Dit was sekerlik een van die oudrugbyspeler Derick Hougaard (36) se mees herkenbare kenmerke die laaste paar jaar: Die lang haredos met die netjiese middelpaadjie; perfek afgerond met ’n donker baard.

Maar in ’n nuwe foto wat Derick Sondag op sy Twitter-profiel gelaai het – waar sy sangeres-meisie Nádine hom so ewe ’n piksoen op die wang gee – spog hy met ’n heel nuwe voorkoms.

Derick Hougaard
Derick Hougaard.

“Sjoe, jy lyk soos ’n ander mens,” skryf ’n aanhanger in reaksie op die foto. “Super bly vir jou. Weet sommer die awesome mensie langs jou dra ook daartoe by.”

Nog een skryf: “Pragtige foto. Love dit, julle pas bymekaar!”

Net een aanhanger vra die vraag wat op meeste se lippe is: Waarom die groot verandering?

Hieroor het Derick in Aprilmaand, toe Huisgenoot eksklusief met hom oor die laaste jaar se seer en skandes gepraat het, destyds gesê hy is op pad Londen toe waar hy ’n advertensie vir ’n buitelandse haarinplantingsmaatskappy sou verfilm.

Foto: Fani Mahuntsi

Hierdie besluit is gemaak omdat hy weens sy werkloosheid oor die laaste twee jaar nie vir geliefdes kon sorg soos hy wou nie – en Derick het selfs in die buiteland al na werk begin soek. Maar dié advertensie was ’n eerste tree op die 36-jarige se herstelpad; en dit sou vir hom vir die volgende paar maande van ’n inkomste voorsien.

Hieroor het Derick nog gesê: “Ek sal vloere vee as ek moet, want ambisie het ek.”

  • Derick kon nie Maandag onmiddellik bereik word vir kommentaar nie.