Derick het omtrent in die sosiale media gekoer en vertel hoe geen vrou al ooit so by haar man gestaan het soos Nádine by hom nie. Nádine het op haar beurt dié oulike boodskappie met haar eie aangevul.

"365 sakkies sout, my ding," het sy geskryf by ’n kiekie van hulle twee saam. "Party sommer net ’n knippie sout en ander sakke te groot om agter op ’n Toyota te laai. Sommiges gemis, oor party gelag maar meeste saam geeët. Dankie vir jou aanhou en probeer verstaan. Vir ’n beautiful hart. En vir die my en jou wat jy altyd ’n 'ons' maak."

’n Jaar gelede het hulle nie veel van hul verhouding aanlyn gedeel nie, maar deesdae koer die twee duifies gereeld in die kuberruim. 

Derick het Sondagoggend ’n foto uit Nádine se kinderdae gedeel om hul eerste jaar as paartjie saam te vier. Op die foto sit Nádine op ’n speelgoedtrekker. By die kiekie skryf Derick hoe sy nog steeds met ’n "six pack" spog. "Wow. Die voetjies nog net so oulik,” skryf Derick. "Geluk my lyf."

Nádine het ook sommer vroegoggend op Sondag in haar Instagram-stories ’n foto van ’n pragtige fyn silwer armband met diamante gedeel. Die hartjie wat sy by die foto geteken het, verklap dat dit wel ’n geskenk van iemand spesiaal in haar lewe is. 

Nádine het Sondag ’n foto van ’n armband gedeel. Foto: Instagram.

Hoewel die meeste aanhangers die paartjie net geluk en voorspoed toegewens het, kon sommige nie die versoeking weerstaan om oor trouplanne te praat nie.

“Baie geluk, julle. Ons wag in spanning,” het een van Nádine se volgers op Twitter laat hoor by ’n ikoon van ’n trouring.