Die prinse William en Harry by die onthulling van
Die prinse William en Harry by die onthulling van die standbeeld van hul ma, Diana, by die Kensingtonpaleis. Foto: Gallo Images/Getty Images

Dis die plek waarheen sy weggebreek het vir vrede wanneer haar lewe te erg geraak het. Die lushof van die Sunken Garden by die Kensingtonpaleis was vir prinses Diana ’n stukkie sielerus te midde van ’n lewe wat andersins deur droefheid en pyn gekenmerk is.

Veral in die laaste jare van haar stormagtige huwelik met prins Charles het sy haar hier tussen die blomme en imposante bome kom afsonder. En nou word sy permanent deel van dié tuin.

Selfs al kan sy in die vlees nooit weer hier wees nie, is daar onlangs in die Sunken Garden ’n monument opgerig vir dié toegewyde ma, mode-ikoon en bowenal humanitêre baanbreker.

Op 1 Julie vanjaar, 24 jaar ná haar dood, het haar twee seuns – die voorbeeldige prins William (39) en die rebelse prins Harry (36) – ’n rukkie lank hul veelbesproke twis opsygeskuif om die standbeeld van hul ma te onthul op die dag wat haar 60ste verjaardag sou wees.

Dit kom nadat verskeie mense die afgelope tyd aangrypende inligting gedeel het oor die tragiese dag toe die Prinses van Harte onverwags op die ouderdom van 36 weggeruk is. Dit is wat hulle nou vir die eerste keer te sê het oor haar laaste ure . . .

Die Franse brandweerhoof

Sersant Xavier Gourmelon was een van die eerste mense op die toneel nadat die Mercedes waarin Diana ’n passasier was op 31 Augustus 1997 in Parys se Pont de l’Alma-tonnel verongeluk het.

Toe hy by die opgefrommelde wrak opdaag, het hy ’n vrou op die agtersitplek vooroor sien leun. Sy was nog by haar bewussyn en kon praat, maar sy was duidelik verward.

Sy het nog fisiek oukei gelyk, buiten ’n beseerde skouer. Haar polsslag was nog sterk.

“Ek het haar hand vasgehou,” vertel Xavier. Hy het destyds ’n polisieverklaring afgelê, maar het nou pas die eerste keer sy ervaring met die publiek gedeel.

“Sy het nog fisiek oukei gelyk, buiten ’n beseerde skouer,” onthou hy die toestand waarin hy destyds die prinses aangetref het. “Haar polsslag was nog sterk.”

’n Stut is om haar nek gesit en sy het ’n suurstofmasker gekry voor hulle haar in ’n ambulans gelaai het. Xavier vertel hy het geen idee gehad wie dit was wat hy help red het nie, en hy het eers later uitgevind dit was een van die beroemdste vroue op aarde.

Prinses Diana
Prinses Diana. Foto: Gallo Images/Getty Images

Die Franse dokter

Ook Frederic Mailliez, ’n dokter wat van diens af was, het nie geweet met wie hy te doen het toe hy op pad huis toe van ’n partytjie op die ongelukstoneel afkom nie.

Ek het gesien sy is die pragtigste vrou en haar gesig was nie beseer nie. Sy het nie gebloei nie, maar sy was byna bewusteloos en het gesukkel om asem te kry.

Hy het opgemerk twee insittendes was reeds dood, die bestuurder, Henri Paul, en Diana se kêrel, Dodi Fayed. Twee het egter nog geleef: Diana en haar lyfwag, Trevor Rees-Jones.

Frederic het Diana eerste te hulp gesnel. “Ek het gesien sy is die pragtigste vrou en haar gesig was nie beseer nie. Sy het nie gebloei nie, maar sy was byna bewusteloos en het gesukkel om asem te kry.

“Ek het met haar Engels begin praat, gesê ek is ’n dokter, dat die ambulans op pad was en dat alles sou uitwerk.”

’n Ambulans het opgedaag om haar na die Pitié-Salpêtrière-hospitaal te neem. In daardie stadium het haar hart ophou klop en die ambulans moes stop sodat dokters dit weer aan die gang kon kry.

“Diana se lyf het erg gebloei, en sy was in skok toe sy by die hospitaal aankom,” het die hospitaal se narkotiseur, dr. Bruno Riou, die media vertel. Daar was ’n ernstige wond aan een van die are van haar hart.

Hoewel hulle die wond geseël het en twee uur gespook het om haar aan die lewe te hou, was dit helaas te laat.

