Sedert die voormalige Mej. Heelal Demi-Leigh Nel-Peters en die Amerikaanse bofbalspeler Tim Tebow vir mekaar begin ogies maak het, kon aanhangers nie genoeg van hierdie skouspelagtige verhouding kry nie.

Om die kroon te span het Tim nou op een knie afgegaan en ’n knoets aan Demi-Leigh se vinger gesit.

“Dankie dat jy ja gesê het en my die gelukkigste man op aarde maak. Jy is die liefde van my lewe, en ek kan nie wag om die res van my lewe saam met jou deur te bring nie,” het Tim (31) op Instagram gekoer.

“Jy het enige drome wat ek al ooit gehad het, oortref. Ek is lief vir jou en kan nie wag om die res van vir ewig met jou te spandeer nie,” het Demi-Leigh (23) by foto’s van die tweetjies geskryf. 

Dié twee het mekaar in April laasjaar ontmoet en ’n vuurwarm romanse het sommer vinnig opgevlam. Hul verhouding het eers in Julie ’n paar maande later bekend geword toe sy suster, Katie, ’n foto op Instagram deel van Tim met sy arm om Demi-Leigh se slanke lyf.

“Ek het verhoudings nog altyd ernstig opgeneem, ook dié met vriende, en dis iets waaraan ek baie waarde heg. Ek raak nie by verhoudings betrokke as ek nie potensiaal sien op lang termyn nie, want ek dink dis net te spesiaal,” het Demi-Leigh onlangs in ’n onderhoud aan Huisgenoot vertel.

View this post on Instagram

NYE????

A post shared by Demi-Leigh Nel-Peters (@demileighnp) on

Volgens People het Tim vir Demi-Leigh op sy ouers se landgoed in Jacksonville in die Amerikaanse deelstaat Florida die jawoord gevra. Die superstilis Werner Wessels was ook daar en het die oomblik op ’n baie speelse manier vasgevang. "Ek was eintlik geensins gespanne nie," het Tim aan People verklap. "Ek was opgewonde. Ek wou gehad het dat alles perfek moes wees en vlot verloop, maar ek was nie op my senuwees om haar te vra nie."

View this post on Instagram

The Queen got her King!??????

A post shared by Werner Wessels (@werner_wessels) on

Gelukwensings het val alle oorde af ingestroom en die plasings op hul Instagram-blaaie het gesamentlik oor die 270 000 ‘likes’ gekry.

“Baie geluk! Wat ’n pragtige ring. Alles van die beste,” skryf een aanhanger by die kiekies.

“Ek is so bly. Ek het gehoop julle gaan binnekort die knoop deurhaak. Drome word tog waar,” laat nog een hoor.