Hulle het soveel balle gelyk in die lug: voorbereiding vir hul spel voor die kameras, die gewerskaf agter die skerms, die kinders, en die reëlings om hul lewe op koers te hou. Die een vat hier; die ander gryp gou daar. Maar sowaar: Ten spyte van die druk van die bedrywige lewe van twee werkende ouers in die vermaakbedryf het hulle altyd tyd vir joligheid.

Die akteurspaar Diaan Lawrenson (40) en Jody Abrahams (44) werk so goed saam as ’n span, ’n mens sou maklik kon dink hulle laat nooit ’n bal val nie. Sy is die een wat die leisels vasvat en die reëlings tref; hy die een wat vir pret en plesier sorg.

Hulle vervaardig TV-reekse, skitter self as akteurs voor die kameras en maak tussendeur hul kinders, Olivia Rose (8) en Thomas (5), groot. Maar dis nie aldag so maklik soos dit lyk nie.

“Ek gaan nie jok nie. Ek en Jody wil nie die indruk wek ons juggle alles nie,” erken die aktrise wat ons as Paula van der Lecq in 7de Laan leer ken het. “Dis uitdagend en soms val balle wel.”

Soos enige ander ouerpaar met ongereelde werkure moet hulle soms toertjies uithaal om alles raak te vat. Maar of hulle nou by die huis of saam op ’n TV-stel is, hulle vul mekaar aan.

Ek het al vir Jody gesê as ons in ’n volgende lewe kies om weer saam te wees, wil ek die good cop wees, nie net met ons werk nie, maar ook met ons kinders.
Diaan Lawrenson

Wanneer hulle saam werk aan ’n televisiereeks soos Wakkerslaap, hul nuwe VIA-program oor die sanger David Kramer, is Diaan die vervaardiger en Jody die regisseur. Sy gee die vorm; hy sorg vir die inhoud.

“Ek is die een wat die reëlings tref, die admin en beplanning doen, en Jody vat beheer van die kreatiwiteit en is meer hands-on op die dae dat ons verfilm,” vertel Diaan. “Sy’s die baas,” sê Jody.

“Ek is die bad guy op die stel,” bieg Diaan. “Mense is gek daaroor om saam met Jody te werk. Dis pret wanneer hy op die stel is; almal lag baie.

“Ek sweet weer op die agtergrond om alles onder beheer te hou. Ek het al vir Jody gesê as ons in ’n volgende lewe kies om weer saam te wees, wil ek die good cop wees, nie net met ons werk nie, maar ook met ons kinders. Ek sal die partytjiemens wees, die prettige een, en hy die ernstige een wat al die reëlings tref.”

Maar vir eers werk dit goed, want hulle het lankal mekaar se sterk punte en tekortkomings leer ken en aanvaar. Diaan weet nou al dit help nie om vir Jody elektroniese uitnodigings na vergaderings te stuur nie.

“Ek weet nie wat die goed beteken nie,” sê die akteur wat nou die rol van die onverskillige Lionel in die telenovelle Arendsvlei op kykNET & kie vertolk. Nou stuur Diaan maar skermgrepe van die maand se agenda vir hom sodat hy kan weet wat in hul dagboeke aangaan.

“Ek het mos eintlik drie kinders,” terg Diaan. Jody lag en rek sy oë: “Oe, die koffie smaak darem lekker,” gee hy voor of hy die onderwerp wil verander.

Jody Abrahams (44)

Dan kyk hy met oë vol bewondering na sy vrou en gee toe: “Ek kort haar in my lewe; sonder haar sou ’n chaos geheers het. Op sommige dae sien sy die oplossing; op ander dae sien ek dit weer. Ons vorm ’n goeie span.”

Vir TV-kykers en fliekvlooie is hulle die glanspaartjie wat al saam verskyn het in TV-reekse soos die sepie 7de Laan, waarin Jody destyds die rol van Donovan vertolk het. Diaan se Paula was jare lank een van die gewildste karakters in dié sepie.

Sy is verlede maand met ’n Huisgenoot-Tempo-toekenning vir fliekaktrise van die jaar bekroon vir haar spel as die ma van ’n outistiese seun in die rolprent Raaiselkind. Sy was ook op die silwerdoek te sien in die fliek Susters, wat met die Tempo vir fliek van die jaar vereer is. Daarin vertolk sy die rol van die modeontwerper Jo wat ’n balans tussen werk en ma-wees probeer vind, byna soos in Diaan se eie lewe.

