Die komediant Kathy Griffin het Maandag onthul sy het longkanker. Foto: Getty Images/ Gallo Images
Die komediant Kathy Griffin het Maandag onthul sy het longkanker. Foto: Getty Images/ Gallo Images

Die aktrise en komediant Kathy Griffin (60) het Maandag op haar Instagramblad bekend gemaak sy het fase een-longkanker.

“Ek moet julle iets vertel. Ek het kanker. Ek gaan binnekort opereer word, waar die helfte van my linkerlong verwyder sal word. Ja, ek het longkanker al het ek nog nooit gerook nie!”

Volgens CNN het Kathy jare terug haar hare in solidariteit met haar suster, Joyce, afgeskeer nadat haar suster chemoterapie moes ontvang. Die aktrise het al twee sibbe aan kanker verloor. Haar ouer broer, Gary, het in 2014 sy stryd teen kanker van die slukderm verloor. USA Today berig Kathy se suster, Joyce, is ook in September aan kanker oorlede. 

Kathy is egter hoopvol dat sy nie bestraling of chemoterapie moet ondergaan nadat die helfte van haar linkerlong afgesny word nie.

Sy voorspel ook sy sal hopelik binne 'n maand of minder weer op die been wees.

Kathy maak ook in haar plasing bekend sy is ten volle teen die koronavirussiekte ingeënt en sê daar sou moontlik erger nagevolge vir haar gewees het indien sy nie ten volle ingeënt was nie.

Nightline, wat deel vorm van die Amerikaanse nuusagentskap ABC News, het ‘n twiet geplaas waarin die aktrise onthul sy het sowat twee weke terug uitgevind dat longkanker by haar gediagnoseer is.

Kathy sê ook in die twiet sy is steeds geskok oor wat met haar gebeur.

Dié onderhoud is Maandagaand in Amerika uitgesaai.

Bronne: CNN, USA Today,

Kom neem deel aan die gesprek

Volg Huisgenoot op Facebook, Twitter, Instagram en TikTok, en teken gerus in op ons nuusbriewe