Dis die laaste naam wat jy verwag om op die TV-skerm te sien wanneer met die kaptein van die Japannese rugbyspan gepraat word. Maar daar staan dit lewensgroot: Lappies Labuschagné.

En hy’s nie alleen nie: In vanjaar se Wêreldbeker­rugbytoernooi draf 14 Suid-­Afrikaners vir ander lande uit. 

Dis eintlik nie 'n vreemde verskynsel nie. Namate beroepsrugby groei, speel ál meer spelers vir klubs oorsee en kan hulle mettertyd kwalifiseer om vir daardie land se nasionale span uit te draf. 

Volgens Wêreldrugby se reëls kan spelers vir 'n internasionale span gekies word as hulle in daardie land gebore is, 'n ouer of grootouer het wat in daardie land gebore is of 36 agtereenvolgende maande of altesaam 10 jaar in die land gewoon het. 

Hier is die Suid-Afrikaners wat vanjaar daarvan droom of gedroom het om die Webb Ellis-trofee omhoog te hou, al is dit saam met 'n ander span as die Springbokke. 

Dane Haylett-Petty

Speel vir: Australië

Dane Haylett-Petty. Foto: Gallo Images/ Getty Imag
Dane Haylett-Petty. Foto: Gallo Images/ Getty Images

Dane (30) noem Australië al twee dekades sy tuisland. Sy gesin het van Durban na Perth geëmigreer toe hy 10 was. “Die eerste paar jaar was moeilik, maar dit was sedertdien wonderlik vir ons gesin – ons is bevoorreg en dit het ons soveel gebied.”

Tog sê hy dat sy liefde vir rugby in Suid-Afrika begin het. “My vroeë herinnerings is van hoe Suid-Afrika die 1995-Wêreldbeker gewen en die hele land rugbymal geword het,” sê hy.

Foto: Instagram
Foto: Instagram

Nadat hy vir die Australiese sewesspan in twee Wêreldreekse gespeel het, is hy in 2016 vir die Wallabies gekies, waar hy meestal vleuel en soms heelagter speel. 

Dane is in 'n verhouding met Hannah Meredith. Die paartjie besit 'n restaurant, Nourish and Feed, saam met Dane se suster, Sarah.

Lappies Labuschagné 

Speel vir: Japan 

Lappies Labuschagné. Foto: Gallo Images/ Getty Ima
Lappies Labuschagné. Foto: Gallo Images/ Getty Images

Dié flank en sy spanmaats het vir hulle 'n plek in Japannese rugby­geskiedenis oopgekerf toe hulle onlangs met Skotland afgereken en so vir die kwart­eindstryd teen Suid-Afrika gekwalifiseer het.

Lappies (30), 'n oudleerder aan die Grey-kollege in Bloemfontein, het plaaslik vir die Cheetahs en Bulle gespeel en is in 2013 in 'n Springbokgroep gekies, maar het nooit speelkans gekry nie. 

In 2016 het hy 'n kontrak met die Japannese rugbyklub Kubota Spears gesluit en in Junie vanjaar gekwalifiseer om vir dié land te speel. Hy noem sy kapteinskap, wat hy met die Nieu-­Seelander Michael Leitch deel, 'n “yslike voorreg en eer”. 

Foto: Instagram
Foto: Instagram

“Toe ek klein was, het ek gedink dit gaan andersom wees,” het hy voor die Wêreldbeker vertel. “Ek word steeds 'n bietjie emosioneel wanneer ek die Suid-Afrikaanse volkslied hoor.” 

Hy is een van vier Suid-Afrikaans gebore spelers in die Japannese groep (Sien kassie.) Lappies en sy vrou, Lené, woon nou in Japan saam met hul seuntjie, Ruagh.

Bernard Le Roux

Speel vir: Frankryk

Bernard Le Roux. Foto: Gallo Images/ Getty Images
Bernard Le Roux. Foto: Gallo Images/ Getty Images
Die 30-jarige flank het al meer as 35 toetse vir die Franse Hane gespeel, maar dit is sy eerste Wê­reldbekertoernooi. Bernard het op 'n plaas buite Moorreesburg grootgeword en het vroeg in sy loopbaan vir die Boland Kavaliers uitgedraf. 

Hy was op die punt om 'n kontrak met die Johannesburgse Leeus te onderteken toe hy in 2009 'n oproep kry om vir die Paryse klubspan Racing Metro te speel. 

Foto: Instagram
Foto: Instagram

Die Franse kultuur het sy hart gesteel en byna 10 jaar later woon hy steeds daar saam met sy vrou, Marzanne, en hul ses maande oue dogtertjie. Maar hy kom kuier steeds in Suid-Afrika: “Dis altyd lekker om terug te kom; dis ’n pragtige land.”

DTH van der Merwe

Speel vir: Kanada
DTH Van Der Merwe. Foto: Gallo Images/ Getty Image
DTH van der Merwe. Foto: Gallo Images/ Getty Images

Die 33-jarige DTH (Daniel Tailliferre Hauman) het 60 toetse vir sy aangenome land, Kanada, gespeel voor hy in vanjaar se Wêreldbeker die eerste keer teen sy geboorteland uitgedraf het. 

