“Ek het nie regtig ’n groot haarprobleem nie,” erken hy oor die foon aan Huisgenoot vanuit Pretoria. “Ek het dan die lang hare gehad. Soos my pa kry ons inhamme van voor in ons hare en dit is wat nou voortydig behandel word.

“Ek kom van die platteland van Piketberg en wil ’n verskil in mense se lewens maak. Daar is so baie negatiewe dinge wat om ons gebeur waaroor ons geen beheer het nie. Maar geluk lê by myself.

“Ek is nie gelukkig met my lyf nie. Weens al die rugbybeserings kan ek nie so straf oefen soos voorheen nie. Maar ek kan met hierdie prosedure sorg my hare lyk weer soos wat dit in gr. 3 in die Laerskool Piketberg gelyk het.

“Daar is niks verkeerd daarmee vir ’n man of ’n vrou om ’n prosedure te ondergaan wat hul selfbeeld verbeter nie. Ek was al oral in die wêreld en veroordeel nie mense nie. As jy ’n pienk onderbroek wil dra, is dit ook oukei. 

Derick Hougaard,nuwe hare
Derick tydens die behandeling waar haar vir haar in sy kopvel ingeplant word. Foto: Verskaf

“Ek wil wys dat jy nie hoef stil te bly nie. Dis mos goeie nuus as jy jouself verbeter. Dis in ons kultuur dat ons nie sal vertel as ons onder hande geneem was nie.

“’n Bles kop kan enigiemand tref, of dit nou weens ouderdom of gene is. As dit gebeur, verloor jy baie selfvertroue,” voeg Derick by. “Maar ek is bly oor die vordering.”

Die bekende Advanced Hair Studio wat hom nou help om weer sy welige haredos terug te kry het ander sportmanne ook gehelp soos die Suid-Afrikaanse krieketlegendes Jacques Kallis en Farhaan Behardien, die Australiese krieketheld Shane Warne, die voormalige Indiese krieketster Sourav Ganguly en dan spog ons geliefde grapkas Leon Schuster ook weer met ’n weglê-kuif.

Die prosedure wat in Derick se geval gebruik word, is om haartjie vir haartjie in sy kopvel in te plant. Daar sal reeds ná ses maande ’n merkbare verskil wees en nog meer so ná 12, beloof die dokters van Advanced Hair Studio.

Derick was 10 dae in Londen, Engeland, en sy meisie, die sangeres, Nádine, is op haar eie onkoste saam om hom te ondersteun. Hy is baie dankbaar vir die steun wat hy van haar kry.

Derick Hougaard,nuwe hare
Derick kort voor sy behandeling. Foto: Verskaf

“My haarverlies is geneties, want my pa het dieselfde inhamme soos ek. In Engeland het die dokters die haar-follikels agter uit sy kop gehaal om voor in te plant. Dis die seerste deel, maar jou hele kop word doodgespuit.

“Toe ek oorsee rugby gespeel het en ons aanvullings moes drink, is ons hormoonvlakke getoets. My estrogeenvlakke is hoër as my testosteroonvlakke wat ook tot die haarverlies kon lei. Ek was half ’n meisietjie, maar ek het darem vir die Bulle rugby gespeel,” terg hy.

Sy follikels is weggestuur en daar is bepaal dat dit swak is en hy tussen 40 en 50 sy hare gaan aanhou verloor. Hierdie prosedure verhoed dat dit gebeur. “Ek wil darem hê my vrou moet op 70 steeds dink ek is ’n catch,” skerts hy. Hy is nou 36.

Derick Hougaard,nuwe hare
Rugbylegende Derick Hougaard toe sy hare begin uitval het. Foto: Verskaf

Laser- en stemselterapie gaan help dat die hare vinniger en dikker groei en ook agter sy kop floreer. “Sodat ek nie net ’n mooi voorkop het nie,” voeg hy by. “Ek is nou al twee en 'n half maande besig met die prosedure. Op ses maande sal 'n mens die verskil kan bespeur en binne ’n jaar sal ek die volle resultate kan sien,” vertel hy hoopvol.

Hy hou van sy kort hare, want hy wou nog altyd sien hoe hy in die weermag sou lyk. Nádine mis sy lang hare, want hy het toe vir haar nes die wilde John Wick (wat in die gelyknamige aksieflieks deur Keanu Reeves vertolk word) gelyk.

Keanu Reeves by die onlangse premiere van Toy Story 4. Foto: Getty Images
Foto: Fani Mahuntsi

“As jy gelukkig is in jouself, kan jy jou beste jy wees. En onthou: die lewe het jou nie lekkers belowe nie en elke huis het sy kruis.”