Maar dié wroegings is duidelik iets van die verlede, want James van der Beek wat die rol van Dawson Leery vertolk het, is deesdae pa van vyf, en boonop is ’n sesde spruit op pad. En dit lyk of hy as gesinsman floreer.

James en sy vrou, die vervaardiger Kimberley van der Beek, het onlangs die babanuus in die werklikheidsreeks Dancing with the Stars gedeel, waarin hy tans 'n deelnemer is.

Die pad tot hier was nie sonder uitdagings nie. Hulle moes soos baie ander paartjies drie miskrame verwerk tussen die geboortes van Olivia, Joshua, Annabel, Emilia en Gwendolyn. 

“Oorstelp van vreugde om aan te kondig nog ’n bondeltjie vreugde het ons as gesin gekies,” het James op Instagram geskryf. Hy vertel hy en Kimberley het in die verlede soms vir tot drie sonars gegaan voor hulle uitgevind het daar is nie meer ’n hartklop nie of dis ’n skynswangerskap.

“Miskrame is iets waaroor mense selde praat,” skryf James. “En dikwels in stilte deurmaak. Maar daar moet geen skuldgevoelens hieroor wees nie of wanneer jy jouself die tyd en ruimte wil gun om daaroor te treur nie.

“Ons het besluit om oop te wees daaroor in die hoop om afbreek te doen aan die sinlose stigma wat hieraan kleef en om mense aan te moedig wat hierdeur gaan –  sodat hulle hulself kan oopmaak vir die liefde en steun van familie en vriende in ’n tyd dat hulle dit die nodigste het.  

“Gelukkig vir ons – dié keer – het ons met trane van blydskap uitgestap.”

James het vir People gesê die enigste raad wat hy vir mense het, is dat hulle moet besef dat hulle nie hulself uit so ’n situasie kan redeneer of praat nie. “Jy moet jouself toelaat om daardeur te gaan en daar wees vir mekaar. 

“Jy kan nie die pyn oordeel nie, jy kan nie die proses oordeel nie.”