“Dit vat my en los my en dan vat hy my weer, maar ek glo ek is nou oor die ergste,” vertel Derick Hougaard (38) nadat covid-19 verlede maand – nes by sy meisie, die sangeres Nádine – gediagnoseer is.

“Hy is nou nog nie heeltemal uit my sisteem uit nie, maar ek glo die ergste is nou vir my verby.”

Huisgenoot het vroeër berig covid is op Woensdag 30 Junie by Derick gediagnoseer en dat dit swaar met hom gaan.

 Derick en sy meisie, Nádine. Foto: Instagram
Derick en sy meisie, Nádine. Foto: Instagram

Vir hom was Dag 4 die taaiste.

“Jy voel asof jy in ’n rugbywedstryd was. Jou lyf is seer en jou kop is seer en jy kan nie regtig enigiets gebruik wat dit beter maak nie. Ek sal vir jou sê mense wat hierdie ding nou nog stééds nie ernstig opneem nie, voel ek moet hul kop laat lees. En as jy nou nog nie jou inenting gekry het nie, moet jy werk maak dat jy dit doen.”

Die oud-Springbok Derick Hougaard. Foto: Gallo Ima
Die oud-Springbok Derick Hougaard. Foto: Gallo Images/Sharon Seretlo

“Vandat ek die virus gehad het, moet ek ongelukkig nog 30 dae wag voor ek die inenting kan kry. Ek kon darem al wel registreer. Maar ek gaan hulle vat so vinnig as wat ek kan. Die ding is: Dit gaan nie net oor jouself nie; dit gaan ook oor die ander mense wat jy aansteek. Ja, party mense weet nie eens hulle het dit nie, maar party mense vat dit nie so goed nie. Party beland in ICU. Jy weet nie hoe dit jou gaan raak nie. Daar is die afgelope week of twee baie mense ná aan ons – my en Nádine – oorlede. So this thing is real. ’n Ou moet vir jou oppas en luister. Of jy nou saamstem met alles is irrelevant. Dis sleg vir almal. Ons almal sukkel. Ek sit nou ook in ’n posisie waar ek my bakkie moet verkoop. Ons is nou in survival mode. En dan in drie of vier maande kom die geld weer in en hopelik lyk dinge weer beter. Dit help nie ’n ou huil elke dag nie.”

‘’n Ou moet vir jou oppas en luister. Of jy nou saamstem met alles is irrelevant. Dis sleg vir almal.’

Hy vertel die ekonomiese klimaat het vir hom, wat in geleenthede en bemarking werk, hard getref.

“Jy weet jy sou nog vir my met ’n verkyker gekyk het, maar nou sien jy my hier langs jou. Maar dis ons almal. Covid het die speelveld gelyk gemaak. Dis skrikwekkend . . . Maar daar ís baie positiewe dinge ook. Ongelukkig lees ons ook maar net al die negatiewe goed in die koerante en op sosiale media, maar as jy hard soek, sal jy dit kry!”

Derick en die sangeres Nádine, met wie hy al vier
Derick en die sangeres Nádine, met wie hy al vier jaar lank in ’n verhouding is.

Derick vertel met Nádine, wat haar nuwe onderneming op die been gebring het, gaan dit ook beter ná covid en sy kyk vorentoe.“Jy weet, ek dink dit het nou maar almal se wagwoord geword: Vasbyt. Vasbyt en lus lyk,” merk hy droogweg op voor hy uitbars van die lag. “Dis absoluut so, ons almal moet nou net saamstaan en die regte ding doen.”

Kom neem deel aan die gesprek
Volg Huisgenoot op FacebookTwitterInstagram en TikTok, en teken gerus in op ons nuusbriewe.