“So iets bly ’n mens regtig by,” sê Darren aan Huisgenoot.

“Dis die eerste keer dat so iets met my gebeur.

“Ek verwerk dit nog. Ek probeer so normaal moontlik aangaan.” 

Darren is verlede Donderdagaand net ná seweuur deur drie mans by ’n besige kruising in William Nicolrylaan in Johannesburg beroof.

Darren sê hy het totaal uitgelewer gevoel omdat daar druk verkeer was en hy dus nêrens heen kon vlug nie.

“Die man wat die 9 mm-wapen teen my kop gehou het, was baie aggressief,” het hy vroeër in ’n Facebook-inskrywing gesê. 

“Ek sal hom of sy makkers nie herken nie (al kom hulle voor my staan), want al wat ek onthou, is daai 9 mm in my gesig en ’n vinger wat jeuk om die sneller te trek,” sê hy. 

Die rowers het met sy skootrekenaar, beursie en paspoort weggekom.

Hulle kon dit nie regkry om ’n ring van sy vinger af te steel nie. “Ek was bang hulle haal ’n tang uit en sny my vinger af om die ring in die hande te kry,” sê hy in die inskrywing.  

Hy vertel hy was bang die rower skiet hom net daar toe hy sy skootrekenaarsak agter sy sitplek vir hulle aangee.

Darren het voorts in sy Facebook-inskrywing vertel hoe hy drie metropolisiebeamptes padaf genader het om hulp, maar dat hulle nie probeer het om die rowers vas te trek nie. 

“Toe ek Mark en Matty (my seuns) by die huis sien, het ek begin huil. Hul stralende, onskuldige, gelukkige gesiggies ken nie die haat en skrikwekkendheid van so ’n situasie nie.” 

Hy vertel hy het verlede Vrydag ’n klag by die polisie ingedien en hulle het belowe om op tree en ook die drie beamptes te ondersoek. In ’n verklaring sê die hoof van Johannesburg se metropolisie, David Tembe, hulle sal tugstappe teen die beamptes doen. 

Darren sê hy wag nou om te hoor wat met die polisie en metropolisie se ondersoeke gebeur.