Eers moes die sanger Jacques de Coning en sy vrou, Lynn, hulle seun Basil (24) in 2014 aan die dood afstaan toe hy in ’n gru-botsing in Port Elizabeth gesterf het.

Verlede jaar het Lynn ook in die intensiewe waakeenheid op geëindig toe sy interne bloeding opgedoen het en asof die De Conings nie klaar genoeg pyn ervaar het nie, moes hulle in die tyd wat Lynn in die hospitaal was ook Jacques se pa, Basil sr., groet. Hy is dood weens hartkomplikasies.

Toe moes die gesin ook Sondagoggend hoor hulle geliefde pa en eggenoot het ook gesterf.

Die 54-jarige liedjieskrywer en sanger is omstreeks 10:30 dood toe hy op die pad tussen Alexandria en Boesmansrivier in die Oos-Kaap met ’n aankomende motor gebots het.

Jacques was veral bekend vir sy vertolking van bekende FAK-liedjies.

“Die familie is stukkend. Hulle wil met niemand praat nie en ons probeer ook om hulle privaatheid in hierdie stadium te respekteer,” sê Tarryn Hamilton, ’n jare lange familievriendin van die De Conings.

“Hy ry daardie pad amper ses tot sewe keer ’n week,” vertel Tarryn.

“Niemand sou ooit kon dink dat hy op daardie pad sal verongeluk nie.”

Jacques word deur sy vrou en sy dogter, Joani, oorleef.

“Ek is veral bekommerd oor Joani,” sê sy.

“Ek weet nie hoe sy so baie pyn kan verwerk nie. Dit was eers haar broer, toe haar oupa en nou haar pa.”

 

Tarryn sê geen van die De Conings se nabye vriende en familie het al kontak met óf Lynn óf Joani gehad nie.

“Ek dink hulle het verskriklike pyn en ons wil hulle privaatheid respekteer.

Lynn se foon was af toe Huisgenoot haar probeer kontak het.

  • Daar word 21 Junie 21:00 ‘n konsert van Jacques de Coning op kykNET NOU, DStv kanaal 146, uitgesaai: Jacques De Coning: Afrikaans My Trots.

Herdenkingsdiens

Vrydag (11:00) by Father's House-kerk, Patersonweg 30, Noordeinde, Port Elizabeth.