Hulle het as jong seuns die harte van miljoene mense oor die wêreld gesteel: twee broers verenig in hul hartseer oor hul ma se dood.

En namate hulle ouer geword het, het die band tussen prins William en prins Harry net sterker geword – iets wat prinses Diana se hart bly sou maak as sy nog geleef het.

Sy het haar seuns kort voor haar dood gesmeek om altyd na mekaar om te sien, en jare lank het hulle presies dít gedoen.

William en Harry
Prinses Diana het haar seuns, William en Harry, kort voor haar dood gevra om altyd na mekaar om te sien. Foto: Gallo Images/Getty Images

Toe Kate Middleton op die toneel ver­skyn en met William trou, het dit geen verandering aan hul verenigde front gemaak nie. Maar toe ontmoet Harry vir Meghan – en alles verander.

Die eens gemoedelike kameraderie het verdwyn, en wat as gerugte van onenigheid tussen die broers begin het, het in een van die koninklike familie se grootste krisisse nog ontaard. En nou het prins Harry self erken dinge tussen hom en sy broer is nie meer wat dit altyd was nie. 

Harry erken daar’s moeilikheid

Prins Harry het in ’n ITV- dokumentêre program oor sy en Meghan se Suider-­Afrikaanse toer die ongehoorde stap gedoen om oor sy verhouding met sy broer te praat.

In Harry and Meghan: An African Journey vra die joernalis Tom Bradby, ’n vriend van die prins, hom hoe waar die gerugte van moeilikheid tussen hom en William is. 

Pleks van dit ontken, gee Harry toe dat “dinge gebeur” as jy deel van “hierdie rol en familie en onder druk” is. Hy en William het “goeie dae en slegte dae”, voeg hy by, maar hulle is inderdaad op “verskillende paaie. Maar ons sal altyd broers wees en ek het hom baie lief.”

Die Britse koerant The Telegraph vergelyk die Sussexe se onderhoude – waarin hulle erken hulle voel “blootgestel” – met prinses Diana se onderhoud met Martin Bashir in 1995.

Daarin het sy erken sy voel afgesonder en misverstaan – gevoelens wat Harry en Meghan ook verwoord. Die hertogin erken byvoorbeeld “nie baie mense het haar al gevra of sy oukei is” in die lig van haar rol as nuwe koninklike en ma nie. 

Harry, wat die Britse poniepers verlede maand daarvan beskuldig het dat hulle sy vrou “boelie”, het verder gesê sy geestesgesondheid word “voortdurend bestuur”. Hy het dit vergelyk met waardeur sy ma is.

“Daar is baie dinge wat seermaak – veral wanneer die meeste daarvan nie waar is nie. Maar ons moet daarop fokus om die mense te wees wat ons is. Ek gaan nie die speletjie speel wat my ma doodgemaak het nie. 

“Alles waardeur my ma is, is ongelooflik rou, elke liewe dag, en dis nie ek wat paranoïes is nie; dis eerder dat ek nie wil hê die verlede moet hom herhaal nie. “Elke keer as ek ’n kamera hoor klik of ’n flits sien, dink ek aan my ma.” 

Prins William het ná die onderhoud erken hy is “bekommerd” oor sy jonger broer.

“Ek hoop hulle is oukei,” het hy gesê. ’n Koninklike bron sê prins Charles is besorg oor sy jongste seun, “nes hy altyd oor Diana bekommerd was”. 

Maar die toekomstige koning is duidelik nie gelukkig met die tydsberekening van die dokumentêre program nie, sê ’n koninklike handlanger.

Dit is uitgesaai nes William en Kate besig was om hul toer van Pakistan af te sluit. En die re­aksie op die program het beteken Charles se besoek aan Japan om keiser Naruhito se inhuldigingseremonie by te woon het skaars enige media-aandag gekry.

“Dit het die werk wat Charles doen, heeltemal ondermyn, nes dit prins William en Catherine se werk in Pakistan ondermyn het,” sê ’n koninklike bron. 

’n Gapende kloof

Dit word ál duideliker dat Harry nog nie sy ma se dood verwerk het nie. Hy beskryf dit as ’n “wond wat sweer”. Maar dit lyk nie of William sedert hul uitval veel kan doen om sy broer te help nie.

