Terwyl die res van ons wag op die album oor haar gebroke hart, verklap mense in die binnekring wat dit is wat hulle uitmekaargedryf het.

Geld, geld, geld

Hul egskeiding kan die gewilde sangeres se fortuin van R2,6 miljard ’n lelike knou gee. Die twee het glo geen huwelikskontrak onderteken toe hulle in 2016 getroud is nie. 

As hulle sou besluit om in die deelstaat Kalifornië, waar hulle eiendom besit en Simon sy onderneming bedryf, te skei, kan hy op tot die helfte van die sangeres se verdienste geregtig wees.

“Wat hulle tydens die huwelik verdien het, sal waar­skynlik gelykop verdeel word,” sê Sandra Davis, ’n egskeidingsprokureur wat al bekendes soos wyle Diana, prinses van Wallis, verteenwoordig het. 

“Dit maak nie saak wie wat gedoen of wie wat bygedra het nie.” 

Maar die mense na aan die vervreemde egpaar reken dis onwaarskynlik dat dit ’n 50-50-verdeling sal wees. “Simon is nie so nie. Hy het sy eie geld,” sê ’n bron.

Hy’s ’n werkesel

Simon se werk as uitvoerende hoof van Drop4Drop, ’n liefdadigheidsorganisasie wat hom beywer vir skoon drinkwater, het hom dikwels lank van die huis weggehou. 

Intussen het Adele dit nog altyd duidelik gestel haar huislewe is vir haar die belang­rikste. “My verhoudings is belangriker as enige toer wat ek ooit sal onderneem,” het sy in Oktober 2016 aan Vanity Fair gesê. “As my verhouding met Simon nou ’n bietjie sou begin wankel, sal ek my toer kanselleer. 

“My lewe is vir my belangriker as enigiets wat ek professioneel aanpak.” 

Sy’s dol oor die glanslewe

Een van die grootste faktore wat tot die verbrokkeling van hul huwelik bygedra het, is dat hulle verkies het om aan teenoorgestelde kante van die Atlantiese Oseaan te woon. 

Die warmer weer is nie al rede waarom Adele Los Angeles bo Londen verkies nie. Die sangeres het baie beroemde vriende in Hollywood gemaak en hang graag daar uit saam met haar A-lysvriendinne soos die aktrises Jennifer Lawrence en Emma Stone, terwyl Simon na ’n rustiger lewe in hul geboortestad, Londen, smag.

Bronne: nickiswift.com, radaronline.com, dailymail.co.uk, people.com, usweekly.com