Diaan Lawrenson (40)

“Ons wil graag by elke skoolkonsert wees; ons kinders elke dag by die skool op- en aflaai, en ons doen ons bes. Dikwels kry ons ’n loopbaangeleentheid wat ons graag wil aanvaar, maar moet daarvoor nee sê,” vertel Diaan, wat ook aan die Afda-rolprentskool in Observatory, Kaapstad, in TV-vervaardiging klas gee.

“Dit gaan maar daaroor om die werk-lewe-balans te probeer handhaaf.”

Vir hul kinders is sy en Jody bloot hul ouers, nie bekende akteurs nie. Tot onlangs het Thomas nie eens geweet wat hul werk behels nie, al praat hulle by die huis dikwels oor die teater.

Toe Jody onlangs agter die skerms van ’n teaterstuk gewerk het, het die gesin na die produksie gaan kyk. “Is dit die teater?” het Thomas gevra, en toe laat hoor: “Dis awesome.”

Dis vir hulle belangrik om nie ’n etiket om hul kinders se nek te hang nie.
Diaan en Jody

Sal hy of sy ousus dalk in hul voetspore in die vermaakwêreld volg? Dis vir hulle belangrik om nie ’n etiket om hul kinders se nek te hang nie, sê albei. Soos Jody sê: “Ons skep net die ruimte waar hulle hul potensiaal kan uitleef, kan glo en droom.”

Thomas is al sedert sy babadae ’n introvert, vertel Diaan oor hul jongste. “Al is hy nog skugter, het hy uit sy dop begin kruip. Hy is gek daaroor om snaaks te wees en sal altyd kyk hoe hy iemand kan laat lag.

“Hy het ’n kreatiewe brein. Hy bou die ongelooflikste Lego en sal na iets kyk en dit skets soos dit is.”

Olivia is die spraaksame een. “Sy is soos Jody ’n ekstrovert en bigger than life. Wanneer sy iemand ontmoet, sal sy hulle dadelik begin uitvra oor wie hulle is, wat hulle doen, hoekom hulle hul hare op ’n sekere manier dra . . . Sy is gek oor gimnastiek en kan pragtig dans.”

Diaan en Jody probeer hul lewe altyd so reël dat een van hulle ná die skooldag by die kinders by die huis is. Daarom sal hulle nie gelyktydig werkprojekte aanpak wat ongereelde ure verg of hulle uit Kaapstad wegneem nie.

“Wanneer die kinders eers tieners is, sal hul gunstelingding nie meer wees om tyd saam met ons deur te bring nie,” verduidelik Jody. “Ons het besluit ons wil nou by hulle wees wanneer ons kan.”

Terwyl hy aan Arendsvlei werk, hou Diaan die fort by die huis. Wanneer sy weer lang ure op die stel moet wees, soos toe Raaiselkind op die vissersdorpie Waenhuiskrans in die Wes-Kaap geskiet is, was dit Jody se beurt om pa én ma te speel.

Al sien ons Diaan nou in die nuwe fliek Table Manners met haar hare in ’n polkastyl gesny, dra sy deesdae meestal ’n supersjiek kort haarstyl. Table Manners is al in 2016 geskiet toe haar hare nog langer was.

In dié fliek vertolk sy die rol van Megan, wie se voorstedelike lewe op sy kop gekeer word toe haar man, Lloyd (Fynskrif se Neels van Jaarsveld), belastingbedrog pleeg en in die tronk beland.

“Sy moet vir haar en haar seun, Devan (Julian Robinson, seun van die nuusleser Freek Robinson), ’n nuwe lewe bou en haarself herontdek. “Sy doen dit deur haar passie vir kos maak,” vertel Diaan.

Anders as Jody, wat ’n gesinsman en toegewyde pa is, is Lionel, sy karakter in Arendsvlei, ’n rowwe ou met ’n voorliefde vir kroeë, vroue en die langpad. Lionel maak planne om van Clanwilliam na Arendsvlei, ’n fiktiewe plek op die Kaapse Vlakte, te trek om by sy vrou, Ronel (die oud-7de Laner Melanie du Bois), en hul kind, Lee-Roy (Knapsekêrels se Roberto Kyle), aan te sluit.

“Lionel beleef ’n middeljarekrisis,” gesels Jody oor sy karakter. “Hy is een van daardie ouens wat op sy dag kaptein van die eerste rugbyspan was, maar dis waar dit vir hom geëindig het, al dink hy nog hy’s daar bo,” beduie Jody met sy vinger in die lug.

Vir die glanspaar was dit ook agter die skerms ’n bedrywige jaar waarin hulle drie VIA-projekte verfilm het.

