Haar foto’s lyk soos iets uit die blaaie van ’n glanstydskrif. As sy nie ver reise oor die aardbol onderneem nie, speel sy model in asemrowende skeppings met New York se heldergeel taxi’s op die agtergrond.

Die soort ervarings waarvan die meeste gewone sterflinge net kan droom, is deesdae net nog ’n dag in die glanslewe van Demi-Leigh Nel-Peters.

“Ek word steeds elke oggend verwonderd wakker,” gesels die Suid-Afrikaanse donkerkopskoonheid oor haar lewe in die Groot Appel, waar sy ná haar jaar as Mej. Heelal aangebly het en nou vir haar ’n loopbaan as model en motiveringspreker uitkerf.

“Die stad kan jou motiveer en aanmoedig, maar dit kan ook maklik jou gees breek. New York is mededingend en ek verstaan heelhartig wat Frank Sinatra bedoel het met: New York . . . if I can make it there, I’ll make it anywhere.”

Sedert Demi-Leigh (24) as Mej. Suid-Afrika van 2017 in die kollig verskyn het, het die brunet uit Sedgefield, ’n skilderagtige dorpie in die Suid-Kaap, internasionaal naam gemaak as Mej. Heelal, vastrapplek in die mededingende New York gekry en nuwe liefde in Amerika gevind.

Demi-Leigh in New York
Foto: Hanri Human

Vanjaar was tot dusver vir haar ’n warrelwindjaar. Nie net het die einde van haar jaar as Mej. Heelal aangebreek nie; die kringloop word voltooi wanneer sy vandeesmaand op Vrouedag, 9 Augustus, weer by die Mej. Suid-Afrika-kompetisie optree; dié keer as een van die beoordelaars wat die wenner onder die finaliste moet aanwys.

“Ek was al in al daardie vroue se skoene,” sê Demi-Leigh kort voor haar vertrek uit New York aan Huisgenoot. “Ek verstaan wat hulle in elke aspek van die kompetisie ervaar.

Ek weet ook hoeveel moeite ek as deelnemer gedoen het en hoeveel toewyding dit verg om nie net ’n nasionale titel nie, maar een van die moeilikste internasionale titels te wen.”

Al sal sy Suid-Afrika altyd as haar tuiste beskou, het Demi-Leigh ’n tweede tuiste in New York gevind. Dis ’n geval van jou huis is waar jou hart is, en ’n aantreklike Amerikaanse sportheld het haar hart gesteel.

In Januarie het Demi-Leigh aan Tim Tebow (31) verloof geraak. Hy is ’n voormalige NFL (National Football League)-quarterback wat nou vir die Syracuse Mets bofbal speel.

Demi-Leigh is druk besig om hul troue te beplan. Dit sal in volgende jaar gebeur, maar waar en wanneer is nog ’n dig bewaarde geheim. Terwyl sy haar daarop voorberei, is daar ook die hartseer wete dat haar kleinsus, Franje Peters, se plek dié dag leeg sal wees.


’n Seldsame, aangebore breintoestand, subtotale serebellêre agenesie, het in Mei vanjaar haar lewe op 13-jarige ouderdom kortgeknip. Sy kon onder meer nie praat nie.

“Om Franje te verloor was die moeilikste ding wat ek nog moes hanteer. Al het ek en sy nooit ’n gesprek gevoer nie, was daar steeds die spesiale susterlike band tussen ons,” vertel sy van die ernstig gestremde halfsuster wat haar geïnspireer het om voluit te leef.

“Sy sou my strooimeisie gewees het. Sy was 13 jaar lank ’n deel van ons almal se lewe en dis regtig moeilik om daarby aan te pas dat sy nie meer hier is nie,” sê Demi-Leigh.

Nadat Demi-Leigh verlede Desember haar opvolger as Mej. Heelal gekroon het, het sy eers ’n blaaskans geneem om ná haar bedrywige jaar as houer van dié gesogte skoonheidstitel te rus en ook die volgende fase in haar loopbaan deeglik te beplan.

“Baie mense dink dalk dat as jy eers iets bereik het soos om Mej. Heelal te word jou pad vir jou uitgelê is en jy sonder twyfel suksesvol sal wees. Dit is nie die werklikheid nie; die harde werk begin nou eers,” sê sy.

‘Baie mense dink dalk as jy eers iets bereik het soos om Mej. Heelal te word jou pad vir jou uitgelê is. Dis nie so nie; die harde werk begin nou eers’

Sy moes ook aan die begin van die jaar uit die Mej. Heelal-woonstel trek en woon nou in ’n woonstel in Manhattan.

