Sy was op die loopplank vir die wêreld se voorste ontwerpers, het die planeet platgereis en selfs by die Verenigde Nasies se Algemene Vergadering gepraat. Nou kom die sprokiesjaar van ons Mej. Heelal, Demi-Leigh Nel-Peters, tot ’n einde wanneer sy die blink kroon op 17 Desember op haar opvolger se kop plaas.

Maar sy het meer as genoeg herinnerings om ’n leeftyd lank te koester.

“Die jaar het al my verwagtings oortref, die bestes en die slegstes,” vertel die skoonheid uit die woonstel in 57th Street, New York, wat die afgelope jaar haar huis was.

Sy is net 23 jaar oud; daarom was dit te wagte dat sy soms oorweldig sou voel.

“’n Mens besef nie wat dit van jou vat om na ’n ander land te trek waar jy niemand ken nie, nuwe vriende moet maak en die vervoerstelsel moet leer ken nie. En dit was vir my erg sonder my hond, Benji. Gelukkig stuur my ma darem elke dag vir my foto’s van hom.”

Hoewel die Groot Appel nie altyd ’n maklike plek is om in te woon nie, het die stad hom in haar hart ingewurm, vertel sy. Die gewoel wat nie eens snags ophou nie, die konstante getoeter van die geel taxi’s, die helder ligte van Times Square; sy het op alles verlief geraak.

En ook op ’n man: die beroepsbofbalspeler Tim Tebow. Dié twee het mekaar in April vanjaar ontmoet en gou begin ogies maak. Hul verhouding het eers in Julie bekend geword toe sy suster, Katie, ’n foto op Instagram deel van Tim met sy arm om Demi-Leigh se slanke lyf.

“Ja, ek het ’n man hier ontmoet,” erken sy. “Ek dink ons was nogal diskreet en het ons privaatheid mooi beskerm. Ons kies wat ons wil bekendmaak oor ons verhouding; dis hoe ons albei dit verkies. Ek het verhoudings nog altyd ernstig opgeneem, ook dié met vriende, en dis iets waaraan ek baie waarde heg. Ek raak nie by verhoudings betrokke as ek nie potensiaal sien op lang termyn nie, want ek dink dis net te spesiaal.”

 Demi-Leigh Nel-Peters
Al was sy so besig, het Demi tyd gekry om ’n verhouding te begin. Sy en die Amerikaanse beroepsbofbalspeler Tim Tebow is sedert April ’n paartjie.
 Demi-Leigh Nel-Peters
Al was sy so besig, het Demi tyd gekry om ’n verhouding te begin. Sy en die Amerikaanse beroepsbofbalspeler Tim Tebow is sedert April ’n paartjie.

Sy kyk nou terug op haar opwindende jaar en sê sy sal altyd dankbaar wees vir die deure wat vir haar oopgemaak is. “Wat jy glo, is wat jy sal bereik,” sê sy.

“Ek was nooit seker dit sou my lewe wees nie. Maar diep in my hart het ek hiervan gedroom en gewerk om dit te bereik.”

As ’n mens na Demi se Instagramfoto’s kyk, lyk haar lewe so blink en opwindend, jy kan nie anders as om ’n bietjie jaloers te voel nie. Die lewe in die betonoerwoud pas haar soos ’n handskoen: Op elke foto kan jy haar deur ’n ring trek met haar volmaakte grimering, blink bos hare en ontwerpersklere.

Maar moenie dink dis alles maanskyn en rose nie, sê Demi gou. “Mense dink ek word soggens wakker en ’n haarstilis en grimeerkunstenaar staan gereed om my mooi te maak. Dis nie so nie,” verduidelik sy.

“Dis ’n voltydse werk om Mej. Heelal te wees. Baie kere het ek drieuur in die oggend van ’n oorsese reis teruggekom en dan moes ek negeuur die oggend by ’n geleentheid wees. Ek weet nie hoe ek dit gedoen het nie. Ek het myself verras.”

 Demi-Leigh Nel-Peters
Die pragtige Demi het nou ’n kontrak met die vooraanstaande model­agentskap IMG Models geteken om van 2019 af modelwerk vir hulle te doen.

Sy vertel van ’n paar keer dat sy onverwags teenspoed gehad het. Een was dat taxibestuurders haar skeef aangekyk het wanneer sy van die “robot” gepraat het; hulle ken dit as ’n “traffic light”.

Sy kon ook nie sommer in ’n apteek instap om haar gebruiklike pynstiller te koop nie, want dit is nie hier beskikbaar nie. Die een ding waarop sy trots is, is dat sy getrou gebly het aan haarself.

“Ek dink nie ek het my aksent verloor nie. Mense vra my nog waar ek vandaan kom. Terloops, hulle dink die Suid-Afrikaanse aksent is mooi,” vertel sy.

“Ek praat baie Afrikaans, of hulle dit nou verstaan of nie. Afrikaans is so beskrywend. Ek kan nooit, wanneer ’n stilis met my hare besig is, verduidelik ek is nie kleinserig nie.”

