Hulle het haar “La Divina” genoem – goddelik. Foto
Hulle het haar “La Divina” genoem – goddelik. Foto: Getty Images/Gallo Images

Hulle het haar “La Divina” genoem – goddelik. En Maria Callas het heelhartig met haar aanhangers saamgestem.

“Ek is deur die hand van God aangeraak,” het die glansryke vrou gesê wat as die beste sopraan van haar tyd geloof is.

Maar bewerings in ’n nuwe biografie wat op Maria se voorheen ongepubliseerde briewe gegrond is, laat dit klink of die diva eerder vervloek was. Buite die kollig wil dit voorkom haar lewe was een van lyding en verraad.

Sy is gereeld deur haar minnaar, die Griekse skeepsmagnaat Aristotle Onassis, bedwelm sodat hy haar seksueel kon misbruik; deur haar man en pa bedrieg; en deur haar ma gedreig wat boonop van haar ’n prostituut wou maak.

So skryf die biograaf Lyndsy Spence in Cast a Diva: The Hidden Life of Maria Callas.

Weg van die verhoog en die swymelende gehore was sy allesbehalwe in beheer: Sy was die slagoffer van haglike omstandighede.

Byna 30 biografieë is al oor Maria geskryf. Maar Lyndsy vertel sy het nuwe insigte in haar lewe gekry uit bokse vol briewe wat tot onlangs ongelees in ’n argief by die Stanford-universiteit in Kalifornië geberg was.

Maria se briewe aan haar man en agent, Giovanni Battista Meneghini, wys “sy was werklik onderdanig en gehoorsaam aan hom, en ek het begin besef dit is regtig wie sy as ’n vrou was,” sê Lyndsy.

“Sy was ’n baie neerbuigende mens, ’n sterk teenstelling met Callas die diva. En wanneer jy so ’n geneigdheid het, sal jy natuurlik die mishandelaars aantrek.”

En die “mishandelaars “ sluit Giovanni, Aristotle en selfs Maria se ouers in.

In haar verhouding met Aristotle was die vrou met die stem van ’n engel in die kloue van ’n duiwel.

Uit die dagboeke van ’n hegte vriend van Maria het Lyndsy ontdek Aristotle het die sangeres Mandrax ingegee om haar onder ’n soort verdowing te plaas. Sy het toe aan dié dwelm verslaaf geraak. Hy het haar glo ook Nembutal ingegee, ’n verdowingsmiddel wat destyds vir narkose gebruik is.

Die operasangeres het jare lank ’n affair met die
Die operasangeres het jare lank ’n affair met die Griekse skeepsmagnaat Aristotle Onassis gehad. Foto: Getty Images/Gallo Images

Sy het dit vrywillig ingeneem. Maar met Maria feitlik bewusteloos kon Aristotle – wie se “perverse” seksuele versoeke selfs die berugte Paryse bordeeleienaar Madame Claude geskok het – die sangeres seksueel misbruik op maniere wat sy nie andersins sou toe­gelaat het nie, hou Lyndsy vol.

Sy beweer Maria het destyds reeds geestesgesondheidsprobleme gehad terwyl sy die dubbele druk van haar loopbaan en ouderdom moes hanteer. Boonop moes sy uitvind dat haar minnaar gereeld van Madame Claude se “meisies” gebruik gemaak het en selfs die slaapkamer in sy huis in Parys soos ’n bordeel laat versier het.

Aristotle het aangevoer die dekor moes vroue herinner aan wat hulle eintlik is.

“Die beste vrou is ’n vrou wat jy nooit weer sien nie,” was een van sy guns­telingsêgoed.

Hy was vulgêr en kru, maar Aristotle het ’n sterk seksuele aantrekkingskrag uitgestraal wat Maria nie kon weerstaan nie. Hy het ’n voorkeur vir uitgeteerde vroue met ’n androgene voorkoms gehad.

Maria, wat deur haar lewe aan eet­steurings gely het, se reaksie was om haar gewig met ’n gevaarlike kitsdieet te probeer beheer. Sy het elke kriesel kos gemeet en self brandmaer geword sodat sy “aan sy ideaal kon voldoen”.

