sou sê: ‘Nee, ek is enkellopend. Ek wens ek was in ’n verhouding.’ ” En dit terwyl hy geweet het sy kêrel luister by die huis na die onderhoud. “Dit het hom seergemaak, maar hy het baie begrip getoon,” vertel Craig (25) in ’n koffierestaurant in die V&A Waterfront in Kaapstad.

Ook vir hom het dit bitter ongelukkig gemaak om die waarheid te verswyg. Maar hy erken: “Dit was my keuse om mistroostig te voel.” 
Toe hy besluit om oop kaarte oor sy seksualiteit te speel, was dit asof ’n berg van sy skouers afrol.

View this post on Instagram

swipe left 4 a surprize ??

A post shared by Craig Lucas (@craigdlucas) on

In die brief wat hy onlangs op Twitter, Facebook en Instagram gedeel het, het hy ook roerend oor sy stryd teen depressie geskryf. 

Binne ’n paar dae het hy “duisende boodskappe”, meestal van steun, ontvang, vertel hy. “Mense vra vir my raad, sê hulle beleef dieselfde ding en dat my storie hulle ’n bietjie hoop gee.”

Sy mentor op The Voice, die sanger Kahn Morbee, en verskeie ander kunstenaars en radioaanbieders het hom ook van hul steun verseker. 

Al het kunstenaars soos die Britse sanger Sam Smith en die Spud-akteur Troye Sivan ook al in die openbaar uit die kas geklim, het dit vir Craig soos ’n groot waagstuk gevoel, omdat dit al selde of ooit in die Suid-Afrikaanse vermaakbedryf gebeur het.

“Die mark is so klein,” verduidelik hy, “dat mense bang is om enigiets te doen wat hulle ’n bietjie steun kan kos.”

Net soos sy groot oomblik op The Voice SA se verhoog in sy geheue ingebrand is, onthou hy die presiese oomblik toe hy besef het hy’s gay.

Dit het hom in 2011 soos ’n weerligstraal getref terwyl hy as 18-jarige in ’n kroeg gesit en aan homself erken het hy is verlief op sy beste vriend. 
Al het dit nooit op ’n verhouding tussen hulle twee uitgeloop nie, was Craig die volgende vier jaar in ’n “onophoudelike oorlog” met homself gewikkel.

As ’n seun uit ’n konserwatiewe gemeenskap in Elsiesrivier in Kaapstad, het hy geweet sy familie sou moeilik sy seksuele oriëntering kon aanvaar.

Hy het selfs ’n verhouding met ’n vrou aangeknoop om die skyn te bewaar. 

Maar sy innerlike stryd het voortgewoed en hom sy toevlug na drank en dwelms laat neem. Elke dag het hy dieper in depressie weggesink.

Dit het so erg geword dat dit hom byna tot selfmoord gedryf het. Vroeg in 2016 het hy dit ernstig oorweeg om uit ’n bewegende trein te spring. 
Dit het hom met ’n skok laat besef hy moet sy lewe regruk. Dieselfde dag het hy langs sy ma, Jennifer, op haar bed gaan lê en vir haar alles vertel – dat hy op ’n man verlief is. 

Sy was geskok. Hy het immers net ’n jaar tevore nog ’n verhouding met ’n vrou gehad. “Ons het albei gehuil. Sy het gevra of ek nie vir terapie wou gaan nie,” onthou hy.

Maar Craig het geweet daar is geen omdraaikans nie. Dieselfde dag het hy ’n ope brief geskryf en dit op sy persoonlike sosialemediabladsye gedeel, maar met ’n veel kleiner groep volgers as met sy jongste brief. 

’n Maand later het hy en sy huidige kêrel begin uitgaan. Craig verkies om nie sy naam te noem nie.

Toe hy verlede jaar vir The Voice inskryf, het vriende hom aangeraai om liewer sy seksuele oriëntering te verswyg, want hulle het gereken dit kon TV-kykers ontmoedig om vir hom te stem. 

Craig het hul raad gevolg en as’t ware teruggeklim in die kas. Nadat hy die tweede seisoen van die reeks gewen het, het hy verplig gevoel om vol te hou met die leuen, al het dit hom depressief gemaak.

In sy donker buie het hy dikwels sy ma, sy ouer broer Warren en sy kêrel te na gekom, erken hy.

“Ek het ’n aaklige mens geword teenoor die mense die naaste aan my.”

Wanneer depressie hom beetgepak het, het hy dae aaneen vir die wêreld wegkruip. “Ek sou elke dag in die bed lê en my huis sou smerig wees, want ek kon nie beweeg nie.” 

Toe hy op ’n dag op die brief afkom wat hy twee jaar gelede op Facebook geplaas het, het hy besef hy het weer daardie mistroostige mens in die kas geword wat hy vroeër was. 

Onder die druk van geheimhouding het sy en sy kêrel se verhouding ook ’n moeilike tyd deurgemaak. Dit het hom verder aangevuur om die dapper stap te neem.

“Dit was ’n geval van óf ek skryf die brief óf ek sterf,” verduidelik hy.

Op 4 September het hy sy skootrekenaar aangeskakel, sy hart uitgestort en dit met die mense die naaste aan hom gedeel. “Hulle was ’n bietjie ontsteld dat ek dit alles deurgemaak het sonder dat hulle daarvan weet.” 

Hy was eers nie van plan om dit in die sosiale media te plaas nie, maar toe tref dit hom dat dit dalk die beste manier sal wees om alles aan die groot klok te hang. 

“Ek het alles oordink terwyl ek ’n lekker pot lamskerrie gemaak het. Toe eet ek dit en die kerrie sê plaas dit,” vertel hy laggend. “Kerrie los alles op!”

Al is hy nou verlig om uit die kas te wees, worstel hy steeds met depressie. Ná sy emosionele plasing het verskeie sielkundiges na hom uitgereik.

As ’n seun uit ’n konserwatiewe gemeenskap in Elsiesrivier in Kaapstad, het hy geweet sy familie sou moeilik sy seksuele oriëntering kon aanvaar. Foto: Misha Jordaan

Craig oorweeg dit nou vir die eerste keer om professionele hulp kry. 

“In bruin gemeenskappe word daar nie oor depressie gepraat nie,” verduidelik hy. “Jy word aangesê om kerk toe te gaan, jou reg te ruk; of daar word vir jou gevra waarom jy so buierig is. Die brief was my hulpkreet.” 

Sy oorlede pa was ook ’n depressielyer. Hy het homself voor sy vrou geskiet toe Craig drie jaar oud was. 

“My pa se dood het selfmoord vir my ’n opsie gemaak. As hy dit kon doen, waarom nie ek nie?” vertel hy van die donker gedagtes wat by hom gespook het.

Die een ding wat hom altyd daarvan weerhou het, was die wete hoe ’n selfmoord die mense verpletter wat agterbly. “Ek kon my ma dit nie weer laat deurmaak nie. Daardie besef was my redding.” 

Craig werk nou aan ’n nuwe album. Daarop sal die liedjie Freedom wees, wat deur sy openhartige brief geïnspireer is. “Die beste musiek word uit pyn gebore,” sê die sanger wat al deur diep waters gegaan het.

Dan klink ’n laggie uit sy keel op wanneer hy vertel van party mense wat gekla het dat sy eerste album, Restless, te hartseer was. 

“As jy dink daardie een was erg, maak jou reg . . .” laat hy hoor. 

Maar die glimlag op sy gesig vertel ’n ander storie – dat sy hartseer dae van ’n leuen leef, nou verby is.