“Dinge het ’n bietjie verander sedert die vorige keer dat ek enkellopend was. Alles is nou in jou foon,” het Joshua (40) daardie jaar vir Ellen DeGeneres vertel.

“Daar word nie meer met mense gepraat nie. Jy praat met iemand en hulle sê: ‘O, nee, nee, nee, nee. Ons doen dit nie meer nie.’ Dis ’n taamlike groot verandering.”

In Junie vanjaar het dit begin gons dat Joshua en die 31-jarige aktrise Alyssa Julya Smith (Rebecca in die fliek Heist met Robert de Niro en Jeffrey Dean Morgan) aansienlik meer as net vriende is. Die gerugte het tot in September nog die rondte gedoen, maar dis onseker of die twee nog uitgaan.


‘Smoorverlief’

Maar dit lyk asof die akteur intussen weer aanbeweeg het. Hy is onlangs gesien terwyl hy alte danig met die aktrise Jodie Turner-Smith (32) van die TV-reeks Nightflyers raak.

Die twee het in Oktober by die sanger Usher se 40ste verjaardagpartytjie vir mekaar begin flikkers gooi.

“Hulle kon mekaar nie uitlos nie,” vertel ’n ooggetuie. “Hulle het smoorverlief ­gelyk.”

Jody is tans te sien in die grureeks Nightflyers.

Joshua en Diane

Joshua het in 2014 tydens sy verskyning op Conan O’Brian se program vertel dat sy eerste afspraak met Diane ’n absolute nagmerrie was.

Hy het haar probeer beïndruk deur haar na ’n spesiale restaurant te neem, maar kort voor lank het sy onbeheersd aan die nies gegaan vanweë ’n allergiese reaksie oor die blomme in die restaurant.

Hy het nie sake verbeter deur hopeloos te veel te praat nie en toe hy haar wou soen, was dit die spyker in die romantiese doodskis.

Joshua het die volgende dag vir haar ’n bos blomme, reg gelees – ’n bos blomme, gestuur om die vorige aand se fiasko te probeer beredder. Maar daar was iets ekstra by: ’n sneesdoekie . . .

Hy het gedink dis skreeusnaaks, maar haar Duitse bloed het nie die gebaar waardeer óf die snaaksigheid daarvan ingesien nie.

Dit het hom twee jaar lank in die vriendskapsone ‘parkeer’ voordat hulle romanties by mekaar betrokke geraak het.

Diane het in 2017 gesê hulle het maande voor hulle eindelik uitmekaar uit is reeds opgebreek. “Jy breek nie net oornag op ná 10 jaar saam nie.”

Sy gaan vanaf Maart 2017 uit met Norman Reedus van The Walking Dead. Sy het op 2 November vanjaar geboorte gegee aan hul eerste kind saam, ’n dogtertjie.

Diane Kruger en Norman Reedus. Foto: Taylor Hill/Getty Images

Bronne: harpersbazaar.com, usmagazine.com, pagesix.com