Almal van rugbylegendes tot die media en ondersteuners was hoogs beïndruk deur die manier waarop Lood destyds sy kanse by die Wêreldbekerrugbytoernooi (WB) in Engeland aangegryp het.

En ten spyte van die lofsange het die WB-nuweling “'n spanman” gebly en Victor as leermeester pleks van mededinger beskou. 

Dié no. 5-slot het later sy meester se plek ingeneem as die kaptein van die Blou Bul-rugbyspan in vanjaar se Super Rugby-reeks voor 'n skouerbesering sy toernooi kort geknip het. 

Gelukkig kon Lood in Julie terugkeer na die veld. 

Hy maak vanmiddag (28 September) sy eerste verskyning in vanjaar se WB-toernooi in die Bokke se kragmeting teen Namibië, en sal ywerig wees om weer sy stempel af te druk. 

View this post on Instagram

The Walk of Life...

A post shared by Lood de Jager (@loodejager) on

Hier is 'n onderhoud wat ons destyds met sy ouers gevoer het. 

Uittreksel uit ‘Melkbaard met meer byt as blaf’ 29 Oktober 2015 – Richard van Rensburg

Die jong Bokuitblinker Lood de Jager is 'n rustige ou wat sy spel die praatwerk laat doen, vertel sy ouers. Hy is die reus met die vriendelike seunsgesig.

Stap 'n mens verby hom op straat, sal jy nie dink hy is 'n rugbyspeler nie, vertel die uitgetrede Bokbreker Bakkies Botha onlangs.

Lood op sy 21ste verjaardag saam met pa Lodewyk sr
Lood op sy 21ste verjaardag saam met pa Lodewyk sr. Foto: Verskaf

Maar jy sal jou lelik misgis. Vra maar sy internasionale teenstanders wat soos vrot velle deur die lug trek wanneer Lodewyk (Lood) de Jager jr. die slag inklim.

Maak hy droog, is hy weer die onskuldige met 'n beleefde “Sorrie, Sir”.

Hy en die sterke derduiwel Eben Etzebeth (23) is vinnig besig om hulle te vestig as die Springbokke se voorkeurslotpaar, nes Victor Matfield en Bakkies voor hulle.

Eben het in 2012 sy debuut gemaak en is reeds ervare vir sy jare. Lood se vuurdoop was verlede jaar, maar weens onder meer 'n elmboogbesering wat hom tot voor die WB langs die kantlyn gehou het, was hy nog net agt keer in die beginspan.

Nogtans is hy teen ons saktyd as een van die beste Bokpresteerders in dié toernooi uitgesonder.

Lood de Jager in aksie teen Skotland tydens die Wê
Lood de Jager in aksie teen Skotland tydens die Wêreldbekerrugbytoernooi in 2015. Foto: Gallo Images/ Getty Images

Waar Eben reeds Bakkies se mantel as die Bokke se “enforcer” geërf het, meen ’n Britse koerant Lood is sy “brutal identikit”. Min mense het verwag Lood sou vanjaar selfs nog beter rugby speel as in sy eerste internasionale seisoen.

Die sportmediareus ESPN het sy vertoning teen Skotland einde Junie verlede jaar – danksy twee drieë, sy dodelike verdediging en kraglope oor die voordeellyn – as 'n individuele prestasie van 2014 uitgesonder.

Dit was nogal sy eerste toets in die Bok-beginspan, kort ná sy debuut teen Wallis van die reserwebank af twee weke tevore.

En met die Bokke se allerbelangrike WB-kragmeting teen Skotland was Lood weer speler van die wedstryd. Wat nog te sê van sy kragvertonings teen Amerika en Japan. 

In ons naelbyt-kwarteindsege was die WB-nuweling reeds ’n gemerkte man vir Wallis, wat hom liewer met 'n paar verdedigers tegelyk gepak het.

Nietemin het die afrigter, Heyneke Meyer, hom agterna geprys, ook omdat hy ten spyte van ’n vroeë voetbesering enduit vasgebyt en onder meer sy sleutelrol in die lynstane voortgesit het.

Teen ons saktyd (einde September 2015) het die Bokke nog duim vasgehou dat sy voet betyds reg sou wees vir hul halfeindstryd teen Nieu-Seeland. 

“Lood het al sy kanse aangegryp. Hy’s baie toegewyd,” sê Kobus Wiese, Bokslot van die 1995-WB-wenspan, uit Londen.

“Hy en Eben werk baie goed saam. Hulle is albei inklimspelers, vat graag die bal vorentoe en is groot en sterk genoeg om dikwels oor die voordeellyn te kom. Hulle kry hul lynstaanbal, beheer afskoppe goed en dra geweldig tot skrumkrag by.”

Teen die kwarteindronde het die voormalige Bokkaptein Gary Teichmann gesê Lood was die beste Bok by die WB.