Die Franse priester

Yves-Marie Clochard-Bossuet is na Diana se hospitaalbed ontbied. Hy was die priester aan diens in die hospitaal en het tien uur lank oor haar liggaam gewaak tot haar eksman, prins Charles, en twee susters opgedaag het. Daarna het hy saam met hulle langs haar bed gebid.

Die Katolieke leraar sê die wêreldwye reaksie daarna was so oorweldigend dat hy ’n paar weke in ’n klooster in Bosnië moes gaan laaglê om die kollig te vermy.

Daar het hy ’n brief aan Diana se ma, die Engelse aristokraat Frances Shand Kydd, geskryf. ’n Engelse familielid het hom glo vertel Diana se moeder was ’n Katoliek en dat hy aan haar moet skryf.

Niemand anders het met haar gekommunikeer nie – nie die hospitaalbestuur nie, nie die dokters nie, nie Buckinghampaleis nie.

“Dit was ’n baie formele brief met die besonderhede van haar dood. Ek wou haar vertel die verpleegsters wat vir haar gesorg het, het hul goed van hul taak gekwyt.

“Daar was niks om oor te kla nie, al was dit ’n hospitaalkamer en nie Buckinghampaleis nie.” Hy het geen reaksie verwag nie, maar het tog ’n paar weke later een ontvang.

“Sy het my bedank. Niemand anders het met haar gekommunikeer nie – nie die hospitaalbestuur nie, nie die dokters nie, nie Buckinghampaleis nie.”

Frances het hom versoek om by die hospitaal ’n intieme privaat diens te hou vir mense wat hul kinders in ongelukke verloor het. Frances en die priester het vriende geraak, en sy het hom deur die jare soms in Parys besoek.

“Sy het my vertel sy het in die dae ná Diana se dood een aand in Londen gaan stap om na die roubeklaers se blomme te kyk. Sy het ook baie met my oor William en Harry gesels; sy was bitter lief vir hulle.”

Die bestuurder Colin Tebbutt, Diana se bestuurder, was een van die eerste mense wat Parys toe gevlieg het ná die ongeluk. Hy onthou dat Frankryk se destydse president, Jacques Chirac, haar ook in haar hospitaalkamer besoek het.

“Meteens het ’n lang man en sy vrou in die gang af gekom. Hulle het in Diana se vertrek ingeloop terwyl die polisieman hulle salueer.

“Mevrou Chirac het aan die voet van die bed gebuig en weer uitgeloop.”  

Broers herenig

Prins William en prins Harry.
Prins William en prins Harry. Foto: Gallo Images/Getty Images

William en Harry het met die onthulling niks laat blyk van die spanning wat die afgelope ruk tussen hulle broei nie. Trouens, Harry was joviaal en vol grappe. Koninklike kenners sê dit was prysenswaardig van hulle om die strydbyl eers te begrawe.

“Hulle het nie hul twis vergeet nie, hulle het net besef daar is belangriker dinge,” sê Robert Lacey, die skrywer van Battle of Brothers: William, Harry and the Inside Story of a Family in Tumult.

Die liggaamstaalkenner Judi James sê die broers se gedrag wys hulle het vir die dag hul rol as Diana se seuns geprioritiseer.

“Hul glimlagte was ’n bietjie aangeplak, maar hul liggaamstaal was ’n spieëlbeeld van mekaar s’n, wat dui op ou bande wat hulle steeds aan mekaar bind.”  

Die langverwagte standbeeld

Die nuwe standbeeld in die Kensingtonpaleis se Sunken Garden het gemengde reaksie ontlok. Terwyl party mense meen dit wys haar deernisvolle geaardheid, meen ander dis ’n bietjie kitsch.

Diana was boonop in die regte lewe darem veel mooier, sê haar aanhangers. Die twee prinse het die Britse kunstenaar Ian Rank-Broadley opdrag gegee om die bronsbeeld te maak.

Dis omring deur haar gunstelingblomme: 500 laventelplante, 300 tulpe, 200 rose en 100 vergeet-my-nietjies.

Diana se romp, gordel en bloes lyk of dit geïnspireer is deur ’n Kerskaartjie wat sy in 1993 laat maak het, haar eerste sedert haar skeiding van Charles. 

Bronne: people.com, pagesix.com, thesun.co.uk, dailymail.co.uk
Kom neem deel aan die gesprek

Volg Huisgenoot op Facebook, Twitter, Instagram en TikTok, en teken gerus in op ons nuusbriewe