Hulle is nou pas ’n jaar saam – en selfs meer smoorverlief as aan die begin.

Hy, die aantreklike uitgetrede rugbyspeler, en sy, die innemende sangeres en aanbieder.

Sowaar ’n glanspaar soos min. Dit lyk of Derick Hougaard (35) en Nádine (36) ná die kronkelpaaie van hul liefdeslewe iets moois en durends by mekaar gevind het en of hulle mekaar verstaan.

Al wil die twee nog nie onderhoude oor hul verhouding toestaan nie, koer hulle gereeld in die sosiale media oor mekaar.

Met die eerste herdenking van hul pad saam op 22 Julie het Nádine op Instagram geskryf: “365 sakkies sout, my ding. Party sommer net ’n knippie sout en ander sakke te groot om agter op ’n Toyota te laai. Sommiges gemis, oor party gelag, maar die meeste saam geëet. Dankie vir jou aanhou en probeer verstaan. Vir ’n beautiful hart. En vir die my en jou wat jy altyd ’n ‘ons’ maak.”

Derick, oftewel “Dirkie”, soos sy meisie hom noem, het op dieselfde dag ’n foto van Nádine as ’n dogtertjie op Twitter gedeel en daarby geskryf: “Die six pack steeds daar, wow. Die voetjies nog net so oulik. Dankie vir sewe sakke sout. In jou geval 22 sakke. Geen vrou het al ooit ’n man so bygestaan nie. Geluk, my lyf. Year 1.”

Byna dadelik het een van Nádine se aanhangers op Twitter ’n emoji van ’n verloofring geplaas en laat hoor: “Ons wag in spanning.” Lui trouklokkies binnekort vir die oud-Blou Bul en sy meisie, die aanbieder van die musiekprogram Musiek Roulette op SABC2?

Omdat dié twee swyg, het ons by sterrevoorspellers aangeklop om te hoor wat die hemelliggame oor hul sprokiesliefde verklap.

Nádine is op 28 Februarie 1982 in Durban onder die sterreteken Visse gebore. Derick is ’n bietjie meer as ’n jaar later, op 4 Januarie 1983, duisende kilometers daarvandaan, op die Wes-Kaapse dorpie Citrusdal onder die sterreteken Steenbok gebore.

Sielsgenote? Die sterre voorspel . . .

Hoe is ’n Steenbok gewoonlik in ’n verhouding?

Steenbokke neem graag die leiding en hou daarvan om in beheer te wees, sê die Kaapse astroloog Dianne Garven. “As die Steenbok ’n man is, wil hy gewoonlik ’n vaderfiguur in ’n verhouding wees.”

Volgens die Kaapse heldersiende Bruno, aanbieder van die gelyknamige VIA-program, tree ’n Steenbok beskermend en selfs besitlik in ’n verhouding op.

’n Steenbok voel beïndruk deur innige komplimente, sê hy.

“As sy maat hom komplimenteer en sy ego streel, kom hulle baie goed oor die weg.”

Steenbokke kan dikwels saaklik en gespanne wees, sê Rod Suskin, ’n astroloog van Kaapstad.

“Hulle moet hul spelerige en emosionele kant wys. ’n Geliefde kan maklik dink die Steenbok-maat is te ernstig en ’n grompot,” sê Rod.

Bruno voeg by: “Steenbokke is ook teruggetrokke en verkies om ’n braai saam met ’n paar vriende by die huis te hou pleks daarvan om uit te gaan.”

Daai smile van jou..... ?? #11mnde #mauritius

A post shared by Nádine (@nadinenet) on

Hoe is ’n Vis gewoonlik in ’n verhouding?

Visse is talentvol, dikwels geheimsinnig en het romantiese siele, sê Bruno. “Om die liefdesvlam aan die brand te hou, moet ’n geliefde nie vir hulle dinge koop nie.

Dit gaan vir Visse meer oor die romanse,” sê hy. Volgens hom is hulle lief vir mense en geniet aandag en die kollig. Visse is sensitief, maar neem dinge soms te persoonlik op, sê Dianne.

“Die Vis se maat sal dalk iets sê en nie bedoel om haar seer te maak nie, maar sy sal steeds seergemaak voel.”

Bruno beaam dié sensitiwiteit. “Dit is soms die ergste ding van hul sterreteken – hulle is hul eie grootste vyand.”

Visse kan soms besluiteloos wees, voeg hy by. “As jy na die Visse-sterreteken kyk, sien jy een vis wat in een rigting swem en die ander in die teenoorgestelde rigting. Maar hulle ontgroei dit later,” sê Bruno.

Dís hoekom ’n Steenbok en ’n Vis goeie pasmaats is

Die verhouding tussen ’n Steenbok en ’n Vis is een van vriendskap en kameraadskap, sê die Kaapse astroloog Richard Fidler.

