DIE KOEK

Die eienaar van die byderwetse Violet Bakery in Londen, Claire Ptak, het die troukoek gebak.

Meghan het destyds ’n onderhoud gevoer met dié Amerikaans gebore fyngebaksjef en kosskrywer vir haar leefstylblog, The Tig, wat intussen gestaak is.

Claire en haar span van ses bakkers het vyf dae lank in Buckinghampaleis aan die koek gewerk. Die gebak het uit koeke van verskillende groottes bestaan, elkeen op ’n goue staander.

Kensingtonpaleis het gesê die paartjie het Claire gevra om ’n koek te bak wat “die helder geure van die lente” bevat. Verskeie lae suurlemoensponskoek is met vlierblomstroop bedruip en geskei deur ’n vulsel wat met Amalfi-suurlemoensap gegeur is.

Volgens die paleis is 200 Amalfi-suurlemoene, 500 organiese eiers (van Suffolk), 20 kg botter, 20 kg suiker, 20 kg meel en 10 bottels Sandringham-vlierblomstroop vir die koek gebruik.

Claire het die skepping met botterroom en 150 vars blomme, onder meer rose en pinksterrose, Meghan se gunsteling, versier.

Die bakker Claire Ptak, wat die troukoek geskep het.

“Ek kan nie beskryf hoe verheug ek is dat ek gekies is om prins Harry en me. Markle se troukoek te maak nie,” het Claire in die aanloop tot die troue gesê.

“Die wete dat hulle dieselfde waardes deel as ek oor die herkoms van kos, volhoubaarheid, seisoenaliteit en veral geur, maak dit die opwindendste geleentheid waarvan ’n mens deel kan wees.”

Die koek is ná die troue deur Bridebook.co.uk, Brittanje se voorste troubeplannerswebtuiste, as "'n volmaakte weerspieëling van moderne neigings vir troukoeke" beskryf.

DIE SPYSKAART

Die 600 gaste wat na die kapel genooi is, het ná die seremonie afgesit na die St. George-saal by Windsorkasteel vir ’n feesmaal nommerpas vir ’n koning en aangebied deur die koningin.

’n Verskeidenheid kanapees is voorgesit, waaronder Skotse krefies toegedraai in gerookte salm met sitrus-crème fraîche; geroosterde Engelse aspersies in Cumbriaanse ham toegedraai; tuinertjie-panna cotta met kwarteleiers en suurlemoenverbena; tamatie-en-basilie- Tartaarse sous met balsemieke pêrels; geposjeerde hoender met liggies gekruide jogurt en geroosterde appelkose; en Windsor-lamskrokette met geroosterde groente.

Daar was ook "bakkiekos", kanapees in miniatuurbakkies. Dit het ingesluit hoenderrikassee met morieljesampioene en jong preie; ertjie-en-mentrisotto met truffelolie en parmesaanskyfies; en stadig geroosterde Windsor-varkpens met appelcompote en kaiings.

Dit is deur drie nageregkanapees opgevolg: sjampanje-en-pistachio- makrolletjies, lemoen-crème brûlée-tertjies en miniatuur-rabarberkrummel-tertjies.

Die middagfeesmaal van sowat 7 500 porsies kos is onder leiding van die koninklike sjef Mark Flanagan en ’n span van 25 berei.

Sjefs aan die werk in die kombuis van die Windsor­kasteel vir die middagete-banket in die St. George-saal. Onder die geregte was geroosterde Engelse aspersies in Cumbriaanse ham toegedraai en makrolletjies en tertjies.

Gaste het aan Pol Roger Brut Réserve-sjampanje en ’n verskeidenheid wyne en koeldranke geteug.

’n Spesiale drankie is vir die groot dag berei: ’n alkoholvrye appel-en-vlierblom-skemerkelkie gemaak van dieselfde vlierblomstroop wat in die troukoek gebruik is.

DIE UITNODIGINGS

Kensingtonpaleis het middel Maart die uitnodigings na die troue uitgestuur.

Dit is deur Barnard & Westwood gemaak. Dié maatskappy dra sedert 1985 die stempel van koninklike goedkeuring vir drukwerk en boekbindery.

Dit is op wit papier gedruk wat met goud gestempel en toe gepoleer is voor die rande afgeskuins en verguld is.

Boaan is die prins se wapen met sy drie vere in goue ink.

Die name van die gaste is later deur ’n kalligrafiedrukker ingevoeg.

Foto's: Gallo Images/Getty Images
Bronne: bbc.com, bbc.co.uk, berksandbuckslife.co.uk, bustle.com, cosmopolitan.com.au, countryliving.com, dailymail.co.uk, elle.com, eonline.com, express.co.uk, globalnews.ca, goodhousekeeping.com, harpersbazaar.co.uk, harpersbazaar.com, hello!, mirror.co.uk, newyorker.com, people.com, popsugar.com, vogue.com, vogue.co.uk, telegraph.co.uk, the guardian.com, the sun, thesun.co.uk, time.com, townandcountrymag.com, usatoday.com, windsor.gov.uk, wmagazine.com