Dis die soort troue waaroor die wêreld maar kan asem ophou.

Want as die eersteling van een van die planeet se suksesvolste glanspaartjies met die dogter van ’n miljardêr afhaak, weet jy dit gaan ’n skouspel soos min wees.

Toe David en Victoria Beckham se oudste seun, Brooklyn (21), die aktrise Nicola Peltz (25) onlangs die jawoord vra, het hy ’n verloofring met ’n smaragsnitdiamant aan haar elegante ringvinger geglip.

Die waarde van die ring? Glo ’n volle R3,3 miljoen. ’n Aardige bedraggie vir ’n bruidegom sonder ’n vaste werk . . .

Maar hoe dan anders vir Posh en Becks se seun?

Die aktrise het haar peperduur verloofring op Inst
Die aktrise het haar peperduur verloofring op Instagram gewys. Foto: Instagram

Nadat die jong paartjie in Januarie amptelik aan die wêreld vertel het hulle is verlief, het Brooklyn sy fotografie-internskap in Londen laat vaar en New York toe getrek om by sy liefie te wees.

Hy probeer nou sy loopbaan as vryskutfotograaf op dreef kry. Ondanks die feit dat hul seun eers onlangs mondig geword het, is Posh en Becks oënskynlik in die wolke.

“Ons kan nie gelukkiger wees dat Brooklyn en Nicola gaan trou nie,” het Posh op Instagram laat hoor.

’n Familievriend sê dis nie net vertoon vir aanhangers in die sosiale media nie – die paartjie “keur beslis die verlowing goed”.

“Nicola is baie gewild onder die hele Beckhamgesin. David en Victoria het vir Brooklyn vertel hoe baie hulle van haar hou. Hulle ondersteun sy besluit ten volle.”

Brooklyn is die oudste seun van David en Victoria.
Brooklyn is die oudste seun van David en Victoria. Foto: Instagram

Posh sê glo Nicola het haar seun “laat bedaar”.

“Sy was bekommerd dat hy in ’n regte rokjagter gaan ontaard,” vertel die vriend.

“Victoria dink Nicola is die beste ding wat met Brooklyn kon gebeur.”

Nicola het haar eerste groot rol in 2010 losgeslaan as Katara in die fliek The Last Airbender en was ook te sien in die fliek Transformers: Age of Extinction.

Die jong verloofdes se begroting vir die troue is glo $5 miljoen – sowat R83 miljoen – en hulle wil twee glansmakieties hou: die een in Engeland, die Beckhams se tuisland, en die ander een in Florida, Amerika.

En daardie duiselingwekkende koste – is dit dan nie verregaande nie? Wel, as jy soos die Beckhams saam sowat R7,5 miljard werd is, is die uitgawes seker ’n druppel in die oseaan.

Boonop sal Nicola se familie moontlik die tradisie volg dat die bruid se ouers die bruilof se uitgawes dek.

Maar vir hulle is dit waarskynlik allermins ’n kopseer, want haar familie se fortuin is selfs groter as die Beckhams s’n . . .

Nicola se ouers

Nicola se pa, Nelson Peltz (78), is volgens Forbes meer as R25 miljard werd. Nelson, wat sy universiteitstudie opgeskop het, het sy familie se klein bevrorevoedselfirma in Brooklyn, New York, tot een van die grootste verspreiders van bevrore kos in Amerika omskep.

Sy toekomstige skoonouers, Nelson Peltz en Claudia
Sy toekomstige skoonouers, Nelson Peltz en Claudia Heffner, is selfs ryker as sy eie ouers. Foto: Getty Images/Gallo Images

Hy was ook medestigter van ’n beleggingsbestuursfonds wat belange in groot konglomerate het, insluitend Proctor and Gamble, Heinz, Cadbury, Kraft Foods en die Amerikaanse kitskoskettinggroep Wendy’s.

Nelson is ’n ondersteuner van Donald Trump en het jare lank naby die president se Mar-A-Lago-oord in die spogbuurt Palm Beach in Florida gewoon.

Wyle Jeffrey Epstein, wat ook ’n huis in Palm Beach gehad het, was een van sy kennisse. Nelson se telefoonnommer is onder die duisende in die veroordeelde seksoortreder se “swart notaboek” en hy was saam met Jeffrey in ’n konsortium van beleggers wat in 2003 New York Magazine wou koop.

Nelson het in 1985 met die voormalige model Claudia Heffner (65), sy derde vrou, getrou. Sy is die ma van agt van Nelson se 10 kinders – onder meer Nicola – en volgens mense in die binnekring is die fyngeboude blondine ’n ywerige filantroop met ’n groot versameling diamantjuwele; iemand met wie Posh waarskynlik goed oor die weg sal kom.

