Geen wonder die Glam Guru Hannon Bothma en sy lewensmaat van die afgelope 27 jaar se intieme troudag op 25 Oktober was so spoggerig nie.

Hannon het vroeg opgestaan om al die pienk rose en Stargazer-lelies “wat ek die vorige dag gekoop het te rangskik”. 

Julius Swart en Hannon Bothma. Foto: Michelle Bailie.

“Ons huis is altyd vol blomme, maar ek wou dit ekstra mooi maak en dit was ook so,” vertel hy.

Die geleentheid is “super stil” gehou en baie min het daarvan geweet. “Al sou dit net 'n handjievol mense wees, wou ek die dag en die seremonie so mooi en spesiaal as moontlik maak,” vertel Hannon aan Huisgenoot.

Die dag se verloop

“Ons twee getuies en vriendinne, Michelle Bailie en Wourine Brink, was sommer al vroeg daar om te voorkom dat ons angstig raak. Die plan was dat dit net hulle twee sou wees wat die seremonie bywoon,” vertel Hannon.

“Dis snaaks hoe diere opwinding aanvoel, want ons twee Pekinese hondjies, Bella en Bessie, was uit hulle velle van opwinding.”

10:45 Hannon het afgegaan en die Anglikaanse priester, Owen Franklin, ontmoet om net weer vir oulaas deur die seremonie te gaan.

10:55 Julius maak “uiteindelik sy verskyning” en laat weet vir Hannon hy het sopas met vier van hulle vriende gepraat wat onmiddellik uit hul werksvergaderings gestap het om ook by die verrigtinge aan te sluit.

11:20 Almal het op die eetkamerstoele gesit wat Hannon-hulle uitgepak het en Owen het begin om die trouformulier af te lees. “Ons was albei verbaas dat ons so emosioneel was toe ons uiteindelik die ‘ja-woord’ moes sê en toe die priester met 'n gebed afsluit.”

“'n Vriendin, Liana van Wyk, het spontaan 'n heildronk met die mooiste boodskap op ons ingestel. Daarna het ons huishulp, Lenah Malaodi, ook van die kans gebruik gemaak en luid verkondig sy wil asseblief ook 'n toespraak maak.”

Sy het die Here plegtig en met 'n glas sjampagne in die hand gevra dat Hannon en Julius tog asseblief lank gespaar sal bly sodat sy nog lank by ons kan werk, vertel Hannon.

Hul huishulp, Lenah Molaodi, stel ’n heildronk in. Foto: Michelle Bailie.

Later die aand het die tweetjies vir aandete saam met vriende gegaan.

En hoekom ná 27 jaar nou afhaak?

Julius Swart, die Anglikaanse priester Owen Franklin en Hannon Bothma. Foto: Michelle Bailie.

“Ons is albei romantiese siele en nou in ons 50's wil ons alle los drade vasmaak,” sê Hannon.

“Die afgelope maand het ons soveel familielede en vriende aan die dood afgestaan. 'n Viering van die liefde deur 'n huwelik is die ideale simbool om mekaar en ander te herinner en bewus te maak dat ons eintlik net hierdie oomblik en vandag het om liefde en menswees te vier.”

Hulle teken die trouregister saam met die Anglikaanse priester Owen Franklin. Foto: Michelle Bailie.

Hulle het net voor Julius se verjaarsdag op 28 September begin praat van trou. “Dit sou ideaal wees om dit op sy verjaarsdag te kon vier, maar sy ma, Julia, is kort voor sy verjaardag oorlede.”

Die paartjie gaan nie nou wittebrood hou nie.  

Julius Swart en Hannon Bothma. Foto: Michelle Bailie.

“Die tyd van die jaar is daar 'n bottelnek met soveel projekte wat moet klaarkom, so aan 'n wittebrood kan ons eintlik nie op die oomblik dink nie. Ons het sopas in ons huis ingetrek en dis so lekker om tyd daar deur te bring dat ons baie eerder net daar wil bly en vir die volgende paar weke gereeld vriende gaan uitnooi om ons troue saam met ons te vier.”

Foto: Michelle Bailie.

“Ek het nie gedink ek gaan anders voel ná die troue nie, maar ek ervaar tog 'n groot mate van kalmte en berusting. Ek dink beslis dinge is anders en ek voel asof daar 'n seëning op ons verhouding uitgespreek is.”