“Dit is waar ek sal bly tot ek en Tim getroud is.” Die twee se paaie het in April verlede jaar gekruis danksy Demi-Leigh se geliefde kleinsus.

Franje is sonder ’n serebellum gebore, ’n deel van die brein wat normaalweg agter die boonste deel van die breinstam geleë is waar die rugmurg by die brein aansluit. Die verstandelike ontwikkeling en bewegings van lyers aan dié toestand word ernstig gestrem.

’n Onderhoud waarin Demi-Leigh van haar kleinsus vertel het, het Tim se aandag getrek, want mense met spesiale behoeftes lê hom na aan die hart. Hy het ’n eie stigting wat elke jaar die naweek voor Valentynsdag ’n skooldans vir mense met spesiale behoeftes in meer as 20 lande aanbied.

“Hy het my en my gesin, my suster inkluis, genooi om by die skooldans betrokke te raak wat hulle in Suid-Afrika aanbied.

Ons het daaroor begin praat en dit is basies hoe ek skat ons mekaar ontmoet het,” het Demi-Leigh verlede jaar in ’n onderhoud met Huisgenoot vertel.

Sy is nou dankbaar dat Tim vir Franje voor haar dood kon ontmoet toe hy Suid-Afrika verlede Desember vir die eerste keer besoek het.

“Ek was om baie redes opgewonde en bly dat hy Suid-Afrika toe gekom het. Een van die hoofredes was dat hy Franje kon ontmoet. Ek is so dankbaar vir die tyd wat hy in Desember saam met haar kon deurbring. Dit was vir my spesiaal om vir hom te wys waar my wortels lê en ’n tyd wat ek altyd sal onthou,” sê sy.

Tim het Kersfees by haar en haar familie in Suid-Afrika deurgebring. Toe hy met hul terugkeer na Amerika haar na die Tebow-familieplaas in Jacksonville, Florida, neem, het sy gedink dit is vir ’n laat Kersviering saam met sy familie.

View this post on Instagram

Merry Christmas ?????? #christmas #love #joy

A post shared by Demi-Leigh Nel-Peters (@demileighnp) on

Groot was haar verbasing toe hy daar ewe romanties voor haar kniel en met ’n knewel van ’n diamant van 7,25 karaat haar die jawoord vra. Hy het geen moeite of onkoste ontsien om die dag vir haar onvergeetlik te maak nie.

Tim het in die geheim Demi-Leigh se twee ouerpare – haar pa en stiefma, Bennie en Elzabé Peters, en haar ma en stiefpa, Anne-Mari en Johan Steenkamp, en haar naaste vriende Amerika toe laat vlieg om in die viering te deel.

Die kersie op die koek was toe die Suid-Afrikaanse musikant Matthew Mole sy opwagting daar maak – die hele pad uit Suid-Afrika – om hul gunstelingliedjie, The Wedding Song, vir hulle te sing.

“Enige drome wat ek ooit gehad het, jy het hulle almal oortref! Ek het jou lief ek kan nie wag om die ewigheid saam met jou deur te bring nie! @timtebow,” het Demi-Leigh daarna oorstelp op Instagram laat hoor, kompleet met foto’s van die huweliksaanbod so reg uit ’n sprokie.

“Wat hy beplan het, het al my grootste drome oor ’n huweliksaanbod oortref. Pinterest kan nie by hom kers vashou nie,” sê Demi-Leigh aan Huisgenoot.

“Hy noem my af en toe ‘prinses’, en daardie dag het ek soos niks minder as sy prinses gevoel nie. Alles waaraan hy gedink het en al die moeite wat hy gedoen het, sê baie oor die mens wat hy is. Ek kry steeds trane in my oë wanneer ek aan daardie pragtige dag terugdink.”

Deesdae hou die twee se druk werkprogramme hulle so besig dat hulle mekaar min te sien kry. Demi-Leigh het met die modelagentskap IMG Models NYC en met die vermaak-en-media-agentskap WME ’n kontrak onderteken en werk nou voltyds as ’n beroepsmodel, beïnvloeder en spreker.

“Ek hoop om iewers in die toekoms ‘eienaar van ’n sakeonderneming’ en ‘skrywer’ by die lys te voeg, maar vir eers is dit een tree op ’n slag. Ek sal my eerste veldtog onder IMG se bestuur einde Julie skiet en ek is baie opgewonde daaroor,” vertel sy.

