Op Maandag 14 Oktober, tydens hul eerste openbare verskyning sedert die aankondiging van Meghan se swangerskap, het die hertog en hertogin (37) van Sussex, wat tans op besoek is aan Australië, buite die Operahuis in Sydney met lede van die publiek gesels wat angstig gewag het om hulle te sien, berig People.

Terwyl die koninklike egpaar besig was om met die skare te gesels, het ’n negejarige krulkopmeisietjie, geklee in ’n T-hemp met die woorde “Girls Can Do Anything” daarop, die prins se aandag getrek.

Toe hy sien hoe baie sy na Meghan lyk, het hy vir die klein feminis gevra of sy nie dalk graag sy vrou wil ontmoet nie. Daarna het hy die voormalige ster van Suits nader geroep om met haar te gesels, berig Teen Vogue.

“Ons dink sy trek nogal na jou,” het iemand in die skare opgemerk, waarop die hertogin gereageer het: “Ek wou nou net presies dieselfde sê!”

Volgens E! News het Meghan bygevoeg sy hou baie van die meisietjie se T-hemp.

Harry was so opgewonde dat hy ingestem het om ’n foto te neem van sy vrou en haar klein ewebeeld.

Die koninklike paartjie sal na verwagting hul eie bondeltjie vreugde volgende jaar in die herfs (lente in Engeland) verwelkom.
 
Bronne: People, Teen Vogue, E! News