Lyndsy sê sy kan ook die gerugte dat Maria en Aristotle saam ’n kind gehad het eindelik nek omdraai. Die sangeres se briewe aan haar prokureurs wys sy was inderdaad vroeg in 1960 swanger, maar dat sy toe ’n miskraam gehad het.

Sy was in daardie stadium nog met Giovanni getroud, en hy het gedreig om haar kind van haar af weg te vat, sê Lyndsy.

“Maar vier maande later het sy ’n miskraam gehad en daar was geen kind nie.”

Terwyl Maria by Aristotle was, het sy nog ’n miskraam gehad en ook ’n aborsie ondergaan.

Maar in 1968 het hy haar gelos vir die beeldskone Jackie Kennedy, die weduwee van die vermoorde Amerikaanse pre­sident John F. Kennedy.

Hy het haar gelos vir Jackie Kennedy, met wie hy i
Hy het haar gelos vir Jackie Kennedy, met wie hy in 1968 getroud is. Foto: Getty Images/Gallo Images

Maria se lewensverhaal is een van ellende en vernedering, verbloem onder ’n dun lagie loopbaansukses en applous, glans en rykdom.

Sy is in 1923 in New York as Sophie Cecilia Kalos gebore. Haar ouers, George en Litsa, was arm Griekse immigrante. Sy is as jong kind deur haar ouers mishandel, maar tog kon sy op die ouderdom van 10 al arias uit die opera Carmen sing. Haar ma het haar gedurig voor ander mense laat optree.

Maria, wat op 13 met musieklesse in Griekeland begin het, het die soldate oorreed om haar te betaal om vir hulle te sing, eerder as om by hulle te slaap.

In 1937 het haar ouers se huwelik begin verbrokkel. Haar ma het toe met Maria en haar ousus Jackie na Athene teruggekeer. Die Tweede Wêreldoorlog het kort daarna uitgebreek, en ná die Duitse besetting van Griekeland het Litsa haar lyf aan soldate verkoop om kop bo water te hou. Sy het haar dogters aangepor om dieselfde te doen.

Lyndsy sê Jackie het haar ma gehoorsaam. Maar Maria, wat op 13 met musieklesse in Griekeland begin het, het die soldate oorreed om haar te betaal om vir hulle te sing, eerder as om by hulle te slaap. Tog het sy haar ma nooit vergewe nie, vertel Lyndsy.

Met die aanbreek van vrede in 1945 het Maria na Amerika teruggetrek om met haar pa herenig te word. En sy het ’n oudisie vir die Metropolitaanse Opera in New York geslaag.

Nadat Maria ’n ster geword het, het haar ma haar emosioneel probeer afdreig met dreigemente dat sy haar eie lewe gaan neem. Sy het ook gedreig sy sal aan die media uitlap dat Maria haar verwerp het.

Sy het voor een repetisie al haar klere stukkend geskeur. Maar in haar privaat lewe het sy kwesbaar gebly teenoor die mense wat haar toegeneent­heid betoon het.

Ook haar pa, wat ’n apteek in New York geopen het, het skaamteloos op haar geteer. Hy het selfs op ’n keer voorgegee hy is sterwend om haar emosioneel te manipuleer.

Met repetisies vir die verhoog en in haar kleedkamer was Maria baasspelerig en buierig.

Sy het voor een repetisie al haar klere stukkend geskeur. Maar in haar privaat lewe het sy kwesbaar gebly teenoor die mense wat haar toegeneent­heid betoon het.

“Met goedhartigheid kan mense enig­iets uit my kry, my dwaas maak,” het sy al erken.

Lyndsy sê Maria was “altyd op soek na die liefde wat haar ouers versuim het om te gee”.

Sy het gehoop sy sou dit kry by Giovanni, wat as die een ordentlike man in haar lewe uitgebeeld is. Maar Lyndsy sê hy het haar ook erg uitgebuit.

Haar man, Gio­vanni Battista Mene­ghini, het haar
Haar man, Gio­vanni Battista Meneghini, het haar loopbaan streng in toom gehou in die tyd dat hulle getroud was. Foto: Gallo Images/Alamy

Maria was 23 en so platsak sy kon nie eens ’n jas bekostig nie toe sy Giovanni by ’n operafees in Verona, Italië, ontmoet.

Sy swaer was die fees se amptelike dokter en op die uitkyk vir mooi sangeresse om die bejaarde sakeman te vergesel.

