Bindi en Chandler het besluit om hierdie stap te neem voordat nuwe maatreëls vir troues in Australië om middernag Australiese tyd sou inskop. 

Die Australiese premier Scott Morrison het Dinsdag aangekondig dat streng maatreëls vir troues gaan geld tydens die coronavirus-pandemie.

Troues mag voortgaan indien slegs die paartjie, twee getuies en die persoon wat die troue behartig, dit bywoon. 

Bindi (21) het die blye nuus van haar troue op haar Instagram-profiel met haar volgelinge gedeel. 

"25 Maart 2020. Ons het ’n klein seremonie gehou en ek het met my beste vriend getrou. Daar is nie woorde om die hoeveelheid liefde en lig wat nou in my hart is te beskryf nie," het Bindi laat hoor.

"Ons het byna ’n jaar lank aan hierdie mooi dag beplan, en toe moes ons alles verander, aangesien ons nie gaste by ons troue gehad het nie. Dit was ’n baie moeilike besluit, maar belangrik om almal veilig te hou. Ons wens dat al ons familie en vriende saam met ons daar was, maar dit is nog steeds mooi dat ons foto's en video's sal kan deel.

"Vir nou moedig ons die wêreld aan om vas te hou aan hoop en liefde wat ons vorentoe sal vat in hierdie intense tydperk in die geskiedenis. Vandag het ons die lewe gevier en gejuig oor elke mooi oomblik wat ons in ons Australia Zoo-tuine kon deel," skryf die oudste spruit van Steve en sy vrou, Terri, by ’n foto van haar en haar eggenoot.

Bindi het ook meer oor die trouseremonie verklap en gedeel dat haar ma, Terri, en haar 16-jarige broer, Robert, ook in die dag met die paartjie kon deel.

"Ma het gehelp om my gereed te kry, Robert het my na die kansel vergesel, Chandler het my man geword en ons het ’n kers aansteek ter nagedagtenis aan Pa. Ons het trane en glimlagte en liefde gedeel. Aangesien ons as familie almal by die dieretuin woon, kon ons gelukkig daar wees vir mekaar. Aan almal wat dit lees, wees veilig, onthou om jou sosiaal te distansieër en onthou: Liefde wen!" het Bindi laat hoor. 

Bindi en Chandler het in 2015 begin uitgaan nadat hulle twee jaar vroeër ontmoet het. Chandler het in 2018 Queensland toe getrek om by Bindi en haar gesin te wees.  

Die paartjie het in Julie verlede jaar, op Bindi se 21ste verjaarsdag, bevestig dat hulle verloof geraak het. 

Sy het verlede jaar aan die tydskrif Hello! vertel dat sy haar pa op ’n spesiale manier by haar troue wou insluit. 

"Ek het gedink ’n paar koalas, miskien ’n buidelmuis wat my aan hom laat dink. Dis so spesiaal dat ons by die dieretuin kan trou; dit was Pa se gunstelingplek op aarde. Hy het dit met sy kaal hande gebou, so dit sal baie lekker wees om daaraan te dink terwyl ek die dag vier, omring deur liefde en lig," het die wildkenner vertel. 

Ekstra bronne: Hello! Daily Mail