Sy het vreeslik na haar mense verlang, veral toe haar pa, Bennie Peters (55), ’n rugoperasie moes ondergaan, haar ma, Anne-Mari Nel (57), ’n nekoperasie moes kry en haar sussie, Franje (12), siek geword het.

“Dit was moeilik om nie daar te wees met die operasies nie. Jy kan nie net in jou motor klim en daarheen ry nie. Toe my sussie siek was, was dit moeilik om aan die ander kant van die aarde te wees. ’n Mens voel so hulpeloos.”

 Demi-Leigh Nel-Peters
Die twee se ouers het mekaar ontmoet toe Demi se mense in September in New York gekuier het. Van links is Demi se stiefpa, Johan, haar ma, Anne-Mari, Tim, Demi-Leigh, Demi se stiefma, Elzabé, haar pa, Bennie, en Tim se ouers, Pamela en Robert.

Daarby maak die tydsverskil tussen die lande dinge ingewikkeld. (Suid-Afrika is sewe uur voor New York.) “Ek word wakker wanneer almal by die huis bed toe gaan.”

Gelukkig het albei haar stelle ouers haar besoek. In September het Bennie en haar stiefma, Elzabe (44), en Anne-Mari en haar stiefpa, Johan (60), New York toe gekom.

“Ons het ’n stadstoer gedoen; Brooklynbrug, Grand Central Station, 5th Avenue, Central Park. Dit was pret,” sê sy. Om die kroon te span was Tim en sy gesin ook in die stad en kon almal mekaar beter leer ken.

Demi en Tim (31) het mekaar einde April ontmoet nadat hy ’n onderhoud gesien het waarin sy oor haar suster praat. Franje is met subtotale serebellêre ontwikkelingstuiting gebore. Dit is ’n seldsame toestand waar die brein sonder ’n serebellum (kleinharsings) ontwikkel.

Hy het haar toe gekontak omdat sy stigting, die Tim Tebow Foundation, bewustheid skep en geld insamel vir kinders met spesiale behoeftes.

Tim hou elke jaar ’n formele dans vir kinders met gestremdhede in 20 lande wêreldwyd, insluitend Suid-Afrika. Dié dans is amper soos ’n matriekafskeid.

“Tim het my, Franje en ons ouers genooi om by die geleentheid betrokke te raak,” sê Demi-Leigh.

“Ons het daaroor begin gesels en mekaar beter leer ken.”

Tim het in ’n onderhoud met die sportkanaal ESPN gesê Demi “is ’n spesiale vrou en ek is gelukkig en geseën dat sy in my lewe is”.

Die twee is familievas en gelowig.

 Demi-Leigh Nel-Peters
Sy het haar eerste Dankseggingsfees saam met die Tebowfamilie in Florida beleef. Van links is Tim se broer Peter en sy vrou, Kenin, Tim se swaer Joey en sy suster Christy, Tim se broer Robby, sy suster Katie, Tim en Demi-Leigh.

Demi-Leigh se stiefma, Elzabé, het vroëer aan Huisgenoot gesê Tim se geloof is vir hom net so belangrik soos dit vir Demi is. Hy is ’n lid van die Fellowship of Christian Athletes, wie se lede onderneem om ’n maagd te bly tot hulle trou.

Hy deel ook gereeld Bybelverse met sy 1,4 miljoen aanhangers op Instagram.

Demi en Tim kry nie baie tyd om saam te wees nie, want albei se program is propvol. Wanneer hulle wel kuiertyd het, gaan eet hulle in hul gunstelingrestaurante, kyk flieks en voer diep gesprekke.

Demi hou daarvan om vir hom kos te maak.

“Hy volg ’n ketogeniese eetplan (baie vet, matige hoeveelhede proteïen en min koolhidrate); dus is dit altyd vir my lekker om nuwe resepte te probeer uitdink.”

Dis Dankseggingsnaweek in Amerika toe ons gesels en Demi is besig om haar tasse te pak, dié keer vir ’n naweek in Florida saam met die Tebows.

Dit sal sy eerste besoek aan Suid-Afrika wees; dus is ek opgewonde en ek wil dit spesiaal maak vir hom. Ek wil hom wys waar ek grootgeword het.

“Ek sien uit na my eerste regte Amerikaanse Danksegging,” sê sy.

Dit was ’n jaar vol eerstes. Sy het meer as 16 lande besoek, onder meer Egipte, Thailand, Indonesië, Mexiko, Frankryk, Ecuador en Indië.

Sy het in September in New York die Verenigde Nasies toegespreek as ambassadeur van Smile Train, ’n organisasie wat kinders met ’n gesplete verhemelte help.

Nadat sy haar kroon kort voor Kersfees in Thailand aan haar opvolger oorhandig het, gaan sy nog nie heeltemal tot siens sê aan haar lewe in Amerika nie.

Sy beplan om in New York te bly en het ’n modelkontrak met IMG Models daar geteken. Hulle bestuur topmodelle soos Gigi en Bella Hadid, Rosie Huntington-Whiteley en Candice Swanepoel.

“Ek wil graag voltyds modelleer en wil meer werk as motiveringspreker doen,” sê Demi.