Als het glo begin toe hy Harry probeer waarsku het om nie oorhaastig te trou nie. William en Kate het agt jaar ­uitgegaan voor hul troue, en hy was glo bekommerd oor Harry en Meghan se warrelwindromanse. 

prins harry en meghan
William, Kate en Harry was baie geheg aan mekaar voor Harry met Meghan begin uitgaan het. Foto: Gallo Images/Getty Images

“Diana het kort voor haar dood met William gepraat oor die soort vrou met wie hy gaan trou,” sê die koninklike biograaf Richard Kay.

“Sy het gesê die belangrikste ding is dat hulle beste vriende moet wees.” Sy het blykbaar gevoel sy en prins Charles sou dalk nooit geskei het as hulle mekaar voor hul troudag beter leer ken het nie – of dalk selfs nooit getrou het nie. 

Harry was egter glo woedend oor sy ouboet se woorde en het William daarvan beskuldig dat hy sy verhouding met die voormalige aktrise probeer verwoes nog voor dit begin het. 

Ná hul troue in Mei laas jaar het die Sussexe uit Kensingtonpaleis getrek en hul eie sosialemediarekeninge oop­gemaak.

Toe kom hul groot skeiding van die Royal Foundation – die liefdadigheidsorganisasie wat die broers in 2009 van stapel gestuur en waarby Kate later aangesluit het.

Intussen was daar ook ál meer gerugte dat die twee hertoginne glad nie oor die weg kom nie. 

Harry het boonop gesê hy en Meghan wil ter wille van die omgewing nie meer as twee kinders hê nie. William, self ’n pa van drie, was glo nie te beïndruk daarmee nie.

As toekomstige koning moet William kennis neem van die openbare reaksie op Harry se dade, sê die koninklike kommentator Ingrid Seward. “Ek sou dink dit kan William ’n bietjie pla.” 

Wat nou?

Koninklike handlangers sê die koningin wil hê haar kleinseuns moet bo hul probleme uitstyg en dinge privaat uitsorteer. 

“Sy wil nie betrokke raak by die gemors nie en laat dit aan hul pa oor om hulle weer byeen te bring,” sê die een. 

Intussen hoop koninklike kommentators die ses weke lange vakansie wat die Sussexe onlangs aangekondig het hulle vir “noodsaaklike gesinstyd” neem, sal Harry kans gee om af te koel. 

Die paartjie gaan hul eerste Amerikaanse Dankseggingsdag as ouers saam met Meghan se ma, Doria Ragland, in Los Angeles deurbring en hul vakansietyd tussen die VSA en Brittanje verdeel.

Prins william en kate
Harry en Meghan vertrek binnekort met vakansie en gaan hul eerste Amerikaanse Dankseggingsdag as ouers by Meghan se ma, Doria Ragland, deurbring. Foto: Gallo Images/Getty Images

Hulle sal betyds vir Kersfees na Engeland terugkeer en dié dag saam met die koninklike familie deurbring. 

Die ervare koninklike skrywer Phil Dampier sê: “Ek hoop hulle dink tydens hul vakansie mooi na oor wat hulle volgende doen. Hulle het vordering gemaak met die Afrika-toer, maar al die goeie werk is deur Harry se aanval op die media oorskadu. Hulle kry óf swak raad óf hulle ignoreer raad.”

Harry moet sy benadering verander, sê die koninklike kommentator Penny Junor. “Die koninklike familie het dit nog altyd goed reggekry om ’n lae profiel te handhaaf as dit by hierdie dinge kom en niks te sê nie.

Dis piekfyn om iemand privaat te spreek, soos ’n terapeut, maar moenie jou hart in die openbaar uitstort nie. Ek dink nie dit werk vir hulle nie. “Hy doen wonder­like werk en kan daarmee voortgaan.

Hy moet homself ophou jammer kry en na die pluspunte kyk – ignoreer die kritiek, nes sy pa nog altyd gedoen het, en hou aan met die werk.” 

die prinse en hul families
Harry het gesê hy en Meghan wil ter wille van die omgewing nie meer as twee kinders hê nie – William was glo nie beïndruk nie. Foto's: Gallo Images/Getty Images

Harry het 12 jaar gelede by ’n gedenkdiens met die 10de herdenking van sy ma se dood gesê: “Sy het ons en so baie ander mense gelukkig gemaak. Mag dít wees hoe sy onthou word.” 

En nou hoop almal daardie nalaten­skap word nie ontsier deur die wig tussen Harry en sy enigste broer, die een wat belowe het om altyd na hom om te sien, nie.

Bronne: dailymail.co.uk townandcountrymag.com, , thesun.co.uk, express.co.uk, cheatsheet.com, ibtimes.com