’n Koninklike bron het onthul die koningin het prins Harry (34) oor Meghan se eise gemaan wat troudrag betref. 

Die 37-jarige wou ’n tiara met smaragde dra, maar dit is geweier aangesien die oorsprong van die kosbare stene nie nagespoor kon word nie, berig Daily Star

In sy nuwe boek, Charles at Seventy: Thoughts, Hopes and Dreams, sê die koninklike biograaf Robert Jobson Harry het tydens die beplanning van die troue toenemend geïrriteerd geraak en vir personeellede geskree: “Wat Meghan wil hê, kry Meghan.”

“Die oorsprong van die tiara kon nie vasgestel word nie. Daar was kommer dat dit oorspronklik van Rusland gekom het,” sê ’n koninklike bron.

“Daar was ’n vurige woordewisseling wat die koningin genoop het om met Harry te praat. Sy het gesê: ‘Meghan kan nie kry wat sy ook al wil hê nie. Sy kry die tiara wat deur my gegee is.’” 

Die 92-jarige wou ook weet hoekom dit vir die voormalige aktrise nodig was om ’n sluier te dra terwyl sy voorheen getroud was, berig The Sun

Meghan het toe ’n diamant-en-platinum-kopstuk gedra wat koningin Elizabeth II gekies het, berig Mirror.

Hertogin Kate het glo ook later oor die behandeling van koninklike personeel met Meghan koppe gestamp. 

“Meghan kan moeilik wees. Sy het baie hoë standaarde en is gewoond daaraan om in ’n Hollywood-omgewing te werk,” verklap die bron.

“Die boodskap van die koningin was dat Meghan daarop moet let hoe sy met personeellede praat en dat sy die familieprotokol moet nakom,” voeg die bron by. 

Bronne: Mirror, Daily Star, The Sun