“Dit verbeter kommunikasie tussen die twee en help dat hulle pret en avonture saam beleef.” Bruno beaam ’n Steenbok en ’n Vis is gewoonlik ’n “goeie kombinasie” in ’n verhouding en voeg by hul verhouding dobber nooit rond tussen iewers en nêrens nie.

Dit gaan óf baie goed óf baie sleg, want albei het sterk gevoelens, sê hy. ’n Steenbok en ’n Vis is daarom ook albei in staat tot diep en opregte liefde vir mekaar, sê Rod.

“As hulle bereid is om hul ware self vir mekaar te wys, kan hulle ’n onafskeidbare paartjie wees.”

Dianne meen ’n Steenbok en ’n Vis, onderskeidelik ’n aardse en ’n waterteken, vul mekaar goed aan omdat hulle in sekere opsigte so verskillend is. Waar ’n Steenbok byvoorbeeld graag die leiding neem, is ’n Vis meer aanpasbaar en sal sy dinge gelate aanvaar.

Nog ’n pluspunt is dat dié twee dinge kan uitwerk sonder om op mekaar te skree, sê Dianne.

Wat is die uitdagings?

’n Steenbok en ’n Vis wys nie altyd hoe hulle regtig voel nie, sê Rod.

Die gevoelens wat in hul binneste broei, is dikwels diep en betekenisvol, maar op die oppervlak lyk hulle kalm.

“’n Steenbok kan koud en ongevoelig voorkom,” sê Rod. Visse kan dinge weer diep voel, maar sal nie sommer daaroor praat nie. “Hulle vermy konflik,” verduidelik Rod.

“Die uitdaging is dus om te kommunikeer, want nie een van die twee weet wat die ander voel nie,” verduidelik Rod.

Die grootste gevaar van ’n verhouding tussen dié twee sterretekens is dat die Steenbok dit kan oorheers. Boonop maak Visse makliker toegewings in ’n verhouding, sê Dianne.

“Hy kan gefrustreerd raak met haar traak-my-nie-agtige houding, terwyl sy hom as te ernstig kan sien,” sê Rod.

Om te verhoed dat dit gebeur, moet ’n Steenbok en ’n Vis take gelyk verdeel, is sy raad. “Die Vis moet meer betrokke wees by praktiese dinge en nie toelaat dat die Steenbok altyd die voortou neem nie,” maan Rod.

Hy sê ’n Vis moet ook vir ’n Steenbok verduidelik hoe sy voel en nie aanneem hy weet nie. ’n Steenbok is ambisieuser en sal die minder ambisieuse Vis soms druk om haarself te verbeter, sê Dianne.

“Maar hy moet haar nie te hard druk nie. Hy moet haar ruimte gee om haarself in die verhouding te vind.”

Dianne sê omdat die sterretekens so goed oor die weg kom, kan ’n romantiese verhouding tussen ’n Steenbok en ’n Vis soms in ’n platoniese vriendskap verander.

...daai oomblik in n dag... #madememories #bolandseklong

A post shared by Nádine (@nadinenet) on

“Hulle moet versigtig wees dat die dinamiek nie in dié van ’n broer-en-suster-verhouding ontaard nie.”

Dianne voeg by ’n Steenbok het soms ’n fobie vir verbintenis. “Hy sal dalk sê hy is reg vir ’n verhouding, maar het dan nog ’n innerlike tweestryd tussen ’n verbintenis en sy vryheid.

“Visse is van nature gereed vir ’n vaste verhouding,” sê Dianne. Dinge kan dus gekompliseerd raak as die Vis se verwagtings nie verwesenlik word nie.

“Dit gaan nie daaroor of die twee by mekaar pas nie. Hulle is saam, wat beteken hulle is reeds aangetrokke tot mekaar, maar ons moet kyk na die dinamika tussen hulle,” sê Dianne.

“Die Steenbok moet leer om nie altyd in beheer te wil wees nie en die Vis moet leer om grense vir haar geliefde te stel.”

Goeie tye. Goeie wyn. Goeie harte. #makingmemories #bolandseklong

A post shared by Nádine (@nadinenet) on

Dít kan ook in ag geneem word

Richard sê die verdere besonderhede van hul sterrekaarte skets ’n belowende prentjie.

“As jy die besonderhede van Derick en Nádine se astrologiese kaarte bestudeer, is dit opvallend dat Venus, die romantiese en sensuele planeet, met die twee se geboorte op byna presies dieselfde plek in die hemelruim was. Dít is die ware bron van hul wedersydse aantrekkingskrag en die vonk tussen hulle. Hulle sal mekaar waarskynlik altyd aantreklik vind, maak nie saak wat gebeur nie,” sê hy.

Boonop is Nádine en Derick volgens die Chinese jaarindeling albei in die jaar van die hond gebore, sê Bruno.

“En normaalweg kom twee van dieselfde Chinese sterretekens baie goed oor die weg.”

Bruno het ook die paartjie se tarotkaarte gelees en sien sowaar daarin die koms van ’n tweeling.

Hy voorspel: “Dit sal ’n meisie en seuntjie wees.”