In die voorprent sê Demi (28) sy het drie beroertes en ’n hartaanval gehad en dokters het vir haar familie gesê sy het “nog vyf of 10 minute oor om te leef”.

Die sangeres het in Julie 2018 by die dood omgedraai ná 'n byna dodelike oordosis oksikodoon by haar huis in Hollywood. Dit was net ’n maand nadat Demi, wat nog altyd oop kaarte gespeel het oor haar stryd teen dwelms en drank, in haar enkelsnit "Sober" erken het dat sy weer van die wa af geval het.

Die voorval in 2018 het haar met fisieke beperkings gelaat wat haar vandag nog raak.

“Ek het breinskade opgedoen en leef vandag nog met die gevolge daarvan,” het sy in ’n onderhoud vroeër vandeesmaand bekendgemaak.

“Ek bestuur nie, want ek het blinde kolle in my visie. Ek het vir ’n lang ruk gesukkel om te lees. Dit was ’n groot prestasie as ek ’n boek kon lees, al het dit my twee maande gevat omdat my sig so swak was.”

Die rede agter haar besluit om dié dokkie uit te reik is eenvoudig sy wil hê haar aanhangers moet die ware storie hoor en ander help wat hulself in soortgelyke situasies bevind.

“Ek wil net vir die wêreld sê: ‘Hallo, dit is wat gebeur het, dit is hoe ek daardeur gekom het, en hopelik kan dit jou ook help’, want hierdie reis was woes,” het sy in die televisieprogram The Ellen DeGeneres Show gesê. 

“Maar ek het soveel geleer en ek kan nie wag om dit met die wêreld te deel nie.

Demi sê ook sy “sou niks verander” aan die nadraai van die oordosis nie.

“Ek moes baie gevolge hanteer, en ek voel dis nog daar om my te herinner aan wat kan gebeur as ek ooit weer in daardie donker plek beland,” sê sy.

“Alles moes gebeur sodat ek die lesse kon leer.”

Die sangeres en aktrise het ook in die program gesê dat haar nuwe haarstyl haar gehelp het om te genees. Sy spog sedert November 2020 met 'n kort framboospienk kapsel. 

Demi, wat in die verlede openhartig gepraat het oor haar stryd teen 'n eetversteuring, vertel hoe sy agter haar langer hare weggekruip het. “Ek voel so vry. Dit voel meer soos ek,” het sy gesê. 

Die sanger en aktrise het onlangs 'n nuwe kapsel g
Die sangeres en aktrise het haar lang lokke vir 'n korter kapsel verruil. Foto: Getty Images/Gallo Images

“Ek het baie gepraat oor my verlede en dat ek van ’n eetversteuring herstel het. Ek gebruik my hare om agter dit weg te kruip. Dit sou my hele liggaam toe maak. Toe ek al hierdie werk aan myself begin doen, het ek gedink: ‘Wat is iets wat ek my hele lewe lank vasgehou het wat ek moet los?’ En dit was dit. Ek voel nou meer soos myself.”

Die dokumentêr is ’n opvolg van haar YouTube-dokkie Simply Complicated wat sy in 2017 uitgereik het. 

Die jongste dokumentêr bevat ook kommentaar van mede-musikante soos Elton John en Christina Aguilera, asook haar besties Sara Elizabeth Mitchell, wat bekend is as Sirah, en Matthew Scott Montgomery. Demi se ma, Dianna De La Garza, stiefpa, Eddie De La Garza, en susters verskyn ook in die dokkie.

Demi Lovato en Max Ehrich. Foto: Instagram/@maxehrich

Ander onderwerpe wat in die lokprent aangeraak word is onder meer haar heroïengebruik en haar kortstondige verlowing aan die akteur Max Ehrich (29).  Die paartjie het in Julie 2020 verloof geraak, maar die verlowing het net drie maande gehou voor hul paadjies geskei het.

Kom neem deel aan die gesprek

Volg Huisgenoot op Facebook, Twitter, Instagram en TikTok, en teken gerus in op ons nuusbriewe