Al was Giovanni 27 jaar ouer as sy, is die twee in 1949 getroud, en hy kry erkenning daarvoor dat hy haar liefgehad en haar loopbaan gekoester het.

Maar Lyndsy sê Maria “wou altyd uittree en ’n baba kry” – maar dat Giovanni, wat ook haar agent was, haar laat aanhou werk en jare lank bedrieg het.

Hy het baie van haar geld in ’n Switserse bankrekening opgegaar of gebruik om sy eie skuld af te betaal. Toe sy agter­kom wat hy gedoen het, het sy hom as haar “pimp” beskryf.

“My man val my steeds lastig nadat hy my van meer as die helfte van my geld beroof het deur alles in sy naam te sit sedert ons getroud is,” skryf sy in ’n brief. “Ek was ’n dwaas om hom te vertrou.”

Hy het haar ook in die slaapkamer verkul deur ’n string jong soprane van 19 of 20 jaar oud te verlei. Maar Lyndsy ontken die gerugte dat hy en Maria nooit saam geslaap het nie.

En toe val Maria vir die charismatiese rokjagter Aristotle, wat hom daarop geroem het dat hy elke vrou wat hy ontmoet as ’n moontlike minnares beskou.

Maria was mal oor Aristotle ten spyte van die mani
Maria was mal oor Aristotle ten spyte van die manier waarop hy haar behandel het. Foto: Getty Images/Gallo Images

Hulle het mekaar in 1957 by ’n bal in Venesië ontmoet. Maria het hom aanvanklik as onaantreklik en pynlik sorg­saam bestempel. Maar die bosse en bosse blomme met kaartjies van “Die ander Griek” het aanhou kom.

Later het sy erken sy was bly om aandag te kry van “ ’n man wat nie meer jonk is nie, maar wat steeds sexy is en vroue nog jag en bekruip”.

Lyndsy sê hulle het in die somer van 1958 die eerste keer intiem verkeer toe Maria en haar man saam met die voormalige Britse premier Winston Churchill en sy gesin drie weke lank op die weelderige Onassis-jag, Christina O, deur die magnaat en sy beeldskone vrou, Tina, onthaal is.

Aristotle het so ver gegaan as om die kroegstoele op die boot met die voor­velle van minkewalvisse te laat oortrek sodat hy vir sy vroulike gaste kon sê: “Mevrou, jy sit op die grootste penis ter wêreld.”

Churchill se familie het die skaamte­lose Maria verafsku, veral toe sy die bejaarde staatsman met ’n lepel roomys gevoer het. Haar diva-gedrag het teen daardie tyd ondraaglik geword en sy skryf aan vriende: “Ek hou daarvan om saam met Winston Churchill te reis. Dit verlig my van die las van my eie gewildheid.”

Toe hulle eers van hul onderskeie eggenote verlos was, het Maria gou die ware Aristotle begin sien. Hy het haar slaafse toewyding aan hom met ’n mengsel van afkeer, gewelddadige woedeuitbarstings en ’n gebrek aan belangstelling beantwoord.

Hy het steeds ander vroue gesien – onder andere Jackie Kennedy se suster Lee Radziwill.

“Dis nie moeilik om oorrompel te word nie. Om met die gevolge saam te leef is die moeilike deel,” het Maria later opgemerk.

“Mense dink dis ’n groot liefdesverhaal,” sê Lyndsy van die Onassis-Callas-­verhouding. Maar sy vertel die magnaat het Maria op ’n keer “amper doodgemaak, so hard het hy haar geslaan”.

Die sangeres het die geweld – wat altyd met duur geskenke of juweliersware opgevolg is – afgemaak.

“Sy het gesê dit was deel van sy karakter, en sy het baie bevoorreg gevoel dat hy homself by haar kon wees,” sê Lyndsy.

Maria was in haar laaste jare baie een­saam nadat
Maria was in haar laaste jare baie een­saam nadat ’n gesondheidsprobleem haar loopbaan gekelder het. Foto: Getty Images/Gallo Images

Maria het gedoen wat hy ook al wou hê, sê haar biograaf. In haar boek vertel sy Maria het “hom na ontkleevertonings vergesel en op sy versoek niks buiten haar diamante in die bed gedra nie”.