‘Pa, ek’s nie ’n kommentator nie;ek laat my spel die praatwerk doen.’

Ongeag sterk sentiment dat Victor vir hom plek moes maak, was Lood deurgaans die respekvolle, pretensielose kêrel wat sy trotse ouers ken. Hy bly “'n spanman” en beskou Victor as leermeester pleks van mededinger, het Lood op 'n mediakonferensie opgemerk. 

“Ek wil net my bydrae lewer, al moet ek net 'n plaasvervanger wees.”

Intussen het Lodewyk sr. en Juanita de Jager nie verwag hul laatlam sou sy stempel as Springbok so gou en so sterk afdruk nie. 

“Sodra jy begin dink hy het ’n toppunt bereik, verbeter en vorder hy nog 'n entjie,” sê Juanita.

“Hy het baie vinnig in sy spel gegroei. Ons is baie trots en dankbaar,” beaam Lood sr. 

“Hy het eintlik aanvaar hy sou nog vanjaar in Victor se skadu bly speel en het nie omgegee nie. En toe ek hom ná sy Speler van die Wedstryd-trofee teen Skotland sê hoe trots ons op hom is, antwoord hy: ‘Nee, Pa, ons het nog niks bereik nie.’

Vir hom gaan dit eerstens oor hoe ver hy die span kan help vorder.”

Lood se pa, 'n afgetrede produksiebestuurder, het op sy dag self slot gespeel vir die destydse Oos-Transvaal en was ook 'n wafferse bokser. Hy vertel Lood jr., die jongste van vyf kinders, was net twee toe hy ’n rugbybal tuis op Langebaan begin rondskop.

Die oud-Bok Cabous van der Westhuizen het baie jare gelede al vir Lood 'n Boktoekoms voorspel toe hy hom, destyds ’n leerder aan die Laerskool Jan van Riebeeck in Springs aan die Oos-Rand, in 'n o.11-toernooi sien skitter. 

In sy matriekjaar, as lid van die eerste rugbyspan van die Hoërskool Hugenote in dié stad, het Pukke Lood 'n sport-en-studiebeurs aangebied.

Hy rank hoog in ’n hoërskoolwedstryd. Foto: Verska
Hy rank hoog in ’n hoërskoolwedstryd. Foto: Verskaf

Hy was boonop 'n kranige krieketspeler en veldatleet en het matriek met drie onderskeidings geslaag.

“Toe ek hom by Pukke aflaai, sê hy nog bekommerd vir my: ‘Pa, hier’s ouens van Boishaai, Paarl Gimnasium en Affies; groot rugbyskole . . .’ Toe sê ek net: ‘My kind, glo in jouself, aan wat jy nog altyd doen. Onthou: dit lê in jou hart.’”

Lood is toe as die Pukke en Luiperds se o.19-speler van die jaar aangewys en die jaar daarna as hul top-o.21-speler.

Kort daarna bied die Cheetahs hom toe ’n kontrak aan, en toe Lood weer sien, speel hy Superrugby, nog voor hy sy tande in die Curriebekertoernooi kon slyp.

“Ek wil my steeds knyp wanneer ek sien hoe ver hy so vinnig gevorder het. Hy het Schalk Burger op skool verafgod; nou speel hulle saam in dieselfde Bokspan!”

Hul laatlam is “baie gefokus, hy stel doelwitte en werk hard daaraan”, vertel ma Juanita.

Haar man grinnik net oor die oud-All Black-spelers Taine Randell en Sean Fitzpatrick se goedige geskerts oor Lood se “cheeks” en “floppy hair”.

“Ja, hy lyk nie rof nie. Vir my het hy bloot gesê: ‘Pa, ek’s nie 'n kommentator nie; ek laat my spel die praatwerk doen.’”

Hy vertel sy seun het eintlik 'n mooi geaardheid. “Hy’s 'n mensemens, altyd dieselfde, rustig en kalm en sonder tierlantyntjies,” voeg Juanita by.

So het Lood destyds sy gewig rond gegooi

Teen ons saktyd (einde September 2015) het Lood de Jager, teen 2,05 m die langste Bok tot dusver naas Andries Bekker, se wedstrydstatistieke by die 2015-WB so gelyk: 

  • Die naasmeeste duikslae algeheel (60).
  • Suksesvol in 98 persent van sy duikslae.
  • Dra die bal 25 keer oor die voordeellyn.
  • Wen 105 m veld. Hy (en Eben Etzebeth) het sterslotte getroef soos Nieu-Seeland se Brodie Retallick en Sam Whitelock, Australië se Dean Mumm en Kane Douglas, Paul O’Connell (Ierland) en Luke Charteris (Wallis).
Kom neem deel aan die gesprek
Volg Huisgenoot op InstagramTwitterFacebookWhatsApp en teken gerus in op ons nuusbriewe.