Vir Demi Lee (29) is haar suster, Aimee Ackers (32), haar grootste inspirasie en ongelooflik braaf nadat sy in Januarie 2018 van ’n poegie in Thailand afgery is.

"Sy het so seergekry hulle sê vandag nog dit is ’n wonderwerk dat sy lewe nadat die dokters na haar breinskandering gekyk het,” vertel die Kaapse sangeres aan Huisgenoot.

"Haar skedel het inmekaar geval en word vandag regop gehou deur vier plate in haar voorkop. Haar neus was gebreek in vier plekke, haar wangbene het vergruis en die linkerkant van haar gesig by haar oog het agtertoe geskuif," vertel Demi Lee.

Aimee het ook haar sleutelbeun, skeenbeen en kuitbeen gebreek. Haar linkervoet was regdeur oopgesny. Die dokters het alles moontlik gedoen om haar suster se voet te red, sê Demi Lee.

"Hulle het vir ons gesê die kans is groot dat hulle haar voet gaan moet afsit. Haar hak het ná die hegting ongelukkig doodgegaan en hulle moes haar hak heeltemal afsny. Die dokters in Suid-Afrika het toe vir haar 'n nuwe hak gebou uit die res van haar voet. Dit is eintlik ongelooflik,” vertel Demi Lee. 

Sy onthou duidelik die hartverskeurende oomblik toe sy die nuus gekry het dat Aimee in ’n ongeluk was. Dit was vir haar die ergste oomblik van haar lewe, vertel sy. 

"Ek was op pad lughawe toe om Thailand toe te vlieg en my suster sou ons in Bangkok gekry het. Toe ek by die huis stop, staan my ma in die voordeur. Ek het dadelik geweet iets is fout. Ek het net gegil 'lewe sy, lewe sy?'," onthou Demi Lee.

Ná 24 uur was Demi Lee eindelik by haar suster in die hospitaal. Aimee se eerste woorde aan haar was: "Hallo, vlooi", vertel Demi Lee.

Die sangeres agter die liedjie Mis Eet Slaap Herhaal het onlangs in ’n Instagram-inskrywing vertel hoe trots sy op Aimee is. "’n Jaar gelede is jy met die Here se genade vir ons gespaar!" het sy vertel by ’n kiekie van hulle saam.

"Dit was hartverskeurend om jou in soveel pyn te sien, maar ook so ongelooflik inspirerend om te sien hoe jy opgestaan en geveg het en steeds elke dag doen! Hulle het jou ’n jaar gegee voor jy kan loop nadat jy helfte van jou voet verloor het, maar binne vier maande het jy almal verkeerd bewys! Ek weet dis nog ’n lang pad . . . Ek weet daar is nog operasies wat voorlê en baie fisio, maar ek wil net vir jou sê hoe trots ek op jou is!"

Aimee, ’n Suid-Afrikaanse kampioen in Latyns-Amerikaanse dans en baldans, het amper ’n jaar ná die ongeluk weer gaan dans. "Sy het heeltyd vir die dokters gesê sy wil net eendag weer kan dans, sy hoef nie te loop nie. Net dans," vertel Demi Lee.

Hoewel Aimee ongelooflike vordering maak ná die ongeluk, moet sy nog ’n paar operasies ondergaan. Volgens Demi Lee gaan die plate in haar been, enkel en sleutelbeen verwyder word, maar wat haar gesig betref, lê daar komplikasies voor. "Hulle kan die gedeelte vorentoe bring wat ingeval het, maar sy hardloop die risiko om haar sig in daardie oog te verloor," vertel Demi Lee. 

Die twee susters het ’n ongelooflike hegte band. Sy en Aimee doen amper alles saam en sien mekaar elke dag, vertel Demi Lee, wat in Durbanville in die noordelike voorstede van Kaapstad woon.

"My familie beteken alles vir my! Ek sou nie vandag hier wees as dit nie was vir hulle liefde en motivering nie," sê die sangeres. "Ek dink altyd terug hoe my suster vir ure geloop en al my plakkate by ’n fees opgesit het. Sy sal enigiets vir ons doen en ons ook vir haar."

Hulle is baie dieselfde, soms te veel so, grap sy. "Ons vriende sê altyd as ons speletjies speel soos 30 Seconds dat ons nie in dieselfde span mag wees nie, want ons dink dieselfde en ken mekaar te goed," sê sy. 

Die susters sing ook al te lekker saam by die huis en volgens Demi Lee is Aimee ook onsettend lief vir musiek, veral countrymusiek.

Sy het ook net goeie herinneringe van hul grootwordjare. "Ons het altyd konserte gehou. As enigiemand kom kuier het, moet hulle almal eers sit sodat ons kan sing en dans vir hulle! Dit was ons gunsteling-ding om te doen," vertel sy.