Maria was reeds op pad na dwelm­verslawing voor sy met Aristotle deurmekaargeraak het. In New York het sy die berugte Max Jacobson, bekend as Dr. Feelgood, ontmoet. Hy het bekendes onder meer met inspuitings behandel om hul uithouvermoë te verhoog.

Ongelukkig was sy “vitamieninspuitings” vol amfetamiene en metamfetamien en “uiters verslawend”.

Terwyl Maria skynbaar ook aan Aristotle verslaaf was, het hy haar onsekerheid oor veral haar gewig uitgebuit. Sy het haar daarom “soos ’n angstige skoolmeisie” om hom gedra.

Maar met ander mense kon Maria uiters genadeloos wees, soos met haar grootste mededinger in die operawêreld, Renata Tebaldi. Sy het dié sopraan se stem volgens ’n staaltjie met Coca-Cola vergelyk, terwyl sy haar eie as sjampanje beskryf het.

Maria het berigte van hul wedywering in die 1950’s as mediapraatjies afgemaak, maar Lyndsy sê haar ongepubliseerde briewe – veral een waarin sy Renata beskryf as “so gemeen en slinks soos kan kom” – bewys die teendeel.

Teen die tyd dat Aristotle haar in 1968 vir JFK se weduwee, Jackie Kennedy, gelos het, was sy verhouding met Maria selfs in die openbaar uiters toksies.

Hy het haar eenkeer voor geskokte gaste deur die gesig geslaan en geskree: “Jy is net goed vir seks. En jy is nie eens meer goed daarvoor nie.”

Tog het hy minder as ’n maand nadat hy op sy privaat Griekse eiland, Skorpios, met Jackie getrou het Maria gesmeek om hom weer te sien. Sy het toegegee nadat hy gedreig het om met sy Rolls-Royce deur haar veiligheidshekke te ry.

“Hy het na haar slaapkamer gegaan, hom uitgetrek en in die bed geklim, maar sy het hom uitgesmyt,” skryf Lyndsy. “Sy het vir een oomblik die krag gehad om hom te weerstaan.”

Maria het later ’n affair aangeknoop met die tenoor Giuseppe di Stefano, saam met wie sy vele operas gesing het. Maar sy moes daarmee tevrede wees om sy liefde met sy familie te deel.

Nadat Aristotle haar gelos het, het sy ’n affair m
Nadat Aristotle haar gelos het, het sy ’n affair met die te­noor Giuseppe di Stefano gehad. Foto: Gallo Images/Alamy

Namate haar stem agteruitgegaan het, het Maria na haar huis in Parys uitgewyk. Sy was aan pille verslaaf en het haar dae verwyl deur televisie te kyk en roomys te eet, met haar suster Jackie as gesel­skap.

Lyndsy sê haar laaste jare was ’n “martelende roetine van eensaamheid, selfondersoek en berou”.

Sy is in 1977 ná ’n hartaanval dood. Sy was net 53 jaar oud.

Die biograaf het ’n neuroloog opgespoor wat Maria voor haar dood behandel het, en dié het onthul sy het lank aan dermatomiositis gely. Dit is ’n inflammatoriese siekte wat die senustelsel aantas en spierswakheid veroorsaak.

Maar destyds in die 1950’s het dokters haar afgemaak as iemand wat aan ipekonders ly.

Persoonlike items van Maria wat opgeveil is. Foto:
Persoonlike items van Maria wat opgeveil is. Foto: Getty Images/Gallo Images

Lyndsy sê as Maria behoorlik behandel is, sou dit nie vir haar nodig gewees het om haar te wend tot die slaappille wat haar lewe vernietig het nie; sy sou ook nie haar sangstem verloor en haar loopbaan voortydig moes beëindig het nie.

“Haar lewe was vol tragedie,” sê sy.

Op die verhoog was sy La Divina – maar buite die kollig was sy altyd maar die ewige slagoffer.  

’n Nuwe biografie maak verstommende open­barings o
’n Nuwe biografie maak verstommende open­barings oor Maria Callas se lewe.

Cast a Diva: The Hidden Life of Maria Callas is beskikbaar by amazon.com

© DAILY MAIL
Kom neem deel aan die gesprek

Volg Huisgenoot op Facebook, Twitter, Instagram en TikTok, en teken gerus in op ons nuusbriewe