“Ek is mal oor die modebedryf en hopelik sal ek my graad in sakebestuur en entrepreneurskap in daardie rigting kan aanwend.”

Vir Kersfees kom sy vir ’n week huis toe, waar sy tussen haar twee ouerhuise op Sedgefield en in Potchefstroom sal kuier. En die kêrel kom saam.

“Dit sal sy eerste besoek aan Suid-Afrika wees; dus is ek opgewonde en ek wil dit spesiaal maak vir hom. Ek wil hom wys waar ek grootgeword het.”

En teen die einde van Tim se kuier hier in haar hartland sal hy hopelik net so versot wees op biltong en braaivleis soos sy. 

Haar hoogtepunte

 Demi-Leigh Nel-Peters
Op 26 November 2017 is Demi-­Leigh Nel-­Peters as Mej. Heelal gekroon. Dit was die tweede keer dat ’n Suid-­Afrikaner dié titel wen. Op Instagram het Demi-­Leigh die volgende oggend by ’n foto van haar kroning geskryf: “Is dit ooit ’n werklikheid?” By nog ’n foto het sy gesê sy dra die kroon op aan elke seun en meisie wat al ’n droom gehad het. “Niks is onmoontlik nie! Suid-­Afrika, ek is lief vir jou.”
 Demi-Leigh Nel-Peters
Kort daarna het ons in die sosiale media gesien hoe sy New York toe trek. “Ek eet kaaskoek op ’n bankie in Times Square. Iets op my emmer­skoplysie is gedoen.”
 Demi-Leigh Nel-Peters
Haar grootste hoogtepunt was toe sy ná haar kroning in Suid-Afrika kom kuier het, vertel Demi-­Leigh. “Ek kon sien hoe bly almal vir my was. ’n Meisie het na my toe gekom en gesê: ‘Weet jy ek wou nog nooit ’n skoonheids­koningin wees of ’n skoonheidskompetisie wen nie, maar jy het my geïnspireer om my lewe ten volle te leef en my drome en doelwitte na te jaag.’ Sulke boodskappe motiveer my.”
 Demi-Leigh Nel-Peters
Gedurende haar kroningsjaar het sy lande soos die Filippyne, Ecuador, Libanon en Indonesië ­besoek. Sy het ook in Parys, Frankryk, gekuier (LINKS) en die modehuis Lipault se bekendstelling van hul nuwe reeks bygewoon, wat in samewerking met Jean Paul Gaultier gedoen is.
 Demi-Leigh Nel-Peters
In Augustus het sy die Amerikaanse Ope-tennis­toernooi saam met Mej. ­Verenigde State, Sarah Rose Summers, bygewoon.
 Demi-Leigh Nel-Peters
In dieselfde maand het sy die eerste foto gedeel van haar en die bofbalspeler Tim Tebow. Hy het verjaar en sy het daarby geskryf: “Geluk met jou verjaardag, Timmy. Jy is ’n helder lig in so baie mense se lewe. Jy moet die beste dag hê.”
 Demi-Leigh Nel-Peters
In September het sy die Gateway of India besoek, waar sy die kroning van Mej. Indië bygewoon het.
 Demi-Leigh Nel-Peters
Nog ’n hoogtepunt was toe sy in September by die Verenigde Nasies se Algemene Vergadering as ’n ambassadeur van Smile Train ’n toespraak gelewer het. “Ek het saam met hulle Mexiko toe gereis en by ’n operasie ingesit. Hulle maak die gebit heel van kinders wat met ’n gesplete lip en verhemelte gebore is.”
 Demi-Leigh Nel-Peters
In Oktober het sy die piramides in Egipte besoek. Sy en dr. Zahi Hawass, ’n kenner van en skrywer oor Egiptiese argeologie, het mekaar hier ontmoet.
 Demi-Leigh Nel-Peters
Meer onlangs het sy haar eerste herfs in New York beleef en dit met ’n fotosessie tussen die kleurryke herfsblare in Central Park gevier.
Wat sê Demi-Leigh se ouers?

Demi-Leigh se twee paar ouers – pa Bennie en stiefma Elzabé en ma Anne-Mari en stiefpa Johan – gloei oor hul dogter se prestasies.

“Dit maak my trots om te sien hoe sy almal om haar geïnspireer het,” sê Anne-Mari.

Dit was moeilik om ’n hele jaar so ver van haar dogter te wees, maar hulle kon in haar reis deel.

“Ek mis haar baie, maar ons het ’n sterk band en praat amper daagliks en Skype gereeld,” sê Anne-Mari.

Bennie sê danksy tegnologie soos WhatsApp, FaceTime, e-pos en Instagram het hulle op die hoogte gebly van wat in Demi se lewe aangaan.

“Ons glo sy moet die ruimte hê om haar voete in die volwasse wêreld te vind sonder dat ons haar hand vashou. As jy ’n kind grootmaak deur vir hulle te sê die wêreld staan oop vir hulle, kan jy nie aanstoot neem wanneer hulle in ’n ander deel van dié wêreld wil leef nie.”