Vra jy ’n hipster hoe hy sy baard versorg, gaan jy waarskynlik ’n baie lang, uitgebreide antwoord kry wat onder meer baardolies, barbiere en baardkammetjies insluit. 

Maar hiervan hoor jy niks wanneer jy die man met die weligste baard in die Afrikaanse musiekbedryf uitvra nie.

Vir Jo Black is daar net een geheim: sy dogtertjies se haaropknapper.

“Hierdie baard is die minste moeite ooit,” vertel Jo agter die Huisgenoot-musiekverhoog by die Klein Karoo Nasionale Kunstefees op Oudtshoorn, waar hy vanjaar opgetree het. “Ek is maar erg lui, maar ek gebruik my dogterjies se detangling-opknapper, en dit haal al die koeke uit.”

Hy kam en blaas elke oggend sy dogters, Dinieke (9) en Miané (7), se hare droog en behandel dan sommer by baard ook. Hy sny dit ook self en sal nie sommer na ’n barbier toe gaan om dit te doen nie. “Ek blaas hom droog, en dan sal ek hom so kyk om te sien watter punte te lank is.” 

Hy maak ook staat op sy vrou, Debbie, om vir hom te sê as sy dink sy baard is onnet.

“Daar is niks fancy aan my baard nie,” sê Jo en glimlag. “Ek het hom, want hy steek ’n dubbelken weg. En verder is dit net luigeit.”