“Vir die eerste keer in ’n paar jaar is ek my eie baas, my eie ‘uitvoerende hoof’, en in beheer van my eie program, en dit bring baie druk mee, want ek is geheel en al op myself aangewese.”

As sportster is Tim al heelwat langer in die kollig as sy, en hy steun haar deurgaans.

“Ek is dankbaar dat ek Tim as raadgewer het en by hom kan leer.”

Demi-Leigh in New York
Die model het gemaklik by ’n lewe in New York aangepas. Sy geniet die opwinding en die feit dat die Groot Appel nooit stil is nie. Foto: Hanri Human

Sy probeer vanjaar minder reis en keer sowat elke 10 weke na Suid-Afrika terug.

Dan kuier sy by haar familie en vriende, gaan eet by van haar gunstelingrestaurante en gaan na haar gunstelingspa. Maar sy het al daaraan gewoond geraak om van die huis weg te wees en ná haar troue sal sy in Amerika aanbly.

Die beplanning vir hul troue neem deesdae sowat 90% van haar tyd in beslag, vertel sy.

“Ek is dol oor elke oomblik van die beplanningsproses. Dit is soveel pret. Ek het nooit gedink daar is soveel detail aan ’n troue verbonde nie, maar ek is dankbaar vir ’n ongelooflike beplanner wat my bystaan en help om al my idees lewe te gee,” vertel sy.

“Om gereed te maak om met hierdie hoofstuk te begin om ’n huweliksmaat te wees is ’n groot verantwoordelikheid en een waarna ek elke dag uitsien,” voeg Demi-Leigh by.

“Ek is opgewonde om my lewensdoel saam met Tim uit te leef. Die wete dat ons albei oor dieselfde dinge in die lewe passievol is, is besielend.”

Maar saam met die blye vooruitsig van ’n sprokiestroue en ’n blink toekoms saam met die man van haar drome is daar steeds die hartseer oor die verlies van haar kleinsus. Oor die afstand maak Demi-Leigh die rouproses saam met haar familie deur.

“My pa, Elzabé en die oumas in Franje se lewe is mekaar se rots in hierdie tyd. Wanneer een van ons ’n slegte dag het, huil ons almal, en wanneer ons ’n goeie dag het, lag ons. My hart is nog lank nie heel nie; ek twyfel of dit ooit volkome heel sal word,” sê sy.

“Ek twyfel of ek ooit Franje se pragtige, aansteeklike glimlag en herkenbare laggie sal kan vergeet. Sy sal altyd my klein sussa wees.”

Demi-Leigh in New York
Die sprankelende Demi-Leigh is ’n beoordelaar by vanjaar se Mej. Suid-­Afrika-kompetisie, waar sy glo nog ’n jong vrou se droom waar gaan word. Foto: Hanri Human

Wanneer sy vandeesmaand terug is in Suid-Afrika, sal sy weer tyd saam met haar familie kan deurbring, maar dit sal ook vir Demi-Leigh ’n bedrywige tyd wees met dié dat sy die volgende Mej. Suid-Afrika moet help kies.

Watter raad het sy vir die volgende jong Suid-Afrikaanse skoonheid wat moontlik in haar voetspore kan volg?

“Wees eg en wees opreg. Wanneer jy praat, praat uit die hart. Wanneer jy glimlag, glimlag met alles in jou,” sê sy.

Demi-Leigh is opgewonde oor die “ongelooflike verantwoordelikheid” wat sy as beoordelaar het en kan skaars wag dat die volgende Mej. Suid-Afrika die ervaring smaak wat sy as “een van die beste agt maande van my lewe” beskou.

‘Wees eg en wees opreg. Wanneer jy praat, praat uit die hart. Wanneer jy glimlag, glimlag met alles in jou’

Haar kroning as Mej. Suid-Afrika was die wegspringplek na waar sy haar vandag bevind en sy hoop die volgende Mej. Suid-Afrika sal ook ’n uitstekende verteenwoordiger wees wat ons vlag met trots op die internasionale verhoog omhoog sal hou.

“Om Mej. Suid-Afrika te word laat jou lewe letterlik oornag verander,” sê sy.

“Teen die tyd dat jy die kans kry om te besef wat pas gebeur het, is drie maande al verby en die meeste daarvan in ’n waas. 

“Jy leer, pas aan en word vinnig groot. Dit is werklik ’n dol jaar, maar ook ’n onvervangbare jaar.”