Die bofbalspeler en die gewese Mej. Heelal Demi-Leigh Nel-Peters het in Januarie in Franschhoek in die Wes-Kaap afgehaak. Hulle het kort daarna hul wittebrood op die prentjiemooi Maledive gehou.

Die 33-jarige motiveringspreker het onlangs aan die tydskrif People vertel dat kinders “absoluut” op hul agenda is. “Ons het beslis al daaroor gepraat. Ek weet nie wanneer dit die regte tyd sal wees nie. Maar dis iets waaroor ons praat en waarvoor ons hoop,” het hy in die onderhoud gesê. 

View this post on Instagram

A post shared by Demi-Leigh Tebow (@demitebow)

Tim en Demi (25), wat op 'n gholflandgoed in Florida in die VSA woon, het reeds drie hondekinders, Paris, Kobe en Chunk. Die drie het selfs hul eie Instagramblad. 

Weens die covid-19-pandemie wat die wêreld tot stilstand geruk het, het hy en Demi 'n "onverwagte lang wittebrood", het Tim aan People vertel. "Ons het beslis meer tyd gehad as wat ons verwag het. Terwyl daar baie teleurstellings is, dink ek dis belangrik om die silwer randjie te sien. En een daarvan is dat ons baie meer tyd saam deurbring, wat spesiaal is."

Tim, wat Amerikaanse voetbal gespeel het voor hy die skuif na bofbal gemaak het, is ook 'n motiveringspreker en skrywer. Sy eerste kinderboek, Bronco and Friends: A Party to remember, word volgende jaar uitgereik. 

Die boek vertel die storie van diere met verskillende uitdagings en vermoëns. “Ek hoop dat elkeen wat dit lees, aanmoediging daarin vind, en verstaan dat almal waardevol is vir God se groot partytjie,” het Tim op Instagram aan sy 2,3 miljoen volgelinge geskryf oor dié boek. 

Die buiteveldwerker vir die New York Mets het ook onlangs aan die bofbalbeheerliggaam Major League Baseball se webtuiste gesê dat hy nog lank nie gereed is om sy kolf weg te sit nie. 

Sedert hy in 2016 van sportkodes verander het, het Tim gemengde welslae gehad as bofbalspeler. Hy het in 2018 en 2019 beserings aan sy linkerhand opgedoen wat hom langs die kantlyn gehou het en vanjaar is die laer liga-seisoen weens die coronavirus-pandemie gekanselleer. 

Sedert hul troudag koer Tim en sy vrou, Demi-Leigh, gereeld oor mekaar in die sosiale media. 

“Ek is mal oor hierdie tyd van jaar,” het Tim in Oktober op Instagram geskryf by ’n foto waar hy en Demi liefdevol na mekaar staar. 

Op haar beurt het Demi in September laat hoor: “Maan, berg, sonsondergang, see, maar hy kyk steeds vir my. Ek is lief vir jou.”

Die twee is ook glad nie bang om gek te skeer met mekaar in die sosiale media nie, soos in hierdie video van hulle en hul honde wat regmaak vir universiteitsvoetbalwedstryde.

Selfs die manier hoe Demi, 'n boorling van Sedgefield in die Wes-Kaap, en haar Amerikaanse man Engelse woorde verskillend uitspreek, sorg vir komiese oomblikke tussen die twee.

Demi gee ook gereeld vir haar Instagramvolgelinge 'n kykie na haar lewe in Amerika. "Versamel oomblikke soos dié," het sy by een foto geskryf waar sy en Tim hande vashou terwyl hulle oor die pragtige natuurskoon uitkyk.

Demi het onlangs op Instagram vertel hoe baie sy haar stralerjakkerbestaan mis. "Ek mis dit om te reis, veral Suid-Afrika toe, maar ek is ook dankbaar dat ek hierdie jaar die geleentheid gekry het om te werk aan gesond leef. Vlugvoosheid is 'n werklikheid vir my en ek sukkel erg daarmee. Selfs 'n uur se tydverskil vat aan my," skryf sy in die inskrywing by foto's van 10 lande wat sy al besoek het. Hieronder is Frankryk, Griekeland, Italië en Indonesië.

Demi en Tim het in Oktober die pad gevat om Amerika te verken en die eerste stop was in Savannah, Georgia. "Dit was soveel pret," het sy op Instagram geskryf. "Ek het heeltemal te veel gebraaide kos geëet, maar dit was alles die moeite werd."

Hul tweede stilhouplek was in Charleston in Suid-Carolina. "Dit was so moeilik om te besluit waarheen om te gaan," skryf sy op Instagram. "Alles was so wonderlik en mooi en so smaaklik."

Sy het verder vertel hoe Tim geduldig gewag het wanneer sy vir die "100ste keer" geboue afgeneem het wat presies nes ander gelyk het wat hulle reeds gesien het. "Ek weet nie hoe ek so gelukkig is nie. Lief vir jou @timtebow," het sy laat hoor.


Bronne: People, Penguin Random House, MLB.com