“Dis iets waarna ek my hele loopbaan lank uitsien,” het hy voor Kanada se groepwedstryd teen die Bokke aan die media gesê. “Om dit nou in my laaste Wêreldbeker te doen is nogal besonders. Ek het wel jare gelede teen hulle sewesrugby gespeel, maar ek sien uit na dié geleentheid.” 

Foto: Instagram
Foto: Instagram

Die Wêreldbeker in Japan was DTH se vierde – hy is een van net ’n handjie vol spelers wat in soveel van dié toernooie uitgedraf het. 

Die veelsydige agterspeler is op Worcester gebore en het op skool vir die Boland rugby gespeel. Die gesin het in 2003, toe hy nog op skool was, na Kanada geëmigreer. Ná skool het hy ’n kontrak by die Glasgow Warriors in Skotland onderteken en hy speel vandag nog vir dié span. Hy en sy vrou van 10 jaar, Gillian, ’n Kanadees, woon tans in Skotland saam met hul drie kinders. 

CJ Stander  

Speel vir: Ierland 

CJ Stander. Foto: Gallo Images/ Getty Images
CJ Stander. Foto: Gallo Images/ Getty Images

CJ (29) het al meer as 40 toetse vir die Iere gespeel en hy word gereeld een van die beste losvoorspelers ter wêreld genoem. 

Dié boorling van George het ná skool vir die Blou Bulle gespeel en is ook vir die o.20- Springbokspan gekies. Hoewel hy in 2012 na ’n Bokoefenkamp genooi is, is hy nooit vir die Springbokke gekies nie. 

Hy het later dié jaar 'n aanbod van die Ierse klub Munster en in 2016 sy burgerskap gekry.

Foto: Instagram
Foto: Instagram
 “My wortels lê in Suid-Afrika, en ek is trots daarop om ’n Suid-Afrikaner te wees. Maar Ierse rugby en die mense van Ierland het my deel van hul kultuur en gemeenskap laat voel,” sê hy oor sy aangenome land. “Ek sal altyd ’n Suid-­Afrikaner wees, maar ek gaan probeer om die beste Ier te wees wat ek kan.”


CJ en sy vrou, Jean-Marie, se eerstelingdogtertjie, Everli, is in Augustus gebore. Jean-Marie is die swemmer Ryk Neethling se suster.

WP Nel 

Speel vir: Skotland 

WP Nel. Foto: Gallo Images/ Getty Images
WP Nel. Foto: Gallo Images/ Getty Images

Die 33-jarige boorling van Loeriesfontein het gekwali­fiseer om vir Skotland uit te draf omdat sy grootouers Skotse wortels het.

Voor hy in 2012 Skotland toe getrek het, het hy vir die Boland Kavaliers, Westelike Provinsie, Cheetahs en Stormers gespeel. 

“My lewe is hier,” het hy in 2018 aan die BBC gesê. “Ek het my ma verloor in die jaar toe ons na Skotland verhuis het; buiten my pa is daar dus nie baie wat my nog aan Suid-­Afrika verbind nie. Wanneer ons ook al kan, gaan kuier ons vir hom.”

Foto: Instagram
Foto: Instagram

Toe WP en sy vrou, Alana, in Skotland aankom, was sy swanger met hul eersteling, en nou het die gesin al tot vyf gegroei – al drie kinders is in Skotland gebore. 

Die stut vertel hy het per ongeluk in rugby beland nadat hy op skool meer in toutrek belanggestel het. Hy het ná skool landbou studeer en gedink hy sal van daar af teruggaan plaas toe om te boer. 

Maar vandag het hy al meer as 30 toetse vir Skotland gespeel.

Wie is die res?
  • Braam Steyn (27) Italië. Hy kom van Cradock in die Oos-Kaap en het in 2012 vir die Junior Springbokke gespeel.
  • Allan Dell (27) Skotland. Allan kom van Humansdorp in die Oos-Kaap en het vir die Sharks se o.19-span en die Junior Springbokke uitgedraf.
  • Hanco Germishuys (23) VSA. Hanco is oorspronklik van Kimberley in die Noord-Kaap.
  • Ruben de Haas (21) VSA. Hy kom van George in die Wes-Kaap en het voorheen vir die Cheetahs se Vodacombekerspan gespeel.
  • Shaun Davies (30) VSA. Shaun kom van Durban.
  • Kotaro Matsushima (26): Japan. Kotaro is oorspronklik ’n Pretorianer en het voorheen vir die Sharks se o.21-span gespeel.
  • Wimpie van der Walt (30): Japan. Hy is van Brits in Noordwes en het voorheen vir die Southern Kings uitgedraf.
  • Jean Kleyn (26): Japan. Jean kom van Johannesburg en het voorheen vir die Stormers gespeel.

  • Bronne: iol.co.za, ESPN Rugby, Sport24.com, Wikipedia.org, sarugbymag.co.za, rugbyworld.com, rugby.com.au, bbc.co.uk
Kom neem deel aan die gesprek
Volg Huisgenoot op InstagramTwitterFacebookWhatsApp en teken gerus in op ons nuusbriewe.