Wakkerslaap word sedert 31 Oktober uitgesaai. Dit is ook die naam van David Kramer se eerste album in 10 jaar en die reeks vertel hoe hy dit geskep het. “Dis ’n spesiale en emosionele ervaring om op so ’n intieme reis saam met ’n kunstenaar te gaan,” sê Diaan. Jody beaam: “Dit was ’n groot eer om so diep te kon delf.”

Hy ken die sanger al sedert hy as 11-jarige ’n rol in David en Taliep Petersen se musiekspel District Six – The Musical losgeslaan het.

Die egpaar het ook saamgewerk aan die VIA-mooimaakprogram Die Skatties, waarvan ’n tweede seisoen vanjaar uitgesaai is, en aanstaande Februarie kry ons hul splinternuwe VIA-reeks, Agterplaasgeraas, te sien.

Dit gaan oor ’n groep mans van die Kaapse Vlakte wat motors in hul agterplase restoureer. Drie spanne ding teen mekaar mee en elke span kry ’n klein begroting en beperkte tyd om ’n motor op te knap.

“Dit is Jody en ’n paar van sy vriende se baba,” sê Diaan. “Dis een van daardie projekte wat ontwikkel wanneer ’n klomp mans saamkom en idees begin uitdink.”

Hoe hou dié egpaar die liefdesvlam ná sowat ’n dekade saam nog aan die brand?

Wanneer klein dingetjies begin pla, soos Jody se nat handdoeke op die vloer of Diaan se koue teekoppies wat rondstaan, weet hulle dit is eintlik tyd om aandag te gee aan hul verhouding en oor allesbehalwe werk en huishoudelike take te gesels.

Toe 40 vanjaar aan haar deur kom klop, het dit Diaan laat besef hoe vervlietend die lewe is, sê sy.

“Ons is maar eintlik so kort hier. Ek en Jody het albei in die laaste jaar mense na aan ons verloor. Dit moedig jou aan om sover as wat jy kan elke dag voluit te probeer aanpak.” Jody beaam dit: “’n Mens moet elke dag vir die klein dingetjies dankie sê.”

  • Wakkerslaap word Woensdae om 21:00 op VIA (DStv-kanaal 147) uitgesaai, met heruitsendings op Saterdae om 22:30.
  • Arendsvlei word Maandag tot Woensdag om 20:00 op kykNET & kie (DStv-kanaal 145) uitgesaai.
Diaan oor Jody
  • Wat helder Jody op ’n moeilike dag op? Liefde, aandag, ’n drukkie en gesels. Jody is ’n mense-mens. Hy hou van liefde.
  • Wat is sy mooiste eienskap? Lojaliteit.
  • Wat is sy gunstelinggereg? Vars vis. Miskien ’n gebraaide snoek of afval wat hy self kook.
  • In watter fliek sou jy hom wou sien en as watter karakter? Ek dink dis vir Jody belangrik om die idee van stereotipes te verbreek.
  • Wat is sy gunstelingboek? 1421 – The Year China Discovered the World deur Gavin Menzies.
  • Wat irriteer hom? Oneerlikheid.
  • Wat maak hom ’n goeie pa? Jody is diplomaties, geduldig, pret en eerlik. Hy laat die kinders toe om hul eie mens te wees en gee hulle ruimte vir karakterbou.
  • Wat is sy skelm plesiertjie? ’n Middagslapie.
Jody oor Diaan
  • Wat helder Diaan op ’n moeilike dag op? Sjokolade.
  • Wat is haar mooiste eienskap? Lojaliteit en onvoorwaardelike liefde.
  • Wat is haar gunstelinggereg? Spaghetti. Ek probeer so hard moontlik om haar ouma Janie se lamskenkel-en-tamatie-spaghetti te bemeester.
  • In watter fliek sou jy haar wou sien en as watter karakter? As Pepper Potts in Iron Man. Sy is intelligent, vuurwarm en het hands-on ervaring met ’n crazy man.
  • Wat is haar gunstelingboek? Enigiets deur Marian Keyes.
  • Wat irriteer haar? Nat handdoeke wat rondlê.
  • Wat maak haar ’n goeie ma? Sy kry dit volmaak reg om onvoorwaardelike liefde en sorg met onpartydige dissipline te balanseer.
  • Wat is haar skelm plesiertjie? Sjokolade.

Rok: Janita Toerien; Juweliersware: Tiffany Marx; Hare: Annika Carstens; Grimering: Andrea van den Houten