Die Peltz-paleise

Die Beckhams se huis van R650 miljoen in Holland Park in Wes-Londen en hul plaashuis van R130 miljoen in die Cotswolds lyk maar vaal teen die Peltz-familie se vele wonings. High Winds, hul mega-woning in Bedford, New York, spog met ’n meer, waterval, ’n binnenshuise yshokkiebaan en selfs ’n swerm poue.

Toe hy nog voltyds gewerk het, het Nelson per helikoper na die nabygeleë Manhattan gependel. Die familie het ook ’n paleisagtige woning, Montsorrel, in Palm Beach, Florida.

nelson peltz
Die familie het ook ’n paleisagtige woning, Montsorrel, in Palm Beach, Florida.

Nelson het glo die erf oorkant die pad gekoop sodat hy ’n tennisbaan kon bou, maar toe hoor hy hy moet eers ’n huis bou voor hy die baan mag bou.

Vriende wat kom kuier, bly nou in daardie huis, en almal kuier glo graag saam om ’n potjie tennis. Klink of Posh en Becks maar aan hul afslane sal moet werk.

Die broers en suster

Matthew Peltz

Matthew Peltz
Matthew Peltz

Dié slim sakeman (36) is ’n vennoot en senior ontleder by sy pa se beleggingsbestuursfirma. Hy en sy vrou, Hallie Dunn, het ’n babaseuntjie, Asher, en woon in Palm Beach, Florida, in ’n strandhuis met ses slaapkamers, sewe badkamers, ’n masseerkamer en swembad.

Will Peltz

Will Peltz. Foto: Getty Images/Gallo Images
Will Peltz. Foto: Getty Images/Gallo Images

Nicola is nie al akteur in die familie nie. Ouboet Will (34) het in 2009 Los Angeles toe getrek, en ná ’n paar klein rolletjies het hy in flieks soos Men, Women & Children, Sierra Burgess Is a Loser en Time Freak gespeel. Hy het ook ’n rol in die televisiereeks Euphoria gehad.

Brad Peltz

Brad en Nicola. Foto: Instagram
Brad en Nicola. Foto: Instagram

Brad (nou 30) was twee jaar ’n beroepsyshokkiespeler in Kanada. Hy het daarna Mymo, ’n outomatiese skeduleringstelsel vir mediese afsprake, gestig. Die tegno-entrepreneur deel dikwels foto’s van hom saam met mense soos Elon Musk en Cindy Crawford.

Brittany Peltz Buerstedde

Brittany Peltz Buerstedde. Foto: Instagram
Brittany Peltz Buerstedde. Foto: Instagram

Nicola se enigste suster was ’n mededingende sierskaatser en het rolprentwese aan die New York-universiteit se eksklusiewe Tisch-skool studeer. Deesdae bestuur Brittany (29) die kinderontwerpersreeks Leah + Rae en is getroud met Franz Buerstedde, besturende direkteur van die Rhône Group. Hulle het drie jong kinders.

Diesel Peltz

Nicola en haar broer Diesel. Foto: Instagram
Nicola en haar broer Diesel. Foto: Instagram

Dié 27-jarige tegno-entrepreneur verskyn op Forbes se “30 Under 30”-lysie in die verbruikerstegnologieafdeling. Hy is die uitvoerende hoof van die sosiale netwerkmaatskappy Twenty, ’n app wat “vriende help om in die regte lewe te ontmoet deur toekomstige kuiers te beplan”, lui die webtuiste.

Volgens Forbes het die maatskappy onlangs met die liggingsgebaseerde netwerk Mappen (met meer as 2 miljoen verbruikers) kragte saamgespan.

Zachary en Gregory Peltz

Brooklyn by Zachary Peltz. Foto: Instagram
Brooklyn by Zachary Peltz. Foto: Instagram
Greg Peltz. Foto: Instagram
Greg Peltz. Foto: Instagram

Nicola se 17-jarige tweelingbroers het in Mei 2016 die nuus gehaal toe hul pa $2 miljoen vir hul barmitswa opgedok het. Die geleentheid is by die eksklusiewe Pierre-hotel in New York gehou, en honderde gaste is met steltlopers, musiekgroepe, sangers, ’n hokkiebaan, ’n basketbalring en videospeletjies bederf.

BRONNE: DAILYMAIL.CO.UK, TATLER.COM, PAGESIX.COM, STANDARD.CO.UK, FORBES.COM, FASHIONWEEKDAILY.COM, THESUN.CO.UK; FOTO'S: GALLO IMAGES/GETTY IMAGES, INSTAGRAM (@BROOKLYNBECKHAM, @NICOLAANNEPELTZ, @BRITTANYLEAHPELTZ, @ZACHPELTZ20), TWITTER/@GREGP41116