Vir die voormalige Springbok-losskakel was vanjaar vol steil opdraandes soos die openbare stryd met sy finansies – en ook met drank, pille en depressie.

Daar was die een vernederende openbare voorval ná die ander: soos die beskuldigings van verneukery toe foto’s van Derick en ’n vreemde blondekopvrou – alleen in ’n kroeg en hotelkamer – op sosiale media versprei is. 

En nes die balju aan sy deur kom klop het oor die stapels onbetaalde rekeninge, gebeur die die seerste nóg: Sy seuns, die blondekopseuntjies uit sy huwelik met Karlien van Jaarsveld, word van hom af weggevat.

In ’n openhartige onderhoud met Huisgenoot in April vanjaar, waarin Derick gepraat het oor sy verslawing en terugslae, het hy nog vertel: “Ek was die afgelope vyf maande ’n absolute idioot. Ek het myself versuip. Drank was nog nooit vir my ’n probleem nie, maar in die laaste vyf maande het ek gedrink tot ek omval en nie meer reguit kon loop nie.”

Maar nou is dit alles in die verlede – en Derick kyk vorentoe. Hy lag weer; hy het weer hoop vir die lewe – en vir homself.

Foto: Fani Mahuntsi

“Ek het 35 jaar lank ’n reguit pad gestap. En die laaste twee jaar het my tor kompleet afgeval. Maar ek het myself opgetel; aanbeweeg – en nou gaan dit met my skitterend,” vertel Derick aan Huisgenoot.

“Ek kan dit natuurlik nie ontken nie: Die laaste paar maande was ongelooflik uitdagend. In een stadium het dit vir my gevoel my grootste fout was om eerlik te wees. Want terwyl ek geleer is dat die waarheid jou vry maak, geld dit nie vir almal nie. Hoe meer eerlik ek was, hoe meer stokke het ek vir ander gegee om my mee by te kom.”

Hy wil nie aanhou praat oor sy uitdagings nie – veral nie die finansiële uitdagings nie – maar beaam gereeld: Hy is nou op ’n goeie plek, en hy het aanbeweeg van daardie dinge wat hom vir so lank gevange gehou het.

Maar vir hom, nes vir baie ander, vat sy eie persoonlike, pynlike verliese ook lank om te verwerk. Soos daardie rugbybesering in 2011 – toe Derick met ’n draagbaar van die veld gedra is nadat hy sy achillestendon geskeur het – wat eindelik sy florerende rugbyloopbaan kortgeknip het . . . 

“Dis een van die grootste leemtes in my lewe. Ek het altyd geweet rugby is my passie, ja. Maar ’n mens besef nie hoe groot rol dit in jou lewe speel tot jy dit verloor nie. Jy besef nie hoe groot leemte dit gaan veroorsaak wanneer jy nie meer aktief daarin betrokke is nie.”

Maar met ’n moeilike paar jaar agter hom, het hy talle lesse geleer. En seker die belangrikste, sê Derick, was om na ander uit te reik.

Derick Hougaard
Derick se nuwe voorkoms. Foto: Twitter
Derick Hougaard en die sangeres Nádine is al 20
Derick Hougaard en die sangeres Nádine is al 20 maande saam, maar hul verhouding is ’n ernstige knou toegedien ná ’n voorval in ’n Pretoriase hotel. Foto: Instagram/@nadinenet

“Dit vat ’n man om te vra vir hulp, of om te erken dat jy hulp nodig het,” sê hy moedig.

“Daar is goor en moeilike tye agter my. Veral toe ek die pille en drank gemeng het. Ons is nie geleer presies wat die uitwerking daarvan is nie . . . of presies hoe gevaarlik so iets kan wees nie. Jy drink dalk jou medikasie saam met net een glas wyn, dalk twee, maar die gevolg daarvan is ontsettend erg. Maar ek is nou oukei. Ek is staande.” 

Dis veral sy sangeres-meisie, Nádine, wat hom die laaste paar maande staande gehou het. Dis sý wat hom weer laat glo in onvoorwaardelike liefde.

“Ons is op ’n baie goeie plek en baie gelukkig saam. Vir ons is die lekkerste om ’n doodgewone verhouding te hê: privaat – en nie om alles wat met ons gebeur of waardeur ons gaan aan die wêreld uit te basuin nie.” 

Derick is alleen tuis terwyl Nádine tot die 23ste Desember in België toer.

“Ek het die Kersboom opgeslaan – maar ek wag nog vir haar om terug te kom sodat sy die boom kan versier,” terg hy.

Derick Hougaard en die sangeres Nádine is al 20
Derick Hougaard en die sangeres Nádine is al 20 maande saam, maar hul verhouding is ’n ernstige knou toegedien ná ’n voorval in ’n Pretoriase hotel. Foto: Instagram/@nadinenet

“Buiten daarvoor, pas ek maar huis op. Alarmstelsels is mos deesdae vrek duur. Ek het myself anderdag vir net ’n halfuur lank so bejammer . . . Ek het onthou hoe vol my dae was toe ek in 2009 weg is uit Suid-Afrika om klubrugby te speel. En omdat ek home alone is, het ek sommer net heimwee gehad.”

En die trane sit ook maar vlak as hy die honderde karavane en waentjies op die paaie sien . . . 

“Dan hou ek my kop maar besig met my planne vir ’n skopskool waar ek jong mense – en hulle ouers en onderwysers – op holistiese wyse van die tegnieke wil leer. Ek het dalk nie die pos as skopafrigter by die Bulle gekry nie, maar dís steeds waar my hart lê,” vertel hy oor die vooruitsig. 

’n Oomblik lank bly Derick stil. Dan sê hy: “Ag, maar ek is eintlik verskriklik gelukkig. Daar is soveel mense wat my onvoorwaardelik liefhet – soveel wat omgee. En ek is regtig, regtig opgewonde vir nóg ’n kans en nuwe geleenthede in die nuwe jaar.”

Kom neem deel aan die gesprek

Volg Huisgenoot op InstagramTwitterFacebookWhatsApp en teken gerus in op ons nuusbriewe.